Bladsye

Woensdag, 12 Desember 2012

Jaco Steyn se Nuwe Spirituele Geloofsbelydenis

Die meeste hedendaagse debatte oor godsdienstige kwessies vind hoofsaaklik plaas tussen voorstanders van Godsdienstige Fundamentalisme (soos bv. dr. William Lane Craig en dr. Michael Licona) en voorstanders van Materialistiese Ateïsme (soos bv. Richard Dawkins en Sam Harris). Dit skep gewoonlik die indruk by baie mense dat daar eintlik basies slegs twee belangrike idees oor die Goddelike is en dat mens behoort te kies tussen óf die geloof daarin dat God Persoonlik van aard is, óf die idee dat daar geen God of Goddelike is nie. Daar is egter nog 'n derde lewensbeskouing wat gebaseer is op die geloof dat die Goddelike nié Persoonlik van aard is nie. Laasgenoemde lewensbeskouing is ongelukkig nié so welbekend aan Westerlinge soos die voorgaande twee nie, omdat dit nader is aan gelowe van die Verre-Oosterse lande - gelowe soos o.a. Hindoeïsme en Boeddhisme. As gevolg van die invloed van tradisionele Calvinistiese lewenswaardes en die feit dat Suid-Afrika se Grondwet vóór 1994 gebaseer was op geloof in die Drie-Enige God van die tradisionele Christendom, is die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners ondersteuners van Godsdienstige Fundamentalisme en neem hulle gewoonlik aan dat enigiemand wat nié in 'n Persoonlike God glo nie, van staanspoor af 'n ateïs “móét” wees.

Terwyl die strewe na tydelike materiële geluk en plesier vir baie mense genoegsame sin verskaf, is daar sommige mense vir wie dit nié bevredigend genoeg is nie. Vir hulle is die bewering dat die bestaan van die mens 'n toevallige gebeurtenis is in 'n heelal wat basies sinneloos en betekenisloos is, onaanvaarbaar. Die geloof en hoop op die voortsetting van bewuste bestaan ná die afsterwe van die tydelike fisiese liggaam, verskaf aan hulle 'n beter gevoel van sinvolheid. Gevolglik is hulle dikwels minder wraakgierig en verbitterd wanneer hulle terugdink aan al die oënskynlike onnodige pyn, lyding en onenigheid wat deel was van 'n groot deel van hul eie lewenservaringe.

Baie mense wat 'n behoefte het aan 'n geloof in iets groter as hulself en die besef dat daar tog 'n Goddelike Werklikheid “agter” alles moet wees, is dikwels ontevrede met die beweerde eienskappe van die Gode van die meeste tradisionele godsdienste. Die idee dat God soortgelyk is aan 'n ou man met 'n wit baard wat êrens op 'n troon sit en besluit het dat die meeste van Sy miserabele skepsels bestem is om vir alle ewigheid in die hel te vertoef, is vir hulle onversoenbaar met byvoorbeeld die onvoorwaardelike liefde wat 'n ma vir haar kind behoort te hê. Baie tradisionele Christene se gedurige beklemtoning van hul God se sogenaamde onvoorwaardelike Liefde vir Sy skepsels, verander egter geensins die ongemaklikheid van hul dogmatiese idees oor die hel nie.

Mense wat tuis voel met die idee dat die Goddelike onpersoonlik of nie-persoonlik van aard is en dat die verhuising van 'n onsterflike deel van die mens vanaf een liggaam na 'n ander, 'n méér sinvolle manier van dink is oor die lewe na die dood, se lewensbeskouing is deel van wat ek noem die Nuwe Spirituele lewensbeskouing. Baie van hulle vereenselwig hulself egter met sekere idees van die sogenaamde “Nuwe Era” beweging wat deur onlangse films soos o.a. The Secret en What the Bleep Do We Know!?, gepopulariseer is. Die gevolglike mooiklinkende idee dat elke mens sy/haar eie werklikheid kan skep deur slegs die gebruikmaking van hul eie persoonlike gedagtes en houdings, vind aanklank by baie mense wat ontnugter geraak het met beide tradisionele godsdienstige idees én die selfgesentreerde materialisme van die meeste Westerse mense. Ek distansieer myself van daardie naïewe “The Power of Positive Thinking” manier van dink en wil as deel van my argumente in hierdie boek dit duidelik stel dat beslis nié alle spiritueel-bewuste mense hulself daarmee vereenselwig nie. Ek besef dat mense se uiterlike omstandighede en oorgeërfde gene óók 'n wesenlike invloed het op hul lewenskwaliteit.

My eie wêreld- en lewensbeskouing is egter nader aan 'n méér Gnostiese en/of Boeddhistiese wêreldbeskouing waarvolgens alle mense op 'n manier vasgevang is in 'n objektiewe wêreld waarbinne hulle beslis nié hul eie toekoms kan bepaal deur hoofsaaklik 'n positiewe houding teenoor hul lewensomstandighede te hê nie. Die hoofdoel van elke mens is om maniere te vind om te kan “ontsnap” vanuit hierdie beperkte aardse bestaan waarbinne hulle uitgelewer is aan natuurlike kragte en menslike magte wat hoofsaaklik buite hul beheer is. Die koestering van positiewe gedagtes en meditasie tegnieke kan egter belangrike bydraes lewer tot die uiteindelike verlossing van elke mens; asook die nastreef van spirituele norme en waardes en 'n voortdurende bewustheid van die Goddelike.

Vervolgens vergelyk ek my eie idees aangaande die eienskappe van die mens, die eienskappe van die Goddelike en die verhouding tussen die mens en die Goddelike, met dié van beide Godsdienstige Fundamentaliste en dié van Materialistiese Ateïste. Hier is 'n kort opsomming van die geloofsbelydenis van die Nuwe Spirituele lewensbeskouing waarna ek deurgaans in hierdie boek verwys en waarvan ek ook 'n voorstander is:

·        Elke lewende wese het 'n onsterflike deel wat onafhanklik kan funksioneer van die fisiese liggaam en wat bewustelik bly voortbestaan ná die dood van die fisiese liggaam. Hierdie onsterflike deel verhuis vanaf een fisiese liggaam na 'n ander.

·        Daar is ʼn onpersoonlike/nie-persoonlike Absolute Goddelike wat as die Één Werklikheid, álle gemanifesteerde dinge transendeer. Hierdie “Ongemanifesteerde” Goddelike kan egter nié voldoende in beperkte menslike terme omskryf word nie. Die Goddelike is die inherente Oergrond van alle bestaande dinge (Engels: God is the Ground of all being).

·        Daar is 'n moontlikheid van uiteindelike eenwording tussen die onsterflike deel van lewende wesens en die Absolute Goddelike. Hierdie eenwording sal veroorsaak dat die onsterflike deel nié langer gebonde is aan 'n beperkte bestaan binne-in 'n fisiese liggaam nie.

Al drie stellings is my eie persoonlike geloofsoortuiging waarvoor ek hoegenaamd géén voldoende “empiriese” wetenskaplike getuienis het nie. Ek beweer beslis nié dat ek wéét dat die laasgenoemde drie stellings “waar” is nie, maar wel dat ek glo in die geldigheid daarvan en dat dit my lewe meer sinvol maak. Daar is dus 'n duidelike onderskeid tussen mense wat beweer dat hulle “weet” dat hul geloofsbelydenis die “waarheid” is, en mense wat erken dat hulle nie met sekerheid kan sê dat hulle “weet” dat hul geloofsbelydenis gebaseer is op die “waarheid” nie.

Godsdienstige Fundamentaliste verwys gewoonlik na 'n onsterflike deel of “siel”, wat deel is van elke mens en wat bly voortbestaan ná die dood van elke mens se fisiese liggaam. Hierdie siel verskil van mens tot mens en die status daarvan hang gewoonlik af van al die goeie en slegte denke en/of dade van die betrokke persoon. Elke mens bestaan dus uit beide 'n sterflike deel - die fisiese liggaam, én 'n onsterflike deel - die siel. Die siel is belangriker as die fisiese liggaam omdat dit kwansuis vir ewig lewe. Alle mense is deel van een van slegs twee groepe mense - die gelowige groep wat die “regte” dinge glo en die “regte” lewenswyse aanvaar, óf die ongelowige groep wat nié in daardie dinge glo en op 'n sekere manier lewe nie. Die ewigdurende gedeelte van die siel se “leeftyd” ná die afsterwe van die fisiese liggaam, word gevolglik bepaal deur dít wat elke persoon in 'n relatief kort tydperk van gemiddeld 75 jaar, gedink en/of gedoen het. Slegs die gelowige groep mense is bestem om eendag die ewige lewe in die Hemel te beërwe.

Materialistiese Ateïste daarenteen, beweer dat alles op verganklike materie gebaseer is, selfs menslike emosies soos liefde en haat. Die menslike bewussyn “verdwyn” dus nadat die fisiese brein klaar gedisintegreer het. Materialistiese fisici beweer dat daar fundamentele deeltjies is wat nié verder “opgebreek” kan word nie en wat die basis vorm van alle dinge. 'n Menslike bewussyn is dus uiteindelik ook saamgestel uit miljoene klein deeltjies, met die gevolg dat die bewussyn verdwyn nadat die deeltjies met die afsterwe van die fisiese liggaam, “weggebreek” het vanaf die oorspronklike ongeskonde fisiese brein. Daar is 'n voortdurende debat tussen een groep kwantumfisici wat glo dat alles op die ou end golwe van energie is, en 'n ander groep kwantumfisici wat glo dat alles op die ou end uit fundamentele deeltjies, soos bv. kwarke, bestaan. Wetenskaplikes wat meer “oop” is vir die moontlikheid van die bestaan van nie-materiële dinge, neig om eersgenoemde teorie méér aanvaarbaar te vind.

Spiritueel-bewuste mense glo dat daar wel 'n nie-materiële gedeelte van elke mens is wat onsterflik is en wat kan bly voortbestaan nadat die fisiese brein ontbind het. Die spoke wat deur sommige mense waargeneem word, bestaan dan ook uit energie wat onafhanklik van die fisiese liggaam kan funksioneer. Boeddhiste verwys na 'n geestelike bestendigheid (Engels: mental continuum), wat soortgelyk aan 'n vlam wat deur een kers na 'n ander oorgedra word, vanaf een liggaam na 'n ander beweeg. Antieke wysgere het geglo dat elke mens hoofsaaklik uit 'n gees, siel en liggaam bestaan. Selfs die skrywer(s) van 1 Thessalonicense 5:23 verwys as volg na hierdie drie dele van elke mens: “... en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”. Die gees (Engels: spirit) is die Goddelike “kern” van elke mens, terwyl die siel verhuis vanaf een liggaam na 'n ander deur 'n proses van óf reïnkarnasie, óf die verhuising van die siel (Engels: the transmigration of the soul). Die verskil tussen die twee konsepte is dat reïnkarnasie die verhuising van die siel vanaf een menslike liggaam na 'n ander veronderstel, terwyl die “verhuising van siele” konsep, die moontlikheid van die verhuising van die siel vanaf 'n menslike liggaam na 'n dierlike liggaam en andersom, veronderstel.

Terwyl ek die wetenskaplike getuienis vir die verskyning van verskillende lewensvorme d.m.v. evolusionêre prosesse aanvaar, glo ek dat siele ook op 'n manier evolueer deur die lesse wat geleer word gedurende baie verskillende lewens. Die idees en handelinge van 'n persoon beïnvloed nie slegs ander mense nie, maar het ook 'n wesenlike invloed op die toekomstige lewenspad van die betrokke persoon waaraan die siel “behoort”. Hindoes en Boeddhiste gebruik die woord Karma om te verwys na die verband tussen “oorsaak” en “gevolg”, m.b.t. mense se goeie en slegte denke en dade. Dit is dus nié heeltemal waar dat 'n mens “niks” met jou saamneem wanneer jy sterf nie. Jou gemoedstoestand en die evolusionêre vlak van ontwikkeling van jou siel, wat grootliks afhanklik is van al jou denke en dade gedurende jou lewe, word deel van jou volgende lewensreis in 'n ander fisiese liggaam op aarde, of miskien in 'n ander dimensie of op 'n ander planeet. 

Daar is wesenlike verskille tussen die godsbeskouinge van (1) Godsdienstige Fundamentaliste, (2) positiewe ateïste en (3) voorstanders van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing. Godsdienstige Fundamentaliste glo dat daar 'n onoorbrugbare kloof is tussen húlle God en Sy skepping. Hulle God is apart van en buite die res van die skepping en kan geensins “gelykgestel” word daarmee nie. Geen “deel” van God kan beskou word as die inherente kern van alles binne die minderwaardige skepping nie. Die panenteïstiese godsbeskouing wat deel is van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing, erken egter die werklikheid van 'n Goddelike essensie “binne” alle dinge. Die Goddelike word dus nié as 'n “Super Persoon” beskou wat planne of emosies soos jaloesie en liefde, het nie. Positiewe ateïste verwerp albei die voorgaande godsbeskouinge en glo dat die Goddelike/God nié werklik is nie en dat alle idees daaroor onwaar is en gebaseer is op wensdenkery en mense se verbeeldingsvlugte. Die ateïs André Comte-Sponville, erken egter op bladsy 82 van sy boek The Book of Atheist Spirituality, dat een van die drie klassieke argumente vir die bestaan van God - die sg. kosmologiese argument, die naaste is aan 'n moontlike “bewys” vir die bestaan van God:

“Of the three classical 'proofs' of God' existence, this is the only one I find powerful, the only one that occasionally makes me vacillate or hesitate. Why? Because contingency is an abyss in which reason loses its bearings.”

Die patroon van “oorsaak en gevolg” móés dus êrens 'n begin of “Eerste Oorsaak” gehad het.

Terwyl dit onmoontlik is om die Goddelike voldoende in beperkte menslike terme te omskryf, het sommige mense tog probeer om hul begrip daarvan te “definieer”, soos onder andere die teosowe se volgende definisie van “Theosophic pantheism”:

“It is the doctrine that the root-essence of the universe is utter divinity, that divinity pervades throughout and is the substratum, the inmost, of all beings and things - every atom, sun, universe, man, god. Theosophic pantheism [similar to the contemporary understanding of the word 'panentheism'] excludes the idea that deity is separate from the universe [in contrast to both theism and deism]; and while denying monotheism [including traditional Christians' belief in the Trinity] and polytheism... Everything that is, is a manifestation, in one degree or another, of the all-permeant [all-pervasive?], divine essence.” [1]

Verskillende terme word dus gebruik om na die onpersoonlike of nie-persoonlike Absolute Goddelike te verwys. Die Duitse filosoof Paul Tillich het gepraat van “the God beyond God” en het na die Goddelike verwys as die “Ground of all being”. Teosowe gebruik die woord Parabrahman om na die Ongemanifesteerde Goddelike te verwys. Hier is nog een van die teosowe se definisies waarmee hulle hul verstaan van die Goddelike aan mense probeer verduidelik:

“...the self-enduring, eternal, self-sufficient cause of all, the one essence of everything in the Cosmos. It is before all things in the Cosmos, and is the one sole limitless life-consciousness-substance from which starts into existence a center of force which may be called the Logos [the Word].”

Johannes 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”, kan as volg “esoteries” geïnterpreteer word:

Die “Woord” waarna hier verwys word, het heel waarskynlik dieselfde betekenis as die Logos van die antieke wysgere en teosowe - die Logos wat voort(ge)vloei het vanuit die Onpersoonlike Absolute/Goddelike. Die gemanifesteerde Kosmos ontstaan dan deur die werking van die Logos wat op sigself as 'n “skeppende” manifestasie van die Goddelike beskou kan word. Die letterlike interpretasie van hierdie vers verskil egter van die voorgaande esoteriese interpretasie, en is die tradisionele Christene se bewering dat Jesus as die “Woord” gedeelte van die Drie-Enige God, “by” God die Vader was van altyd af. Hierdie geloof in die Drie-Enige aard van God was die belangrikste deel van die berugte Geloofsbelydenis van Nicéa, wat in die jaar 325 GE opgestel is.

Godsdienstige Fundamentaliste glo op grond van hul teïstiese godsbeskouing, dat elke mens 'n persoonlike verhouding met God kan hê en dat God in staat is om “wonderbaarlike” veranderinge in hul lewens en in die wêreld teweeg te bring. Hierdie wonderwerke gebeur kwansuis soms nadat gelowiges daarvoor gebid het. Die bestemming van elke mens se onsterflike siel is afhanklik van geloof en/of die mate waartoe elke mens God se voorvereistes en verordeninge nagekom het. So byvoorbeeld beklemtoon Protestante die belangrikheid van geloof i.p.v. goeie werke, terwyl Rooms-Katolieke beide die belangrikheid van geloof én goeie werke beklemtoon. Moslems en Jode beklemtoon die belangrikheid van onderdanigheid van elke mens aan Allah of Jahwe se reëls, wette, gebooie en verordeninge. Almal van hulle glo dat die status van elke mens se siel, nooit dieselfde kan wees as God se verhewe status nie - selfs nie eens nadat die betrokke siel die ewige lewe in die Hemel ingegaan het nie! Materialistiese Ateïste neem aan dat die dood die einde van bewuste bestaan beteken en dat die gesprek oor die verhouding tussen God en Mens, gevolglik betekenisloos is.

Sommige mense het op  'n sekere stadium in hul lewens 'n mistieke belewenis van “eenwees” met die Goddelike. Gedurende hierdie belewenis voel hulle asof alle dinge deel is van slegs Een Werklikheid en dat hulself dus óók deel is van daardie Werklikheid. Tydens hierdie ervaring het hulle 'n belewenis van Onvoorwaardelike Liefde wat allesoorheersend is. Wanneer daardie betrokke persone dan weer ná daardie belewenis “terugkeer” na die alledaagse lewe, verlang hulle dan dikwels hartstogtelik terug na daardie mistieke ervaring. Daardie belewenis maak soms so 'n geweldige indruk op mense, dat hulle glo dat die permanente verwesenliking daarvan, die ware einddoel van die lewe is. Die uiteindelike permanente mistieke eenwording (Engels: merging) met die Goddelike, word dus voorgehou as dié doelwit waarna alle mense behoort te strewe. Verskillende gelowe het dan ook verskillende terme wat hulle gebruik om na daardie uiteindelike eenwording of verlossing te verwys. So byvoorbeeld gebruik “esoteriese” Boeddhiste die woord Paranirvana, terwyl Hindoes na moksha verwys. Voorstanders van die Nuwe Spirituele lewensbeskouing glo dat die strewe na uiteindelike eenwording met die Goddelike, die hoogste denkbare Ideaal is waarna mense kan strewe.

Uiteindelike eenwording met die Een Werklikheid impliseer nié dat jou afsonderlike bewussyn daarna sal verdwyn nie. Jy sal nie daarna verander in 'n soort onpersoonlike energie nie, maar sal nog steeds bewus wees. Jy sal egter ophou glo dat daar basiese onoorbrugbare verskille tussen die Goeie en die Bose is, en jy sal besef dat daar eintlik slegs Een “Iets” is en dat jy sowel as alles en almal “om jou”, deel is van daardie harmonieuse geheel. Dit sal ook dan nie meer vir jou nodig wees om te hoop en te glo dat jy eers “eendag” in die verre toekoms in, bevry sal wees nie. Emosies soos haat sal uit jou gedagtes verdwyn en jy sal voortaan verenig wees met 'n allesomvattende “Energie van onvoorwaardelike Liefde”.



[1] http://www.theosociety.org/pasadena/etgloss/pa-peq.htm

2 opmerkings:

  1. "Al drie stellings is my eie persoonlike geloofsoortuiging waarvoor ek hoegenaamd géén ... getuienis het nie. Ek beweer ... dat ek glo in die geldigheid daarvan...."

    Volg my, ek is clueless ;)

    AntwoordVee uit
  2. Ons verskil duidelik van mekaar in dié opsig dat jy hoegenaamd geen waarde heg aan enige geloofsuitsprake (metafisiese aannames) oor die aard van die hiernamaals en die Goddelike, waarvoor mense geen geldige “empiriese” bewyse het nie. Terwyl ek erken dat daar oorweldigende getuienis is dat baie mense se geloof in die hiernamaals en die Goddelike hulle wel gehelp het om meer sinvolle en gelukkiger lewens te lei, is dit vir jou voldoende om te fokus op tydelike, verganklike materiële dinge. In jou ideale wêreld word daar tot so ʼn mate aan mense se materiële behoeftes voldoen dat hulle nie die nodigheid daarvan sal insien om te strewe na uiteindelike eenwording met die Goddelike nie. Mense het duidelik verskillende behoeftes en ek sal jou daarom nié m.b.v. rasionele argumente kan oortuig dat my lewensbeskouing en gevolglike behoefte aan ʼn geloof in die hiernamaals en Goddelike, beter is as jou materialistiese behoeftes nie.

    AntwoordVee uit