Bladsye

Saterdag, 29 Desember 2012

Ateïs vs. ateïs - modernisme en postmodernisme

Moderniste beklemtoon die outonomie van die individu en van bepaalde groepe mense, in teenstelling met die pre-moderne era se mense se beklemtoning van die belangrikheid van die bepalende invloed van 'n buite-menslike objektiewe God of Absolute. Volgens moderniste is die mens die maatstaf van alle dinge en gebruik mense hul verstandelike vermoëns om die wêreld 'n beter plek te probeer maak deur die gebruikmaking van tegnologie en humanistiese norme en waardes. Moderniste poog om hul eie idees aangaande “vooruitgang” op alle mense en kulture van toepassing te maak. Die koloniale magte het bv. hul “meerderwaardige” tegnologie en godsdienste bekendgestel aan die inboorlinge van Afrika en Amerika. Fascisme beklemtoon die belangrikheid van die Staat, Nietzsche praat van die Übermensch as hoogste ideaal van die mensdom, terwyl kommuniste  strewe na die verwesenliking van die ideaal van die gemeenskaplike besit van alle eiendomme en hulpbronne.

Postmoderniste daarenteen, beklemtoon die bepalende memetiese (vergelyk Richard Dawkins se memes) invloed van mense se handelinge en houdings op ander mense. Postmoderniste ontken die bestaan van objektiewe, absolute waardes buite die mens. Volgens hulle is daar géén gemeenskaplike norme of waardes wat deur alle mense en alle beskawings nagevolg behoort te word nie, en is alle mense se lewenswaardes afhanklik van die invloed wat die waardes en gedrag van ánder mense op hulle het. Postmoderniste kritiseer o.a. die koloniale magte se pogings om hul eie norme en waardes op die Afrikane en Rooi-Indiane van Amerika af te dwing. Waardes en norme is volgens postmoderniste altyd relatief en verander met verloop van tyd. Daar is vervolgens geen gemeenskaplike ideaal of utopiese wêreldorde waarna alle mense behoort te strewe nie. Postmoderniste verwerp dus die Boeddhiste se strewe na Nirvana, die Christene se hoop op ʼn Ewige Lewe en die Moslem-selfmoordenaar se hoop op prettige tye saam met 72 maagde in die hiernamaals. Materialistiese Ateïste is gewoonlik óf ondersteuners van modernisme, óf van postmodernisme. Terwyl baie Materialistiese Ateïste ondersteuners is van postmodernisme en morele relativisme, is daar andere soos Sam Harris wat in sy boek The Moral Landscape, beweer dat die wetenskap wél sekere riglyne en gemeenskaplike waardes aan alle mense kan verskaf wat kan lei tot 'n beter wêreld met minder pyn en lyding. Dan is daar ook humanistiese ateïste en agnostici, soos bv. lede van The New York Society for Ethical Culture [1] wat reken dat die bevordering van die waardes van Etiese Humanisme kan lei tot 'n beter wêreld.

Kritici van postmodernisme beweer dat dit lei tot 'n vervlakking van mense se lewens, omdat daar geen gemeenskaplike objektiewe waardes is wat samehorigheid binne 'n samelewing bewerkstellig nie. Die idee dat die Pous, Koning of Keiser, die verteenwoordiger van God op aarde is, het 'n gemeenskaplike saambindende geloof verskaf aan mense gedurende pre-moderne tye. Terwyl daar sekere voordele daaraan verbonde is om weg te beweeg vanaf ou en uitgediende konsepte wat voorheen as die “absolute waarheid” deur beide godsdienstiges en wetenskaplikes aanvaar is, is dit ongelukkig 'n probleem wanneer die meeste inwoners van 'n land só ingestel is op individuele vryheid dat daar gevolglik byna géén ander gemeenskaplike waardes is wat deur hulle nagevolg word nie. Dit kan 'n samelewing daarvan weerhou om voldoende weerstand te bied teen uiterlike bedreigings. 'n Goeie voorbeeld hiervan is baie hedendaagse Europese lande wat postmodernisme omarm het, en as gevolg daarvan min weerstand bied teen die Moslem-immigrante wat hul eie fundamentalistiese lewenswaardes soos bv. Sharia wette, op die Europeërs wil afdwing.

Prof. Danie Goosen verwoord as volg die verskille tussen modernisme en postmodernisme op bladsy 168 van sy boek Die Nihilisme:

“Die modernisme en die postmodernisme word gekenmerk deur óf ʼn dualisme waarvolgens ʼn voorkeur aan die outonome self ten koste van die gemeenskap gegee word (die modernisme), óf ʼn monisme waarvolgens die self en die ander van hul selfstandigheid ontneem en in ʼn gryse indifferensie opgeneem word (die postmodernisme).”

Modernistiese regeringsvorms soos o.a. fascisme en kommunisme het 'n gemeenskaplike ideaal of doelwit aan die burgers van sodanige lande verskaf, terwyl postmodernistiese, liberale humanisme uiteindelik lei tot 'n gryse afplatting of indifferensie (die woord wat prof. Danie Goosen gebruik) binne 'n samelewing. Postmodernisme word deur hom beskou as een van die oorsake van nihilisme (die verwerping van die idee dat die lewe enige noemenswaardige betekenis of waarde kan hê). Materialisme, verbruikerisme en kleinlike selfsug vul gewoonlik die lugleegte wat deur postmodernisme veroorsaak word.

Godsdienstige Fundamentaliste neem dikwels hul kans waar om ook die lugleegte te vul wat veroorsaak word deur die invloed van postmodernisme op veral jong Westerse Europeërs. Richard Dawkins het onlangs gereageer op die kommerwekkende tendens in Brittanje waar ongeveer 5 000 mense per jaar die Moslem-geloof aanvaar. Sy volgende opmerking is nogal tipies van 'n “modernistiese” ateïs se bekommernis oor die toename in populariteit van Godsdienstige Fundamentalisme onder veral die jeug van Brittanje:

“These young people [new converts to Islam] have voluntarily adopted a belief system which has the unique distinction of prescribing execution as the official penalty for leaving it. I have enormous sympathy for those people unfortunate enough to be born into Islam. It is hard to muster much sympathy for those idiotic enough to convert to it.” [2]

Die bekende Suid-Afrikaanse skeptikus en ateïs, George Claassen, kritiseer postmodernisme as volg  op bladsye 235 tot 239 van sy boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery:

“Wat hierdie soort postmodernistiese denke  inderdaad doen, is om die rasionele denkprosesse van die wetenskap te bevraagteken en verdag te maak. Wetenskaplike feite bestaan dus nie meer nie, maar moet gesien word uit die oogpunt van wie dit vertel.”

Op bladsy 237 sê hy die volgende:

“Die postmoderniste se aanval op die wetenskap en die werklikheid sal geen jota of tittel verander aan daardie werklikheid nie. ... Geesteswetenskaplikes wat hierdie universele [wetenskaplike] wette ontken, is onwetenskaplik en blindes wat die blindes lei.”

Interessant genoeg verwys hy ook op bladsy 238 na Richard Dawkins se kritiek teen postmodernisme in o.a. die hoofstuk “Sense and sensibility” van sy boek A devil's chaplain: selected essays by Richard Dawkins en sy Nature-artikel met die opskrif “Postmodernism disrobed”.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking