Bladsye

Maandag 24 Desember 2012

Die sosiale gevolge van materialisme

Daar word dikwels op die filosofiese terrein onderskei tussen “dualiste” wat glo dat daar wisselwerkings is tussen geestelike entiteite en materie en dat die gees of siel selfs onafhanklik van materie kan funksioneer; en materialiste wat glo dat materie basies die enigste werklikheid is. Die belangrikste gevolgtrekking wat filosofiese materialiste maak op grond van hul aanname dat alles uiteindelik uit materie (insluitende gewone en “donker” materie) bestaan of daarvan afhanklik is, is dat die mens nié 'n nie-materiële deel het wat onafhanklik van die fisiese liggaam kan funksioneer nie. Alle oënskynlike “geestelike” dinge is dus uiteindelik afhanklik van chemiese reaksies tussen materie-deeltjies, insluitende die menslike bewussyn en gevoelens soos liefde en haat. Die belangrikste aanname van materialiste is dus dat die bewustelike voortbestaan van die mens na die dood van die fisiese liggaam, nié moontlik is nie. Hulle neem ook aan dat daar nie entiteite soos spoke en geeste van afgestorwenes bestaan nie. Gevolglik neem hulle óók aan dat daar nié 'n God of gode bestaan wat onafhanklik van materie kan bestaan en wat van “buite” materie hul denkvermoë kan gebruik om materie te beïnvloed nie. Miskien is daar tog 'n handjievol materialiste wat wel glo dat daar 'n Almagtige God is wie se bestaan afhanklik is van slegs materie, en dat sodanige God dus 'n nie-spirituele “materiële” God is. Voorgaande impliseer dus dat die oorgrote meerderheid van alle materialiste dus noodwendig óók ateïste is.

Terwyl materialiste dus nié begaan is oor die status van hul eie bewustelike bestaan na die dood nie, is Evangeliese Christene wel bekommerd oor die status van hul eie sowel as “ongelowiges” se siele na die dood, veral indien die halsstarrige ongelowiges nié sou besluit om Jesus as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker te aanvaar nie. Daarom probeer Evangeliese Christene gedurig om ander mense te oortuig van die geldigheid van hul eie Christelike idees. Materialiste daarenteen, is slegs begaan oor die lewe hier en nou en strewe gewoonlik daarna om die kwaliteit van hul lewens te verbeter. Baie van hulle is dus hoofsaaklik begaan oor hulself, oor hul familie en naasbestaandes en tot 'n mindere mate oor die res van die mensdom. Hulle verskil egter van mekaar betreffende die mate waarin hulle bekommerd is oor hul eie persoonlike welsyn en dié van ander mense. Sommige van hulle is hoofsaaklik selfsugtig en sal selfs hul naasbestaandes benadeel solank hulle net persoonlik daardeur bevoordeel kan word. Andere is weer bekommerd oor die feit dat kinders in Ethiopië nie genoeg kos het om te eet nie en daar is selfs van hulle wat strewe na 'n paradys op aarde waarbinne alle mense in harmonie met mekaar sal saamleef en alles met mekaar sal deel. Die 64 miljoen dollar vraag is natuurlik hoeveel materialiste bereid sal wees om hulself te benadeel ter bevoordeling van mense wat hulle nie eers persoonlik ontmoet het nie. Hoeveel van hulle sal die nodige opofferings maak sodat (vreemde) mense 100 jaar van nou af beter lewensomstandighede kan hê?

Omdat materialiste glo dat die lewe na die dood onmoontlik is, glo hulle gelyktydig óók dat hiérdie sterflike aardse lewe (of miskien lateraan moontlike lewe op ander planete?) die enigste lewe is wat ons kan ken. Terwyl daar 'n minderheid mense is wat “van nature” goeie dinge kan doen aan ander mense en aan nie-menslike diere, sonder die verwagting om daarvoor beloon te word met 'n som geld of 'n ewige lewe, is baie mense ongelukkig nié “van nature” altruïsties van aard nie en verwag hulle dat hulle beloon moet word vir elke ongemaklike opoffering. Dit maak vir sodanige mense dan ook weinig sin om Natuurbewaring te doen sodat wit renosters nog 200 jaar van nou af op die aarde kan wees. Die voorgaande impliseer dus dat wat ook al die plek gaan inneem van ou en uitgediende godsdienstige waardes, doeltreffend genoeg behoort te wees om baie mense sodanig te motiveer dat hulle hoofsaaklik “goeie” dade in plaas van “slegte” dade sal verrig.

Hoe kan mense aangemoedig word om te besef dat hulle behoort om te gee vir mekaar en vir die omgewing en dat hulle nie slegs moet fokus op die bevrediging van hul eie kortsigtige belange nie? Is die “regte” manier van opvoeding en onderwys die antwoord? Wie besluit wat die “regte” manier van opvoeding en onderwys behoort te wees en watse inhoud die skole se leerplanne behoort te hê? Mens hoor veral in Suid-Afrika dat opvoeding dié antwoord op die oplossing van die probleme van die land is, en dat genoegsame, professionele opleiding, skoliere en studente in staat sal stel om meer vaardig te wees en makliker beroepe te kry. Die leerplanne word gewoonlik deur 'n owerheid opgestel en dit is dan ook in ooreenstemming met wat ook al die regeringsbeleid van die dag is.

Indien die regeringsleiers ondersteuners is van Materialistiese Ateïsme, het hulle gewoonlik óf hoofsaaklik 'n (postmodernistiese) liberale, humanistiese benadering, óf 'n (modernistiese) benadering waarvolgens skoliere en studente veronderstel is om spesifieke norme en waardes na te volg. 'n Goeie voorbeeld van laasgenoemde was natuurlik die ou Sowjetunie. Daar word van die regeringsleiers verwag om in so 'n land ondersteuners te wees van die staat of party se ideologie. Indien hulle, a.g.v. onder andere korrupsie, sou besluit om hulself finansieel te bevoordeel ten koste van die staat se belange, word hulle soms vervolg en gestraf daarvoor. Dit is dus duidelik dat die regeringsleiers ook op 'n manier gedwing word om sekere norme en waardes na te volg. Die vraag wat ek poog om te beantwoord, is waarom 'n oorwegend Materialisties-Ateïstiese regering hulself sal beywer vir die welsyn van die res van die mensdom, sowel as vir die welsyn van die res van die lewensvorme van die planeet aarde. Waarom sal hulle bekommerd wees oor die toekomstige welsyn van die nageslag van die res van die mensdom, indien hulle nóg in die verhuising van hul eie siele, nóg in die strawwe van die God van die tradisionele godsdienste, glo? Kommunistiese regeringsleiers het vir baie jare voorgegee dat hulle strewe na die totstandkoming van 'n toekomstige proletariese paradys waarbinne alles gemeenskaplik deur alle mense besit sal word. In die praktyk het hulle egter hoofsaaklik hulself bevoordeel ten koste van hul onderdane.

Tot watter mate kan 'n Materialisties-Ateïstiese lewensbeskouing iemand aanspoor om opofferings te maak wat kan lei tot die verbetering van die welsyn van die meeste lewende wesens? Waarom sal iemand wat glo dat daar geen lewe na die dood is en ook geen God is wat kwaaddoeners kan straf nie, homself benadeel tot voordeel van die meeste ander mense? 'n Lid van 'n Kommunistiese Party sal dit dalk doen uit vrees vir die weerwraak van sy mede-partygenote, terwyl 'n materialistiese burger van Swede of Japan dit sal doen uit vrees vir die arm van die gereg. Ek beweer beslis nié dat alle materialiste eintlik basies selfsugtig is en gedwing moet word om “goeie” norme en morele waardes na te volg nie, maar dit is wel 'n feit dat die meeste van hulle dit onsinnig en belaglik vind om hul eie kortsigtige materiële rykdomme, gemak en plesier en dié van hul vriende en naasbestaandes, “vrywillig” op te offer ter wille van die welsyn van ander “vreemde” mense en nie-menslike diere.

Dit is inderwaarheid so dat Liefde die antwoord is op die probleme van die mensdom, maar wat is die beste metodes wat gebruik kan word om hierdie feit by mense tuis te bring? Sal hulle van staanspoor af so ingestel wees as aan al hul materiële behoeftes voorsien word, moet hulle met geweld gedwing word om vir mekaar om te gee, of moet hulle permanent 'n gemoedstoestand hê wat gebaseer is op die vrees dat hulle eendag in die hel sal beland as hulle die “verkeerde” dinge glo of doen? Godsdienstige mense het vir duisende jare hul idees op die mensdom probeer afdwing, terwyl materialiste se mooiklinkende ideale hoofsaaklik gelei het tot state waarbinne die mense uiteindelik sinnelose selfsug, hebsug en verbruikerisme omhels het. Miskien is die beste metode dalk daarin geleë dat die meeste mense die voorbeeld kan navolg van spiritueel-bewuste mense wat deur hul lewenswyse en optrede teenoor andere, 'n soort “hemel-op-aarde” kan bewerkstellig? Deur te fokus op die gedeelde Goddelike kern binne alle mense en binne alle ander lewende wesens, kan hierdie “spirituele elite” miskien in sodanige posisie wees dat hulle hul idees kan toepas binne sekere gebiede wat deur hulle besit en beheer word. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die Findhorn Foundation [1]. Ander mense wat buite hierdie gebiede woon, behoort dalk in 'n toenemende mate te besef dat hul eie state wat gebaseer is op óf 'n Godsdienstig-Fundamentalistiese, óf 'n Materialisties-Ateïstiese lewensbeskouing, op die ou end tog nié so doeltreffend is soos 'n gemeenskap waarvan die meeste mense se lewenswaardes hoofsaaklik gebaseer is op 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking