Bladsye

Woensdag, 02 Januarie 2013

'n Herlewing van antieke spirituele wyshede

Die Griekse filosoof Plato het verwys na 'n kontinent met die naam Atlantis wat na bewering duisende jare gelede onder die see verdwyn het as gevolg van 'n geweldige natuurramp. Die inwoners van daardie kontinent het blykbaar vir baie jare in 'n soort idilliese paradys gelewe en het 'n lewenswyse gehad wat op ideale godsdienstige/spirituele idees gebaseer was. Naderhand het 'n sekere deel van daardie beskawing afgewyk van die oorspronklike “perfekte godsdiens” en het hulle begin om die Donker Kunste te beoefen. Sommige navorsers beweer dat die natuurramp 'n soort straf was vir die “sondige” lewe wat die inwoners gelei het.

Hedendaagse navorsers soos o.a. die Britse skrywer Graham Hancock, beweer in sy boeke Fingerprints of the gods en Underworld, dat daar werklik so 'n “super-beskawing” was waarvan sommige lede seevaarders was wat hul wyshede met ander beskawings gedeel het. Die Atlantiërs was na bewering die oorspronklike argitekte van die piramiedes van Egipte en Suid-Amerika. Na die natuurramp het sommige van die oorlewendes na ander dele van die wêreld gereis en was hulle die skeppers van die antieke beskawings van Egipte, Sumerië en Indië. Sommige navorsers beweer dat die Indoe-Ariërs wat Indië binnegeval het, óók afstammelinge was van die inwoners van Atlantis en dat die oorspronklike Hindoe-geloof en die Vedas-geskrifte waarop daardie geloof gebaseer was, baie soortgelyk was aan die Atlantiërs se “perfekte godsdiens”. 

Die oorspronklike kastestelsel is in Indië ingestel om 'n vorm van “Apartheid” te handhaaf tussen aan die een kant die godsdienstige regeerders en militêre leiers bestaande uit hoofsaaklik blankes, en aan die ander kant die res van die bevolking. Op daardie stadium het die Indoe-Ariërs alreeds afgewyk vanaf hul voorouers se verhewe godsdienstige en morele waardes, juis omdat hulle neergesien het op die nie-blanke bevolking en hulle gevolglik onderdruk het. Daardie “Apartheidswette” was op die ou end tog nie so doeltreffend nie, omdat die nie-blankes en blankes dikwels ondertrou het en die voorouers was van die latere Indiërs. Die blankes kon naderhand nie langer die nie-blankes binne hul geledere doeltreffend onderdruk nie. Soortgelyk daaraan kon die latere Romeinse ryke en republieke ook op die ou end nie die afstammelinge van hul slawe voldoende beheer nie. Dit herinner nogal baie aan die soortgelyke ervarings van Afrikaners duisende jare daarna!

Die wysgere wat duisende jare gelede gelewe het, het hulself dikwels in selle of geheime organisasies gegroepeer en het ook slegs sekere waarhede aan die ander ingewydes wat aan daardie groepe behoort het, bekendgemaak. So byvoorbeeld moes Pythagoras se aanhangers stapsgewys sekere inisiasies ondergaan voordat belangriker kennis en wyshede aan hulle bekendgemaak is. Hulle was verbied om daardie kennis aan die nie-ingewyde bevolking bekend te maak. Die geheime of “esoteriese” spirituele waarhede wat aan die ingewydes bekend was, het verskil van die “eksoteriese” waarhede waarvan baie ander mense bewus was. Die Bybel verwys na diegene wat wegbeweeg het vanaf “melkkos” en wat daarna gereed was vir die “vaste voedsel” oftewel diepere betekenisse van spirituele waarhede. Baie van die feëverhale en mites van die verlede het sekere esoteriese betekenisse gehad wat alleenlik deur ingewydes verstaan is. Die ou wysgere het dikwels daardie stories gebruik om die wyshede oor te dra na ander ingewydes van toekomstige geslagte. So het sekere Bybelverse eintlik esoteriese betekenisse - Bybelverse wat dikwels anders op 'n letterlike manier deur Ortodokse Christene geïnterpreteer is.

Die eksoteriese verstaan van die “heilige” geskrifte het lateraan só prominent geword, dat die esoteriese verstaan daarvan onderdruk is en die aanhangers van die esoteriese wyshede dikwels op gewelddadige wyse vervolg is. Dit is egter insiggewend dat die esoteriese tradisie nog steeds binne bykans alle gelowe teenwoordig is. Dit vorm die kernbetekenis van teologiese en godsdienstige idees wat op die ou end alle godsdienstige tradisies op 'n manier aan mekaar verbind. Die wysgere van die verskillende godsdienste gebruik byvoorbeeld verskillende woorde om na dieselfde “esoteriese” begrip te verwys. Esoteriese Boeddhiste verwys na die essensiële leegheid (Engels: essential emptiness) van alle dinge insluitend elke persoon se innerlike Boeddha-natuur, terwyl Hindoe Brahmaniste die woord Brahman gebruik om na die Goddelike Absolute te verwys; asook die woord Atman om na elke persoon se inherente Goddelike gees of “vonk” te verwys. Teosowe gebruik die woord Parabrahman wanneer hulle na die Onpersoonlike Goddelike verwys, terwyl Taoïste praat van die Tao.

Die eksoteriese of “letterlike” verstaan van godsdienstige geskrifte het dikwels “gewone” mense bewus gemaak van die belangrikheid van 'n geloof in iets hoër as hulself; asook van die belangrikheid van goeie morele norme en waardes. Letterlike interpretasies was ongelukkig 'n handige hulpmiddel in die hande van selfsugtige maghebbers, wat gelei het tot die latere onderdrukking en misleiding van miljoene volgelinge van godsdienste. Solank mense nie wegbeweeg vanaf die idee van 'n Almagtige God wat bewus is van elke haar op elke mens se kop nie, sal hulle vasgevang bly binne die vreesaanjaende dogmas van die georganiseerde monoteïstiese gelowe. Ek het alreeds die samewerking tussen politici en kerkleiers breedvoerig bespreek, maar wil egter ook daarop wys dat wysgere miskien oorspronklik goeie bedoelings gehad het toe hulle die eksoteriese verstaan van sogenaamde heilige geskrifte aan andere bekendgemaak het, ten einde goeie morele norme en waardes aan die res van die samelewing voor te hou.

Omdat sekere beskawings duisende jare gelede moontlik beter spirituele norme en waardes as die hedendaagse postmoderne mense gehad het, beweer sommige denkers dat daar moontlik lank gelede 'n Goue Era in die wêreld was en dat ons vandag 'n soort Donker Era beleef. Sommige Hindoes en teosowe glo in die sikliese aard van wêreldse gebeure en dat die wêreld nie noodwendig gaandeweg verbeter het nie. Tegnologiese vooruitgang en die ontwikkeling op wetenskaplike terreine impliseer ook nié noodwendig dat mense na gelang van tyd “beter” word nie. Mense kan byvoorbeeld wonderlike tegnologieë hê, maar hulle kan daardie kennis aanwend om geweldige skade aan die aarde aan te rig indien hulle nié goeie spirituele norme en waardes sou nastreef nie. Oliemaatskappye het deur die jare geweldig baie winste gemaak, maar ongelukkig het daardie winste en tydelike voordele vir veral Westerlinge, gepaardgegaan met die besoedeling van die oseane en die vernietiging van seelewe.

Ek het jare gelede die “Hindoe-Bybel” naamlik die Bhagavad Gita, gelees en besef dat Hindoes óók onder mekaar verskil wat betref hul godsbeskouinge. Die lede van die Hindoe-kultus International Society for Krishna Consciousness (die sg. “Hare Krishna” kultus), glo dat God 'n Persoon, naamlik Krishna is en hulle verwys dikwels na Krishna as die “Supreme Personality of Godhead”. Sommige ander Hindoes soos byvoorbeeld Brahmaniste en Advaita Vedanta-ondersteuners, glo in God as 'n Onpersoonlike Absolute. Die eksoteriese gedeelte van godsdienste het die verstaan van die Goddelike naderhand verpersoonlik deur menslike eienskappe aan die Goddelike toe te eien. Op daardie manier was die verstaan van die Goddelike egter meer toeganklik vir die meeste ander mense, omdat dit makliker vir hulle was om God as 'n Persoon te beskou waarmee mense op 'n persoonlike vlak verhoudings kon hê. Baie wysgere het dus 'n meer panenteïstiese godsbeskouing gehandhaaf, terwyl die “gewone” godsdienstige mense, 'n teïstiese verstaan van die Goddelike ontwikkel het.

Daar word dikwels na Boeddhisme verwys as 'n “ateïstiese” godsdiens of manier van lewe, omdat baie Boeddhiste soos o.a. die Dalai Lama, beslis nié in 'n Persoonlike, Almagtige Skeppergod glo nie. Dit is egter insiggewend dat die volgende gedeelte op bladsye 3 en 4 van die inleiding tot die boek Pure Land Pure Mind, geskryf deur Boeddhistiese Meesters Chu-hung en Tsung-pen, soortgelyk is aan hedendaagse denkers soos o.a. Karen Armstrong, Ken Wilber, Deepak Chopra en Biskop John Shelby Spong, se panenteïstiese godsbeeld:

“'Buddha' is the name for the one reality that underlies all forms of being, as well as an epithet for those who witness and express this reality. According to the Buddhist Teaching, all people possess an inherently enlightened true nature that is their real identity. By becoming mindful of buddha, therefore, people are just regaining their own real identity. They are remembering their own buddha-nature. ... Buddha exists in many forms, but all share the same 'body of reality', the same Dharmakaya, which is formless, omnipresent, all-pervading, indescribable, infinite - the everywhere-equal essence of all things, the one reality within-and-beyond all appearances.”

Dit was dus vir baie filosowe en “mistieke” wysgere méér wenslik om die Goddelike te verstaan as 'n Absolute Werklikheid waarmee 'n direkte belewenis van mistieke eenwording moontlik was, terwyl die verstaan van die Goddelike as 'n “Super-Persoon” buite Sy skepping, makliker was vir die meeste ander “gewone” mense vir wie dit nie van wesenlike belang was om gedurig oor die aard van die Goddelike te filosofeer nie. 'n Letterlike in plaas van allegoriese of esoteriese verstaan van “heilige geskrifte”, was ook meer geskik vir “nie-filosofiese” mense. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking