Daar word dikwels op die filosofiese terrein
onderskei tussen “dualiste” wat glo dat daar wisselwerkings is tussen
geestelike entiteite en materie en dat die gees of siel selfs onafhanklik van
materie kan funksioneer; en materialiste wat glo dat materie basies die enigste
werklikheid is. Die belangrikste gevolgtrekking wat filosofiese materialiste
maak op grond van hul aanname dat alles uiteindelik uit materie (insluitende
gewone en “donker” materie) bestaan of daarvan afhanklik is, is dat die mens
nié 'n nie-materiële deel het wat onafhanklik van die fisiese liggaam kan
funksioneer nie. Alle oënskynlike “geestelike” dinge is dus uiteindelik
afhanklik van chemiese reaksies tussen materie-deeltjies, insluitende die
menslike bewussyn en gevoelens soos liefde en haat. Die belangrikste aanname
van materialiste is dus dat die bewustelike voortbestaan van die mens na die
dood van die fisiese liggaam, nié moontlik is nie. Hulle neem ook aan dat daar
nie entiteite soos spoke en geeste van afgestorwenes bestaan nie. Gevolglik
neem hulle óók aan dat daar nié 'n God of gode bestaan wat onafhanklik van
materie kan bestaan en wat van “buite” materie hul denkvermoë kan gebruik om
materie te beïnvloed nie. Miskien is daar tog 'n handjievol materialiste wat wel
glo dat daar 'n Almagtige God is wie se bestaan afhanklik is van slegs materie,
en dat sodanige God dus 'n nie-spirituele “materiële” God is. Voorgaande
impliseer dus dat die oorgrote meerderheid van alle materialiste dus noodwendig
óók ateïste is.
Terwyl materialiste dus nié begaan is oor die
status van hul eie bewustelike bestaan na die dood nie, is Evangeliese
Christene wel bekommerd oor die status van hul eie sowel as “ongelowiges” se
siele na die dood, veral indien die halsstarrige ongelowiges nié sou besluit om
Jesus as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker te aanvaar nie. Daarom probeer
Evangeliese Christene gedurig om ander mense te oortuig van die geldigheid van
hul eie Christelike idees. Materialiste daarenteen, is slegs begaan oor die
lewe hier en nou en strewe gewoonlik daarna om die kwaliteit van hul lewens te
verbeter. Baie van hulle is dus hoofsaaklik begaan oor hulself, oor hul familie
en naasbestaandes en tot 'n mindere mate oor die res van die mensdom. Hulle
verskil egter van mekaar betreffende die mate waarin hulle bekommerd is oor hul
eie persoonlike welsyn en dié van ander mense. Sommige van hulle is hoofsaaklik
selfsugtig en sal selfs hul naasbestaandes benadeel solank hulle net persoonlik
daardeur bevoordeel kan word. Andere is weer bekommerd oor die feit dat kinders
in Ethiopië nie genoeg kos het om te eet nie en daar is selfs van hulle wat
strewe na 'n paradys op aarde waarbinne alle mense in harmonie met mekaar sal
saamleef en alles met mekaar sal deel. Die 64 miljoen dollar vraag is natuurlik
hoeveel materialiste bereid sal wees om hulself te benadeel
ter bevoordeling van mense wat hulle nie eers persoonlik ontmoet het nie.
Hoeveel van hulle sal die nodige opofferings maak sodat (vreemde) mense 100
jaar van nou af beter lewensomstandighede kan hê?
Omdat
materialiste glo dat die lewe na die dood onmoontlik is, glo hulle gelyktydig
óók dat hiérdie sterflike aardse lewe (of miskien lateraan moontlike lewe op
ander planete?) die enigste lewe is wat ons kan ken. Terwyl daar 'n minderheid
mense is wat “van nature” goeie dinge kan doen aan ander mense en aan
nie-menslike diere, sonder die verwagting om daarvoor beloon te word met 'n som
geld of 'n ewige lewe, is baie mense ongelukkig nié “van nature” altruïsties
van aard nie en verwag hulle dat hulle beloon moet word vir elke ongemaklike
opoffering. Dit maak vir sodanige mense dan ook weinig sin om Natuurbewaring te
doen sodat wit renosters nog 200 jaar van nou af op die aarde kan wees. Die
voorgaande impliseer dus dat wat ook al die plek gaan inneem van ou en
uitgediende godsdienstige waardes, doeltreffend genoeg behoort te wees om baie
mense sodanig te motiveer dat hulle hoofsaaklik “goeie” dade in plaas van
“slegte” dade sal verrig.
Hoe kan mense aangemoedig word om te besef
dat hulle behoort om te gee vir mekaar en vir die omgewing en dat hulle nie
slegs moet fokus op die bevrediging van hul eie kortsigtige belange nie? Is die
“regte” manier van opvoeding en onderwys die antwoord? Wie besluit wat die
“regte” manier van opvoeding en onderwys behoort te wees en watse inhoud die
skole se leerplanne behoort te hê? Mens hoor veral in Suid-Afrika dat opvoeding
dié antwoord op die oplossing van die probleme van die land is, en dat
genoegsame, professionele opleiding, skoliere en studente in staat sal stel om
meer vaardig te wees en makliker beroepe te kry. Die leerplanne word gewoonlik
deur 'n owerheid opgestel en dit is dan ook in ooreenstemming met wat ook al
die regeringsbeleid van die dag is.
Indien die regeringsleiers ondersteuners is
van Materialistiese Ateïsme, het hulle gewoonlik óf hoofsaaklik 'n
(postmodernistiese) liberale, humanistiese benadering, óf 'n (modernistiese)
benadering waarvolgens skoliere en studente veronderstel is om spesifieke norme
en waardes na te volg. 'n Goeie voorbeeld van laasgenoemde was natuurlik die ou
Sowjetunie. Daar word van die regeringsleiers verwag om in so 'n land
ondersteuners te wees van die staat of party se ideologie. Indien hulle, a.g.v.
onder andere korrupsie, sou besluit om hulself finansieel te bevoordeel ten
koste van die staat se belange, word hulle soms vervolg en gestraf daarvoor.
Dit is dus duidelik dat die regeringsleiers ook op 'n manier gedwing word om
sekere norme en waardes na te volg. Die vraag wat ek poog om te beantwoord, is
waarom 'n oorwegend Materialisties-Ateïstiese regering hulself sal beywer vir
die welsyn van die res van die mensdom, sowel as vir die welsyn van die res van
die lewensvorme van die planeet aarde. Waarom sal hulle bekommerd wees oor die
toekomstige welsyn van die nageslag van die res van die mensdom, indien hulle
nóg in die verhuising van hul eie siele, nóg in die strawwe van die God van die
tradisionele godsdienste, glo? Kommunistiese regeringsleiers het vir baie jare
voorgegee dat hulle strewe na die totstandkoming van 'n toekomstige
proletariese paradys waarbinne alles gemeenskaplik deur alle mense besit sal
word. In die praktyk het hulle egter hoofsaaklik hulself bevoordeel ten koste
van hul onderdane.
Tot watter mate kan 'n Materialisties-Ateïstiese
lewensbeskouing iemand aanspoor om opofferings te maak wat kan lei tot die
verbetering van die welsyn van die meeste lewende wesens? Waarom sal iemand wat
glo dat daar geen lewe na die dood is en ook geen God is wat kwaaddoeners kan
straf nie, homself benadeel tot voordeel van die meeste ander mense? 'n Lid van
'n Kommunistiese Party sal dit dalk doen uit vrees vir die weerwraak van sy
mede-partygenote, terwyl 'n materialistiese burger van Swede of Japan dit sal
doen uit vrees vir die arm van die gereg. Ek beweer beslis nié dat alle
materialiste eintlik basies selfsugtig is en gedwing moet word om “goeie” norme
en morele waardes na te volg nie, maar dit is wel 'n feit dat die meeste van
hulle dit onsinnig en belaglik vind om hul eie kortsigtige materiële rykdomme,
gemak en plesier en dié van hul vriende en naasbestaandes, “vrywillig” op te
offer ter wille van die welsyn van ander “vreemde” mense en nie-menslike diere.
Dit is inderwaarheid so dat Liefde die
antwoord is op die probleme van die mensdom, maar wat is die beste metodes wat
gebruik kan word om hierdie feit by mense tuis te bring? Sal hulle van
staanspoor af so ingestel wees as aan al hul materiële behoeftes voorsien word,
moet hulle met geweld gedwing word om vir mekaar om te gee, of moet hulle
permanent 'n gemoedstoestand hê wat gebaseer is op die vrees dat hulle eendag
in die hel sal beland as hulle die “verkeerde” dinge glo of doen? Godsdienstige
mense het vir duisende jare hul idees op die mensdom probeer afdwing, terwyl
materialiste se mooiklinkende ideale hoofsaaklik gelei het tot state waarbinne
die mense uiteindelik sinnelose selfsug, hebsug en verbruikerisme omhels het.
Miskien is die beste metode dalk daarin geleë dat die meeste mense die
voorbeeld kan navolg van spiritueel-bewuste mense wat deur hul lewenswyse en
optrede teenoor andere, 'n soort “hemel-op-aarde” kan bewerkstellig? Deur te
fokus op die gedeelde Goddelike kern binne alle mense en binne alle ander
lewende wesens, kan hierdie “spirituele elite” miskien in sodanige posisie wees
dat hulle hul idees kan toepas binne sekere gebiede wat deur hulle besit en
beheer word. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die Findhorn Foundation [1]. Ander
mense wat buite hierdie gebiede woon, behoort dalk in 'n toenemende mate te
besef dat hul eie state wat gebaseer is op óf 'n Godsdienstig-Fundamentalistiese,
óf 'n Materialisties-Ateïstiese lewensbeskouing, op die ou end tog nié so
doeltreffend is soos 'n gemeenskap waarvan die meeste mense se lewenswaardes
hoofsaaklik gebaseer is op 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking