Bladsye

Vrydag, 14 Desember 2012

Materialistiese Ateïsme

Die gesprek oor die voor- en nadele van godsdienstige idees het sedert 2005 begin momentum kry toe sogenaamde militante ateïstiese skrywers soos o.a. Richard Dawkins, Sam Harris, Christopher Hitchens en Daniel Dennett, se uitgesproke kritiek teen godsdiens, veral Westerse mense se aandag begin fokus het op die wandade wat in die naam van Godsdienstige Fundamentalisme gepleeg is. Daar het selfs in 2009 'n film met die naam Religulous verskyn waarin die spot gedryf is met sekere godsdienstige gedagterigtings en wat deur die ateïstiese komediant Bill Maher, aangebied is.

Wanneer sterrekundiges en bioloë hul sintuiglike waarnemings as hulpmiddels gebruik om gevolgtrekkings te maak, verklaar hulle dikwels dat lewe per toeval op die aarde ontstaan het en dat die ganse werklikheid as geheel, eintlik geensins “bekommerd” is oor die welstand van die mensdom nie. Die mensdom is dus volgens hulle, 'n toevallige byproduk van basies sinnelose prosesse. Hulle wys daarop dat daar heelwat meer pyn en lyding in die wêreld is as geluk en plesier. Daar is ook derduisende spesies wat alreeds uitgesterf het. Indien daar 'n Intelligente Ontwerper is, het Hy/Sy/Dit nogal baie onnodige vermorsing laat plaasvind. Wat is nou eintlik die funksie van 'n groot gedeelte van die heelal, indien daar geen lewende wesens daarbinne is wat deur miljoene sonnestelsels, soortgelyk aan ons eie sonnestelsel, onderhou word nie? Op die oog af wil dit dus voorkom asof die ganse werklikheid maar basies sinneloos is en dat die lewe hoofsaaklik handel oor sterker, slimmer en/of meer aanpasbare mense wat misbruik maak van hul minder-bevoorregte medemense. 'n Siniese aanmerking wat 'n vriend van my 'n ruk gelede gemaak het dat hy amper nooit 'n “lelike” vrou in 'n duur spogmotor sien rondry nie, het my weereens herinner aan hierdie mistroostige wêreldbeskouing.

Dit wil ook nie voorkom asof mense op 'n manier spesiaal is omdat hulle kwansuis na die “beeld van God” geskape is nie. André Comte-Sponville verklaar in sy boek, The Book of Atheist Spirituality, dat een van die hoofredes waarom hy sy geloof in God verloor het, die feit is dat die meeste mense maar redelik middelmatig (Engels: mediocre) is. Op bladsye 118 en 119 sê hy o.a.: “...the more I get to know them [human beings], the less I can believe in God. Let's say I don't have a sufficiently lofty conception of humanity in general or myself in particular to believe that a God could be at the origin of this species and this individual. Everywhere I look, there is too much mediocrity, too much pettiness,...”. Terwyl elke mens tog op 'n manier uniek is, is dit ook 'n voldonge feit dat die meeste mense soos 'n trop skape, onnadenkend die mees gewilde idees navolg. Daar was ook nog altyd slegs 'n skeppende minderheid wat die leiding geneem het. Waarom sou 'n Intelligente Ontwerper dan so baie “middelmatige” mense geskep het, waarvan die meeste se lewens oorheers word deur onnodige bekommernisse, pyn en lyding? Dit wil ook voorkom asof selfs baie “ongelowige” mense dikwels godsdienstige idees misbruik om hul eie kortsigtige persoonlike belange te bevorder. Sodanige oneerlike opportunisme is 'n eienskap wat deel is van baie “middelmatige” mense.

Wanneer die geskiedenis van die mensdom en die Natuurwette bestudeer word, kan mens maklik die gevolgtrekking maak dat die ganse Kosmos eintlik soortgelyk is aan 'n verspotte “Douglas Adams”-verhaal waarin allerlei absurde gebeurtenisse lei tot nog meer toenemende chaos, absurditeit en sinneloosheid! Dis asof Materialistiese Ateïsme die naaste aan “die Waarheid” is, wanneer die geldigheid daarvan vergelyk word met die geldigheid van Godsdienstige Fundamentalisme en ander lewensfilosofieë. Die hoogste vorm van menswees blyk dus die lewe van die “tragiese held” te wees, wie se heldedade, skeppingsvermoë en pogings om die lewe meer sinvol te maak, tog op die ou end gedoem is tot mislukking. Die mens kan dus allerlei planne beraam en ideale nastreef, maar op die ou end “lag” die Kosmos vir hierdie patetiese spesie. Terwyl die hoogste ideale van beide Godsdienstige Fundamentalisme en 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing ewig van aard is, is die Materialistiese Ateïs se ideale altyd tydelik van aard. Die kommunis se uiteindelike utopiese wêreldorde en die etiese humanis se droom van die mensdom wat in 'n toenemende mate vooruitgaan, sal ook eendag verdwyn wanneer die son uitbrand. Volgens Materialistiese Ateïste skep mense gedurigdeur ideale wat nagestreef word, maar wat saam met die mensdom en die heelal gedoem is om uiteindelik te verdwyn wanneer daar nie langer iets soos “Tyd” en “Ruimte” sal wees nie.

In sy uitstekende boek The Book of Atheist Spirituality, verduidelik die Franse filosoof André Comte-Sponville die verskille tussen die begrippe geloof, hoop en die liefde (meegevoel met andere). Volgens hom is geloof en hoop vir Christene baie belangrik omdat hulle geloof het in die werklikheid van hul Persoonlike God en omdat hulle hoop om eendag die ewige lewe te beërwe. Vir hom as ateïs is liefde baie belangriker as die ander twee en fokus hy eerder daarop om te strewe na en te werk vir die verbetering van sy eie lewe en die lewens van diegene vir wie hy lief is, as om te hoop dat iemand anders, soos bv. God, sal sorg dat dinge eendag sal verbeter. Hy beweer dat mense wat “hoop”, per definisie minder gelukkig is as mense wat wanhoop, omdat iemand wat gelukkig en tevrede is met sy of haar lewe hier en nou, nie nodig het om te hoop dat hulle eers eendag in die verre toekoms in, gelukkig sal wees nie. Na ek dit gelees het, het ek besef dat geloof en hoop vir my ook belangrik is, maar dat ek nie met hom saamstem dat hoop en geluk noodwendig met mekaar kompeteer nie. Mens kan gelukkig wees in die hier en nou én nog boonop hoop en glo dat jy eendag bevry sal wees van aardse ongeluk, pyn en lyding. Terwyl die Materialistiese Ateïs glo dat sy/haar geluk altyd tydelik van aard sal wees omdat alles op die ou end “tot stof” sal terugkeer, glo en hoop Godsdienstige Fundamentaliste dat hulle ééndag ewigdurende geluk en liefde sal vind en dat dit daarna nié meer vir hulle nodig sal wees om te “glo” en te “hoop” terwyl hulle in die Hemel is nie, omdat hulle dan in die hiernamaals volkome bevry sal wees. 

Ontevredenheid met godsdienstige mense se dikwels onaanvaarbare idees oor die eienskappe van God, lei baie skeptiese mense tot die gevolgtrekking dat álle idees oor dinge wat nie deur huidige wetenskaplike metodes verklaar of waargeneem kan word nie, gebaseer is op wensdenkery. Omdat die Goddelike vir hulle nié werklik is nie, is daar ook volgens hulle geen ewige, objektiewe, absolute waardes búite die mens nie. Die mens moet dus sélf besluit wat reg en verkeerd is. Ateïste verskil van mekaar betreffende dit wat veronderstel is om die plek van God in te neem. Volgens die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche, is die “Supermens” (Duits: Übermensch) veronderstel om die leemte te vul wat deur die “dood” van God veroorsaak is. Hedendaagse Marxiste glo daarenteen dat hul utopiese ideaal van die “gemeenskaplike besit van alles”, die nuwe “god” van die mensdom behoort te wees. Postmoderniste reken dat daar géén gemeenskaplike ideaal of waardes is wat deur mense nagestreef behoort te word nie. Ateïsme word dikwels ongelukkig geïdentifiseer met kommunisme, omdat die meeste ateïste in veral Westerse lande, jare gelede simpatiek was teenoor daardie ideologie. Miskien sal toekomstige ateïste hul verbeeldings en skeppingsvermoë kan gebruik om iets nuuts - iets anders as uitgediende Marxistiese lewenswaardes, morele relativisme (postmodernisme) of Wes-Europese liberale humanisme en genotsug, voor te hou as die nuwe “god” van die mensdom?

Die woord “ateïsme” het verskillende betekenisse vir verskillende mense - soortgelyk aan die verskillende definisies wat mense heg aan ander woorde soos “Christen”, “liefde”, “Apartheid” en “rassisme”. Daar word gewoonlik onderskei tussen negatiewe ateïsme en positiewe ateïsme. 'n Bekende ateïs beskryf die verskille en ooreenkomste tussen agnostisisme en negatiewe en positiewe ateïsme as volg:

“Michael Martin, a leading atheist philosopher, defines atheism entirely in terms of belief. For him, negative atheism is simply the lack of theistic belief, positive atheism is the asserted disbelief in God, and agnosticism is the lack of either belief or disbelief in God. This suggests that negative atheism, the minimal position that all atheists share, divides neatly into agnosticism and positive atheism. It is worth noting that the 'positive atheist' need not have certainty that God doesn't exist: it is a matter of belief, not knowledge.” [i]

My verwysing na die woord “ateïsme” sal voortaan dieselfde betekenis hê as die begrip “positiewe ateïsme” waarna Michael Martin verwys. Positiewe ateïste glo dat God/die Goddelike nié werklik is nie, maar hulle is egter nie noodwendig “seker” daaroor nie. Hulle kan ook nie die onwerklikheid van enige Goddelike voldoende bewys nie, en daarom verwys Michael Martin na ateïsme as 'n “geloof”. 

Indien daar géén God of Goddelike Werklikheid is nie, is daar gevolglik geen Intelligente “Iets” wat bewustelik besluit het om die ganse Kosmos te skep nie, en daar is ook geen Goddelike Absolute waaruit die Heelal en alles daarbinne, kon voortgevloei het nie. Die gevolgtrekking wat dus gewoonlik deur ateïstiese kosmoloë gemaak word, is dat die heelal óf geen begin gehad het nie en dat dit nog altyd daar was, óf dat Tyd en Ruimte op die een of ander stadium (spontaan?) “begin” het. Mense bevind hulself dus binne-in 'n heelal wat basies sinneloos is en waarbinne dit hul eie verantwoordelikheid is om sin en betekenis aan hul eie lewens te gee. 'n Voordeel hiervan is dat mense hul eie skeppingsvermoë kan gebruik om die lewe interessant en die moeite werd te maak. 'n Nadeel hiervan is dat die mens basies “alleen” in die ganse Kosmos is en dat daar geen Persoonlike God is wat die mens kan “verlos” vanuit hierdie basies-sinnelose bestaanswerklikheid nie. Volgens positiewe ateïste is daar ook geen Goddelike Werklikheid wat as 'n onpersoonlike gedeelde “essensie” of kern tussen alle lewende wesens, beskou kan word nie. Omdat hulle die werklikheid van enige “nie-materiële” Goddelike ontken, ontken die meeste van hulle óók die werklikheid van enige “siel” of energie wat deel is van elke mens en wat daartoe kan lei dat die bewussyn onafhanklik van die fisiese brein kan funksioneer. Daar is egter ander ateïste wat wel glo in die bestaan van die onsterflike siel, soos o.a. die Jaïniste met hul geloof in reïnkarnasie. Sommige “ateïstiese” Boeddhiste glo dat elke lewende wese 'n geestelike bestendigheid (Engels: mental continuum), in plaas van 'n “onsterflike siel” het, wat soortgelyk aan 'n vlam wat van een kers na 'n ander oorgedra word, vanaf een fisiese liggaam na 'n ander inkarneer. Alle ateïste is dus nié noodwendig “filosofiese” materialiste wat die werklikheid van enige nie-materiële dinge ontken nie.

Die betekenis van die woord “materialisme” is egter nog meer kontroversieel as die woord “ateïsme” en dit is veral ateïste wat beswaar maak teen my gebruik van die term “materialisme” wanneer ek na hul gevolglike ontkenning van die lewe na die dood verwys. Die definisie wat ek deurgaans in hierdie boek gebruik is soortgelyk aan dit wat bekendstaan as “filosofiese materialisme”. Dit het egter beslis nie dieselfde betekenis as iemand wat noodwendig selfsugtig of egoïsties is nie! Materialiste verwerp nie alleen die moontlikheid van die lewe na die dood nie, maar ook die moontlikheid van die werklikheid van enige gode of “geeste”. My verstaan van die woord “materialisme” stem ooreen met die selferkende materialis en ateïs Victor J. Stenger, se definisie daarvan op bladsy 63 van sy uitstekende boek Quantum Gods:

“Materialism is the doctrine that the universe is composed of a single substance called matter and nothing else. The answer materialism gives to the question 'Is there anything out there?' is: Nothing is out there except matter. Materialism is usually equated with naturalism, which is probably best described as the doctrine that denies the existence of gods or other 'spirits'”.

Daar word dikwels deur ateïste beweer dat hulle nié godsdienstige idees benodig om 'n goeie en moreel-aanvaarbare lewe te lei nie. Dit is volgens baie van hulle ook nié nodig dat die meeste ander mense met die helse vuur gedreig word ten einde hul samewerking en goedgesindheid te bewerkstellig nie. Ander maniere kan gevind word om mense aan te moedig om beter morele waardes te hê. Terwyl Marxiste glo dat geweld en onderdrukking uitstekende hulpmiddels is om die samewerking van die massas te bewerkstellig, beweer hedendaagse “etiese” humaniste dat die meeste mense mettertyd sal leer hoe om beter teenoor mekaar op te tree en gevolglik nié misbruik te maak van andere en van aardse hulpbronne nie. Die mensdom sal uiteindelik ontslae raak van ou en uitgediende godsdienstige norme en waardes, en sal dit vervang met beter waardes wat die grootste voordeel vir die grootste aantal mense sal inhou. Die meeste lande waarvan die meeste inwoners oorwegend Materialistiese Ateïste is/was, was óf kommunistiese lande soos die ou Sowjetunie, óf hedendaagse “liberale” demokrasieë soos o.a. Swede en Japan. Ateïste verwys dikwels na die beter lewensomstandighede in Swede, maar hulle verwys minder dikwels na die hoë selfmoordsyfer in daardie land [ii], die instroming van veral derde-wêreldse Moslems en die feit dat mense se individuele vryhede in toenemende mate beperk word. Tuisonderrig is byvoorbeeld onwettig in Swede. Die Sweedse polisie het onlangs Sweedse ouers se seun, Domenic Johansson, ontvoer na sy ouers besluit het om hom tuis te onderrig! [iii]

Na die bewindsoorname van die ANC-regering in 1994 is die ou oorwegend-Calvinistiese Grondwet van Suid-Afrika vervang deur 'n nuwe Grondwet wat grootliks gebaseer is op sekulêre, humanistiese waardes. Die beklemtoning van die regte van veral die Afrikanervolk is vervang deur die beklemtoning van die regte van die individu. Waar die Afrikaanse kerke in die verlede hul stempel indirek afgedruk het op die formulering van heelwat van die wetgewings, het die Nuwe Suid-Afrika op sekere terreine wegbeweeg van die invloed van Godsdienstige Fundamentalisme en nader aan Materialistiese Ateïsme beweeg. Goeie voorbeelde hiervan is die wegbeweeg vanaf diskriminerende wetgewing teenoor gays en die verdraagsame houding aangaande pornografie en aborsie. Die “lugleegte” wat veroorsaak is deur heelwat mense se wegbeweeg vanaf hul ou godsdienstige en kulturele waardes, is grootliks vervang deur die nuwe “god” van verbruikerisme en die gepaardgaande toenemende polarisasie tussen mense van verskillende bevolkingsgroepe. Terwyl sommige mense die Nuwe Suid-Afrika as bevrydend ervaar, is daar tog 'n groot gedeelte van die bevolking wat die wegkwyn van kulturele waardes en die verlies aan 'n gevoel van eensgesindheid en gebondenheid aan 'n soortgelyke groep mense, as onrusbarend en traumaties ondervind. Die wegbeweeg vanaf 'n tipe Christelike teokrasie het dus nié gelei na 'n samelewing wat noodwendig op alle gebiede beter is as die ou Suid-Afrika nie. 'n Samelewing wat gebaseer is op sekulêre en materialistiese waardes, is dus nie noodwendig beter as 'n samelewing wat hoofsaaklik godsdienstige waardes nastreef nie. Hedendaagse ateïste soos Sam Harris verwys dikwels na die beter omstandighede in sekulêre lande soos Japan en Swede in vergelyking met die swakker lewensomstandighede in meer godsdienstige lande soos Nigerië en Indië. Ongelukkig neem hulle nie ánder faktore soos gene en kulturele norme en waardes, in ag nie.

Mense wat redelik welgesteld is en wat hoofsaaklik fokus op die najaag van materiële rykdomme, is gewoonlik meer geneig om Materialistiese Ateïsme te omhels, as byvoorbeeld mense wat onder die broodlyn lewe. Tel-evangeliste is natuurlik 'n uitsondering op hierdie reël, maar ek wonder dikwels tot watter mate hulle in werklikheid “ongelowig” is en godsdiens hoofsaaklik misbruik tot hul eie materiële voordele... Godsdiens verskaf tog aan baie brandarm mense 'n bietjie kleur aan hul andersins mistroostige lewens. 'n Voorskoolse kind sien jaarliks daarna uit om geskenke van Kersvader te ontvang, terwyl 'n gelowige ou tannie wat op haar sterfbed lê, hoopvol uitsien na die ewige lewe wat op haar wag nadat sy haar laaste asem uitgeblaas het. Die “liberale” Christelike teoloog Don Cupitt, verskaf in sy verskeie boeke goeie redes waarom 'n “nie-werklike” godsdiens vir baie mense nuttig kan wees. Selfs geharde ateïste moet dan erken dat “nie-werklike” godsdienstige idees, mites, sprokies en feeverhale, voordelig kan wees vir sommige mense.

André Comte-Sponville probeer om sy eie weergawe van spiritualiteit met ateïsme te versoen in die laaste gedeelte van sy  boek, The Book of Atheist Spirituality. Hy verduidelik hoedat hyself soms mistieke ervarings beleef het waartydens dit vir hom gevoel het asof hy deel is van een groter “absolute” geheel. Hierdie ervarings was van so 'n wonderlike aard dat hy gedurende die belewenis daarvan gevoel het dat daar eintlik slegs Een Werklikheid is en dat hy, sowel as alle ander lewende wesens en dinge, onafskeidbaar deel is daarvan. Gedurende die mistieke ervaring voel mens asof jy totaal geabsorbeer is deur 'n allesomvattende liefde en dat jy buite Tyd en Ruimte is. Jy bekommer jou nie oor jou eie sterflikheid nie en dis ook nie vir jou nodig om te hoop dat jy eers ééndag in die verre toekoms in, verlos sal word nie. Sy beskrywing van die verskille tussen sy mistieke ervaring en sy alledaagse “gewone” bestaan, is egter béter as enige beskrywing daarvan wat ek al ooit in enige ander “spirituele” of “New Age”-boek raakgelees het. Na sy wonderlike ervaring het hy weer teruggekeer na sy alledaagse bestaan waartydens hy hom wel bekommer oor sy kinders, werkstoestande en finansiële status. Sy belewenis van “verlossing” was dus slegs tydelik van aard.

Die grootste beswaar wat ek teen Materialistiese Ateïsme het, is teen die filosofie daarvan met betrekking tot die uiteindelike bestemming van die mens. Waar beide Godsdienstige Fundamentalisme sowel as my Nuwe Spirituele lewensbeskouing, die ewigdurende aard van die mens se uiteindelike bestemming onderskryf, ontken Materialistiese Ateïsme die moontlikheid van die onsterflike aard van die menslike bewussyn. Godsdienstige Fundamentaliste glo dat slegs sommige mense bestem is om eendag die ewige lewe te beërwe. Ondersteuners van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing glo dat elke mens die potensiaal het van moontlike eenwording met die Goddelike, terwyl materialiste se mistroostige toekomsverwagting, die tydelike en sterflike aard van álle dinge onderskryf. Die  hoogste ideale waarna hulle strewe is dus van staanspoor af  verganklik en tydelik van aard.





[ii] http://www.who.int/mental_health/prevention/suicide_rates/en
[iii] http://www.cbn.com/cbnnews/world/2012/March/Swedish-Homeschool-Family-Broken-to-Pieces

3 opmerkings:

  1. 1. Jou beskrywings van sg. "materialistiese ateïsme " (wat die f*k dit ookal mag beteken - jou verduidelikings is nie steekhoudend nie) is onnodiglik "mistroostig" - jy wil tog nie voorstel dat jy 'n duidelik gelukkiger lewe lei as bv Richard Dawkins nie? Jy heg jou mening aan iets wat jy nie verstaan nie. Ditto jou oppervlakkige kritiek van 'n lewensbeskouing wat jy duidelik nie begryp nie; die koppeling van negatiewe sentimentele terme aan dinge waarvan jy nie hou nie, is nie voldoende kritiek nie.
    2. "Ondersteuners van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing glo dat elke mens die potensiaal het van moontlike eenwording met die Goddelike..." Jy bly by gebreke om te verduidelik waarna jy verwys met terme soos 'goddelike' (die hoofletter is oorbodig) en "spirituele". Daarby is jou "Nuwe" spiritualiteit alles behalwe nuut - daar is derduisende predikers, profete en algemene twakpraters wat aandring op 'n "spiritualiteit" (inderdaad 'n vae mistisisme) soos joune.

    AntwoordVee uit
  2. Dis nogal jammer dat jy dink dat my verstaan van die term “Materialistiese Ateïsme” nie “steekhoudend” is nie en dat jy nie ʼn duidelike verstaan daarvan het na die lees van my artikel nie. Hier volg dus my definisie van ʼn Materialistiese Ateïs - ʼn Materialistiese Ateïs is iemand wat (1) glo dat enige God of Goddelike nié werklik is nie en dat (2) daar géén moontlikheid is van die voortbestaan van die menslike bewussyn na die afsterwe van die fisiese liggaam nie. Die mistroostige aard van sodanige lewensbeskouing verwys na die aanname daarvan dat álles op die ou end tydelik en sterflik van aard is. Nêrens impliseer ek dat Materialistiese Ateïste noodwendig meer ongelukkig is as mense wat meer “spiritueel-bewus” is nie. Mense is op verskillende vlakke wat betref hul unieke reis na die Goddelike en dit impliseer dat iemand wie se lewensbeskouing meer materialisties van aard is, dikwels meer “gelukkig” is a.g.v. hul najaag van tydelike plesiere, as ʼn meer spiritueel-bewuste persoon wat soms baie eensaamheid en lyding verduur omdat daar teen hulle gediskrimineer word deur hul familielede en werkskollegas. Die begrip “Spiritualiteit” verwys vir my na elke persoon se unieke reis na eenwording met die Goddelike. Omdat die Goddelike buite Tyd en Ruimte is en gevolglik buite enige beperkte menslike begrippe is, is dit onmoontlik om dit voldoende in beperkte menslike terme te omskryf. Ek verwys egter in my “geloofsbelydenis” artikel na enkele van die teosowe se pogings om die Goddelike te definieer. Hier is een definisie wat ek dikwels gebruik om my panenteïstiese godsbeskouing te onderskei van dié van teïste se geloof in ʼn Persoonlike Skeppergod: ““... the self-enduring, eternal, self-sufficient cause of all, the one essence of everything in the Cosmos. It is before all things in the Cosmos, and is the one sole limitless life-consciousness-substance from which starts into existence a center of force which may be called the Logos [the Word].” Ek erken dat my “Nuwe” Spirituele geloofsbelydenis baie soortgelyk is aan “esoteriese” Christelike idees, Soefisme, die Joodse Kabbala, Teosofie, Taoïsme, Platonisme en Brahmanisme, maar miskien is my drie stellings soos vervat in die opsomming in my “geloofsbelydenis” artikel, tog op ʼn manier uniek omdat ek dit nog nooit sodanig in enige ander boek of geskrif teëgekom het nie.

    AntwoordVee uit
  3. "Mense is op verskillende vlakke wat betref hul unieke reis na die Goddelike..."

    Stop net daar. Wat is "die goddelike" waarna jy verwys, buiten 'n fraai konsep in jou verbeelding? O wag, ek sien: "Omdat die Goddelike buite Tyd en Ruimte is en gevolglik buite enige beperkte menslike begrippe is, is dit onmoontlik om dit voldoende in beperkte menslike terme te omskryf."

    Jy probeer duidelik in jou guru Shedrake se voetspore volg met jou "Nuwe [sic] Spiritualisme" (oftewel Baie Ou Mistisisme). Hier onder is voldoende kommentaar. Ek sluit af deur te sê dat jy letterlik nie weet waarvan jy praat nie. Geen hoeveelheid rook-en-spieëls en handgeswaaiery maak "die Goddelike" meer werklik as Sneeuwitjie nie, en om anders voor te gee (of nog erger, ander daarvan te probeer oortuig) is intellektuele swendelary.

    http://www.skepdic.com/morphicres.html

    AntwoordVee uit