Moderniste beklemtoon
die outonomie van die individu en van bepaalde groepe mense, in teenstelling
met die pre-moderne era se mense se beklemtoning van die belangrikheid van die
bepalende invloed van 'n buite-menslike objektiewe God of Absolute. Volgens moderniste
is die mens die maatstaf van alle dinge en gebruik mense hul verstandelike
vermoëns om die wêreld 'n beter plek te probeer maak deur die gebruikmaking van
tegnologie en humanistiese norme en waardes. Moderniste poog om hul eie idees
aangaande “vooruitgang” op alle mense en kulture van toepassing te maak. Die
koloniale magte het bv. hul “meerderwaardige” tegnologie en godsdienste
bekendgestel aan die inboorlinge van Afrika en Amerika. Fascisme beklemtoon die
belangrikheid van die Staat, Nietzsche praat van die Übermensch as hoogste ideaal van die mensdom, terwyl
kommuniste strewe na die verwesenliking
van die ideaal van die gemeenskaplike besit van alle eiendomme en hulpbronne.
Postmoderniste
daarenteen, beklemtoon die bepalende memetiese (vergelyk Richard Dawkins se memes) invloed van mense se handelinge
en houdings op ander mense. Postmoderniste ontken die bestaan van objektiewe,
absolute waardes buite die mens. Volgens hulle is daar géén gemeenskaplike
norme of waardes wat deur alle mense en alle beskawings nagevolg behoort te
word nie, en is alle mense se lewenswaardes afhanklik van die invloed wat die
waardes en gedrag van ánder mense op hulle het. Postmoderniste kritiseer o.a.
die koloniale magte se pogings om hul eie norme en waardes op die Afrikane en
Rooi-Indiane van Amerika af te dwing. Waardes en norme is volgens
postmoderniste altyd relatief en verander met verloop van tyd. Daar is
vervolgens geen gemeenskaplike ideaal of utopiese wêreldorde waarna alle mense
behoort te strewe nie. Postmoderniste verwerp dus die Boeddhiste se strewe na
Nirvana, die Christene se hoop op ʼn Ewige Lewe en die Moslem-selfmoordenaar se
hoop op prettige tye saam met 72 maagde in die hiernamaals. Materialistiese
Ateïste is gewoonlik óf ondersteuners van modernisme, óf van postmodernisme.
Terwyl baie Materialistiese Ateïste ondersteuners is van postmodernisme en
morele relativisme, is daar andere soos Sam Harris wat in sy boek The Moral
Landscape, beweer dat die wetenskap wél sekere riglyne en gemeenskaplike
waardes aan alle mense kan verskaf wat kan lei tot 'n beter wêreld met minder
pyn en lyding. Dan is daar ook humanistiese ateïste en agnostici, soos bv. lede
van The New York Society for Ethical Culture [1] wat reken dat die
bevordering van die waardes van Etiese Humanisme kan lei tot 'n beter wêreld.
Kritici van
postmodernisme beweer dat dit lei tot 'n vervlakking van mense se lewens, omdat
daar geen gemeenskaplike objektiewe waardes is wat samehorigheid binne 'n
samelewing bewerkstellig nie. Die idee dat die Pous, Koning of Keiser, die
verteenwoordiger van God op aarde is, het 'n gemeenskaplike saambindende geloof
verskaf aan mense gedurende pre-moderne tye. Terwyl daar sekere voordele
daaraan verbonde is om weg te beweeg vanaf ou en uitgediende konsepte wat
voorheen as die “absolute waarheid” deur beide godsdienstiges en wetenskaplikes
aanvaar is, is dit ongelukkig 'n probleem wanneer die meeste inwoners van 'n
land só ingestel is op individuele vryheid dat daar gevolglik byna géén ander gemeenskaplike
waardes is wat deur hulle nagevolg word nie. Dit kan 'n samelewing daarvan
weerhou om voldoende weerstand te bied teen uiterlike bedreigings. 'n Goeie
voorbeeld hiervan is baie hedendaagse Europese lande wat postmodernisme omarm
het, en as gevolg daarvan min weerstand bied teen die Moslem-immigrante wat hul
eie fundamentalistiese lewenswaardes soos bv. Sharia wette, op die
Europeërs wil afdwing.
Prof. Danie Goosen
verwoord as volg die verskille tussen modernisme en postmodernisme op bladsy
168 van sy boek Die Nihilisme:
“Die modernisme en die postmodernisme word gekenmerk deur óf ʼn dualisme
waarvolgens ʼn voorkeur aan die outonome self ten koste van die gemeenskap gegee word (die modernisme), óf ʼn monisme
waarvolgens die self en die ander van hul selfstandigheid ontneem en in ʼn gryse
indifferensie opgeneem word (die postmodernisme).”
Modernistiese
regeringsvorms soos o.a. fascisme en kommunisme het 'n gemeenskaplike ideaal of
doelwit aan die burgers van sodanige lande verskaf, terwyl postmodernistiese,
liberale humanisme uiteindelik lei tot 'n gryse afplatting of indifferensie
(die woord wat prof. Danie Goosen gebruik) binne 'n samelewing. Postmodernisme
word deur hom beskou as een van die oorsake van nihilisme (die verwerping van
die idee dat die lewe enige noemenswaardige betekenis of waarde kan hê).
Materialisme, verbruikerisme en kleinlike selfsug vul gewoonlik die lugleegte
wat deur postmodernisme veroorsaak word.
Godsdienstige
Fundamentaliste neem dikwels hul kans waar om ook die lugleegte te vul wat
veroorsaak word deur die invloed van postmodernisme op veral jong Westerse
Europeërs. Richard Dawkins het onlangs gereageer op die kommerwekkende tendens
in Brittanje waar ongeveer 5 000 mense per jaar die Moslem-geloof aanvaar. Sy volgende
opmerking is nogal tipies van 'n “modernistiese” ateïs se bekommernis oor die
toename in populariteit van Godsdienstige Fundamentalisme onder veral die jeug
van Brittanje:
“These young
people [new converts to Islam] have voluntarily adopted a belief system which
has the unique distinction of prescribing execution as the official penalty for
leaving it. I have enormous sympathy for those people unfortunate enough to be
born into Islam. It is hard to muster much sympathy for those idiotic enough to
convert to it.” [2]
Die bekende
Suid-Afrikaanse skeptikus en ateïs, George Claassen, kritiseer postmodernisme as volg
op bladsye 235 tot 239 van sy boek Geloof, bygeloof en ander
wensdenkery:
“Wat hierdie
soort postmodernistiese denke inderdaad
doen, is om die rasionele denkprosesse van die wetenskap te bevraagteken en
verdag te maak. Wetenskaplike feite bestaan dus nie meer nie, maar moet gesien
word uit die oogpunt van wie dit vertel.”
Op
bladsy 237 sê hy die volgende:
“Die
postmoderniste se aanval op die wetenskap en die werklikheid sal geen jota of
tittel verander aan daardie werklikheid nie. ... Geesteswetenskaplikes wat
hierdie universele [wetenskaplike] wette ontken, is onwetenskaplik en blindes
wat die blindes lei.”
Interessant
genoeg verwys hy ook op bladsy 238 na Richard Dawkins se kritiek teen
postmodernisme in o.a. die hoofstuk “Sense and sensibility” van sy boek A
devil's chaplain: selected essays by Richard Dawkins en sy Nature-artikel
met die opskrif “Postmodernism disrobed”.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking