Bladsye

Donderdag 20 Desember 2012

Is Sekulêre Humanisme 'n geldige plaasvervanger vir Godsdienstige Fundamentalisme?

Materialistiese Ateïste verskil hemelsbreed van mekaar wat betref hul politieke standpunte. Postmoderniste neig om 'n meer liberale standpunt oor die politiek te hê, wat daarop neerkom dat alle mense die reg behoort te hê om sover moontlik te doen wat hulle wil solank hulle net nie ander mense daardeur benadeel nie. Moderniste daarenteen, wil hê dat die ou en uitgediende idees van godsdienste vervang moet word deur 'n nuwe “sekulêre” ideaal. Daar is byvoorbeeld verregse, rassistiese ateïste wat glo dat die verbetering van hul eie ras die hoogste prioriteit behoort te geniet. In die laat sewentigerjare, tagtigerjare en vroeë negentigerjare was daar so 'n antichristelike verregse organisasie in die VSA - die Kerk van die Skepper, wat ook aktief was in die ou Suid-Afrika. In hierdie video  [1] erken die voormalige leier van die World Church of the Creator, Matt Hale, dat “We [members of the WCOTC] would like to see the other races [including Jews and non-whites] cease to exist...starve to death and die” !

Materialistiese Marxiste beywer hulself daarvoor om uiteindelik ontslae te raak van alle uitgediende godsdienstige idees oor God en die hiernamaals. Hulle reken dat mense nie meer sulke fantasieë sal hê wanneer daar eendag 'n paradys op aarde is en alles deur almal besit word nie. Soortgelyk hieraan is daar deesdae “etiese” humaniste wat hulself daarvoor beywer om die wêreld te verbeter sonder die gebruikmaking van gewelddadige en diktatoriale metodes wat Marxiste deur die jare gebruik het. Hulle glo dat die meeste mense hul eie optredes en morele waardes uiteindelik sodanig sal aanpas dat dit tot voordeel van andere sal wees. Iemand wat steel sal byvoorbeeld leer dat hy in die moeilikheid sal beland as hy uitgevang word, terwyl iemand wat onhigiënies lewe, gou sal agterkom dat hy siektes sal opdoen as hy nie planmaak om daagliks te bad nie. Mense word ook deur die jare slimmer omdat hulle leer uit hul foute en omdat hulle meer doeltreffend besluite kan neem deur oorsake en gevolge beter met mekaar in verband te bring.

Ateïstiese “etiese” humaniste beweer dat daar gemeenskaplike norme en waardes is wat die meeste voordele vir die meeste mense tot gevolg kan hê en wat deur die meeste mense nagevolg behoort te word. Namate mense meer intelligent en beskaafd raak, sal hulle begin besef dat hulle dáárdie waardes behoort na te streef in plaas daarvan om andere te benadeel deur hul eie kortsigtige en selfsugtige belange voorop te stel. Individuele vryhede sal dan óók toeneem omdat dit nie meer vir regerings nodig sal wees om groot polisiemagte in stand te hou ten einde te sorg dat die bevolking die landswette gehoorsaam nie. Uiteindelik sal demokrasie en liberalisme 100% “werk” en sal die mensdom op pad wees na 'n “paradys op aarde”. Die probleem is dat die meeste mense genoegsaam gemotiveer en onderrig moet word sodat hulle moet besef dat hul eie kortsigtige belange dikwels in die pad staan van die geluk en voorspoed van die meeste ander mense. Solank daar selfsugtige mense is wat geensins daarin belangstel om ander mense se welsyn te bevorder nie, sal daar beperkende wette en maatreëls wees. Die regering maak dan wette wat noodwendig 'n beperkende invloed het op mense se individuele vryhede. Indien regeringsleiers egter geensins belangstel in die welsyn van hul onderdane nie, kan beperkende wetgewing hul eie welsyn bevorder ten koste van dié van hul onderdrukte onderdane.

Etiese humaniste se droom is egter ver verwyderd van die werklike lewe. In verskeie lande raak mense toenemend wantrouig en gewelddadig as gevolg van 'n onderwysstelsel en hoofstroommedia wat doelbewus deur sekere magte gebruik word om mense se lewenswaardes in 'n sekere rigting te kanaliseer. Die toenemende misdaad word dan as verskoning gebruik om meer drakoniese wetgewing in te stel en gevolglik mense se vryhede toenemend van hulle te ontneem. Veral Suid-Afrika beweeg inderwaarheid in 'n rigting wég vanaf liberale Westerse waardes en weg vanaf die eweredige verspreiding van rykdomme. Die mag word toenemend in die hande van kleiner groepe geplaas wat hulself verryk ten koste van die meeste ander Suid-Afrikaners.

Terwyl dit 'n feit is dat nié alle ateïste noodwendig losbandig lewe en “twyfelagtige” morele waardes het nie, is dit ook so dat nié alle godsdienstige en “spiritueel-bewuste” mense eerlike mense is met goeie morele waardes nie. Dit is egter ongelukkig so dat die meeste mense 'n tipe afskrikmiddel benodig om hulle aan te moedig om sekere norme en morele waardes na te volg. Dit is heel waarskynlik die hoofrede waarom godsdienstige idees deur baie sekulêre regerings op 'n manier “verdra” word omdat dit hul onderdane as't ware “op die regte pad” hou. Die godsdienstige waardes van die ou Russies-Ortodokse Kerk is grootliks deur materialistiese en humanistiese waardes vervang, wat deur die Bolsjewiste ná 1917 op gewelddadige en onderdrukkende wyse op die bevolking van die Sowjetunie afforseer is. Die nuwe heersers het besef dat die gewone man op straat nie spontaan self sal besluit om sekere morele waardes na te volg wat sy eie welstand kan beperk nie, en daarom is streng wetgewing toegepas om die onderdrukte bevolking verder te mislei, te verarm en te misbruik. Ek is bevrees dat dit wil voorkom asof die Suid-Afrikaanse regering dieselfde paadjie loop op pad na 'n moontlike toekomstige eenparty-diktatuur, met hul onlangse besluite oor moontlike wetgewing wat persvryheid kan beperk.

In teenstelling met bogenoemde is in veral Wes-Europese lande die ou godsdienstige waardes grootliks vervang deur postmoderne waardes wat die vryheid van die individu en die najaag van materiële rykdomme en plesier vooropstel. Terwyl die lewensstandaard vir baie jare nogal redelik hoog was in daardie lande, is die probleem dat die meeste inwoners deesdae geen gemeenskaplike getrouheid of “mite” het wat hulle kan verenig om doeltreffend weerstand te bied teen dinge wat hul manier van lewe bedreig nie. Sodoende bied o.a. die inwoners van Nederland deesdae maar weinig weerstand teen die opdringerige houding van die toenemende aantal Moslem-immigrante wat hul land binnestroom. Die Nederlandse selferkende ateïs en “regse” politikus Geert Wilders, het al heelwat ondersteuning vir sy pogings om die immigrasie van veral Moslems teen te staan, maar uiteindelik sal sy besware gesmoor word deur die propaganda van die hoofstroommedia waarvan die eienaars doelbewus probeer om soveel as moontlik derde-wêreldse immigrante in Europa toe te laat. Baie van hierdie media-eienaars is magtige materialiste wat uit ondervinding geleer het dat opportunisme en die gebruik van leë beloftes, leuens en misleiding, meer doeltreffend is as eerlikheid.

Sekulêre humaniste beklemtoon dikwels die belangrikheid van die menslike rede en van tegnologiese vooruitgang. Op die oog af wil dit voorkom asof die lewensstandaard van die moderne mens beter is as die antieke mens s'n as gevolg van die vordering op tegnologiese gebied en mense se maklike toegang na inligting op veral die internet. Alhoewel mense vandag makliker toegang het na inligting, is dit ongelukkig so dat die meeste mense nie die moeite doen om regtig te probeer uitvind hoe hulle mislei word deur godsdienstige leiers en die eienaars van die hoofstroommedia nie. Eienaars van die hoofstroommedia weet dat die meeste mense dit verkies om elke aand voor die tv te sit en kyk na eensydige nuusberigte en sogenaamde vermaak waarin sekere lewenswaardes uitgebeeld word, eerder as om self ondersoek in te stel en alternatiewe bronne op die internet te raadpleeg. Wetenskaplike kennis kan ongelukkig ook in die toekoms gebruik word om menslike vryhede aan bande te lê. Rekenaartegnologie kan byvoorbeeld gebruik word om méér inligting oor mense te bekom en sodoende meer mag in die hande van sekere mense met selfsugtige motiewe, te plaas. Daar is dus beslis nie 'n direkte verband tussen mense se geluk en die vooruitgang in tegnologie nie. Etiese humaniste beweer dat elke mens se behoeftes herlei kan word na hierdie eenvoudige formule - “die meeste voordele vir die minste inset”. Hierdie aanname dat die motivering vir menslike gedrag na 'n eenvoudige formule herlei kan word, is egter 'n oorvereenvoudiging van die wese van menswees, omdat dit spirituele waardes soos naasteliefde, empatie en meegevoel, as minder belangrik ag as hul eie “towerformule”.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking