Die meeste
hedendaagse debatte oor godsdienstige kwessies vind hoofsaaklik plaas tussen
voorstanders van Godsdienstige Fundamentalisme (soos bv. dr. William Lane Craig
en dr. Michael Licona) en voorstanders van Materialistiese Ateïsme (soos bv.
Richard Dawkins en Sam Harris). Dit skep gewoonlik die indruk by baie mense dat
daar eintlik basies slegs twee belangrike idees oor die Goddelike is en dat
mens behoort te kies tussen óf die geloof daarin dat God Persoonlik van aard
is, óf die idee dat daar geen God of Goddelike is nie. Daar is egter nog 'n derde
lewensbeskouing wat gebaseer is op die geloof dat die Goddelike nié Persoonlik
van aard is nie. Laasgenoemde lewensbeskouing is ongelukkig nié so welbekend
aan Westerlinge soos die voorgaande twee nie, omdat dit nader is aan gelowe van
die Verre-Oosterse lande - gelowe soos o.a. Hindoeïsme en Boeddhisme. As gevolg
van die invloed van tradisionele Calvinistiese lewenswaardes en die feit dat
Suid-Afrika se Grondwet vóór 1994 gebaseer was op geloof in die Drie-Enige God
van die tradisionele Christendom, is die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners
ondersteuners van Godsdienstige Fundamentalisme en neem hulle gewoonlik aan dat
enigiemand wat nié in 'n Persoonlike God glo nie, van staanspoor af 'n ateïs
“móét” wees.
Terwyl die
strewe na tydelike materiële geluk en plesier vir baie mense genoegsame sin
verskaf, is daar sommige mense vir wie dit nié bevredigend genoeg is nie. Vir
hulle is die bewering dat die bestaan van die mens 'n toevallige gebeurtenis is
in 'n heelal wat basies sinneloos en betekenisloos is, onaanvaarbaar. Die
geloof en hoop op die voortsetting van bewuste bestaan ná die afsterwe van die
tydelike fisiese liggaam, verskaf aan hulle 'n beter gevoel van sinvolheid.
Gevolglik is hulle dikwels minder wraakgierig en verbitterd wanneer hulle
terugdink aan al die oënskynlike onnodige pyn, lyding en onenigheid wat deel
was van 'n groot deel van hul eie lewenservaringe.
Baie mense wat
'n behoefte het aan 'n geloof in iets groter as hulself en die besef dat daar
tog 'n Goddelike Werklikheid “agter” alles moet wees, is dikwels ontevrede met
die beweerde eienskappe van die Gode van die meeste tradisionele godsdienste.
Die idee dat God soortgelyk is aan 'n ou man met 'n wit baard wat êrens op 'n troon
sit en besluit het dat die meeste van Sy miserabele skepsels bestem is om vir
alle ewigheid in die hel te vertoef, is vir hulle onversoenbaar met byvoorbeeld
die onvoorwaardelike liefde wat 'n ma vir haar kind behoort te hê. Baie
tradisionele Christene se gedurige beklemtoning van hul God se sogenaamde
onvoorwaardelike Liefde vir Sy skepsels, verander egter geensins die
ongemaklikheid van hul dogmatiese idees oor die hel nie.
Mense wat tuis voel
met die idee dat die Goddelike onpersoonlik of nie-persoonlik van aard is en
dat die verhuising van 'n onsterflike deel van die mens vanaf een liggaam na 'n
ander, 'n méér sinvolle manier van dink is oor die lewe na die dood, se
lewensbeskouing is deel van wat ek noem die Nuwe Spirituele lewensbeskouing.
Baie van hulle vereenselwig hulself egter met sekere idees van die sogenaamde
“Nuwe Era” beweging wat deur onlangse films soos o.a. The Secret en What
the Bleep Do We Know!?, gepopulariseer is. Die gevolglike mooiklinkende
idee dat elke mens sy/haar eie werklikheid kan skep deur slegs die
gebruikmaking van hul eie persoonlike gedagtes en houdings, vind aanklank by
baie mense wat ontnugter geraak het met beide tradisionele godsdienstige idees
én die selfgesentreerde materialisme van die meeste Westerse mense. Ek
distansieer myself van daardie naïewe “The Power of Positive Thinking” manier
van dink en wil as deel van my argumente in hierdie boek dit duidelik stel dat
beslis nié alle spiritueel-bewuste mense hulself daarmee vereenselwig nie. Ek
besef dat mense se uiterlike omstandighede en oorgeërfde gene óók 'n wesenlike
invloed het op hul lewenskwaliteit.
My eie wêreld-
en lewensbeskouing is egter nader aan 'n méér Gnostiese en/of Boeddhistiese
wêreldbeskouing waarvolgens alle mense op 'n manier vasgevang is in 'n
objektiewe wêreld waarbinne hulle beslis nié hul eie toekoms kan bepaal deur
hoofsaaklik 'n positiewe houding teenoor hul lewensomstandighede te hê nie. Die
hoofdoel van elke mens is om maniere te vind om te kan “ontsnap” vanuit hierdie
beperkte aardse bestaan waarbinne hulle uitgelewer is aan natuurlike kragte en
menslike magte wat hoofsaaklik buite hul beheer is. Die koestering van
positiewe gedagtes en meditasie tegnieke kan egter belangrike bydraes lewer tot
die uiteindelike verlossing van elke mens; asook die nastreef van spirituele
norme en waardes en 'n voortdurende bewustheid van die Goddelike.
Vervolgens
vergelyk ek my eie idees aangaande die eienskappe van die mens, die eienskappe
van die Goddelike en die verhouding tussen die mens en die Goddelike, met dié
van beide Godsdienstige Fundamentaliste en dié van Materialistiese Ateïste.
Hier is 'n kort opsomming van die geloofsbelydenis van die Nuwe Spirituele
lewensbeskouing waarna ek deurgaans in hierdie boek verwys en waarvan ek ook 'n
voorstander is:
·
Elke lewende wese het
'n onsterflike deel wat onafhanklik kan funksioneer van die fisiese liggaam en
wat bewustelik bly voortbestaan ná die dood van die fisiese liggaam. Hierdie
onsterflike deel verhuis vanaf een fisiese liggaam na 'n ander.
·
Daar is ʼn
onpersoonlike/nie-persoonlike Absolute Goddelike wat as die Één Werklikheid, álle gemanifesteerde
dinge transendeer. Hierdie “Ongemanifesteerde” Goddelike kan egter nié
voldoende in beperkte menslike terme omskryf word nie. Die Goddelike is die
inherente Oergrond van alle bestaande dinge (Engels: God is the Ground of all being).
·
Daar is 'n
moontlikheid van uiteindelike eenwording tussen die onsterflike deel van
lewende wesens en die Absolute Goddelike. Hierdie eenwording sal veroorsaak dat
die onsterflike deel nié langer gebonde is aan 'n beperkte bestaan binne-in 'n
fisiese liggaam nie.
Al drie
stellings is my eie persoonlike geloofsoortuiging waarvoor ek hoegenaamd géén
voldoende “empiriese” wetenskaplike getuienis het nie. Ek beweer beslis nié dat
ek wéét dat die laasgenoemde drie stellings “waar” is nie, maar wel dat ek glo
in die geldigheid daarvan en dat dit my lewe meer sinvol maak. Daar is dus 'n
duidelike onderskeid tussen mense wat beweer dat hulle “weet” dat hul
geloofsbelydenis die “waarheid” is, en mense wat erken dat hulle nie met
sekerheid kan sê dat hulle “weet” dat hul geloofsbelydenis gebaseer is op die
“waarheid” nie.
Godsdienstige
Fundamentaliste verwys gewoonlik na 'n onsterflike deel of “siel”, wat deel is
van elke mens en wat bly voortbestaan ná die dood van elke mens se fisiese
liggaam. Hierdie siel verskil van mens tot mens en die status daarvan hang
gewoonlik af van al die goeie en slegte denke en/of dade van die betrokke
persoon. Elke mens bestaan dus uit beide 'n sterflike deel - die fisiese
liggaam, én 'n onsterflike deel - die siel. Die siel is belangriker as die fisiese
liggaam omdat dit kwansuis vir ewig lewe. Alle mense is deel van een van slegs
twee groepe mense - die gelowige groep wat die “regte” dinge glo en die “regte”
lewenswyse aanvaar, óf die ongelowige groep wat nié in daardie dinge glo en op
'n sekere manier lewe nie. Die ewigdurende gedeelte van die siel se “leeftyd”
ná die afsterwe van die fisiese liggaam, word gevolglik bepaal deur dít wat
elke persoon in 'n relatief kort tydperk van gemiddeld 75 jaar, gedink en/of
gedoen het. Slegs die gelowige groep mense is bestem om eendag die ewige lewe
in die Hemel te beërwe.
Materialistiese
Ateïste daarenteen, beweer dat alles op verganklike materie gebaseer is, selfs
menslike emosies soos liefde en haat. Die menslike bewussyn “verdwyn” dus nadat
die fisiese brein klaar gedisintegreer het. Materialistiese fisici beweer dat
daar fundamentele deeltjies is wat nié verder “opgebreek” kan word nie en wat
die basis vorm van alle dinge. 'n Menslike bewussyn is dus uiteindelik ook
saamgestel uit miljoene klein deeltjies, met die gevolg dat die bewussyn
verdwyn nadat die deeltjies met die afsterwe van die fisiese liggaam,
“weggebreek” het vanaf die oorspronklike ongeskonde fisiese brein. Daar is 'n
voortdurende debat tussen een groep kwantumfisici wat glo dat alles op die ou
end golwe van energie is, en 'n ander groep kwantumfisici wat glo dat alles op
die ou end uit fundamentele deeltjies, soos bv. kwarke, bestaan. Wetenskaplikes
wat meer “oop” is vir die moontlikheid van die bestaan van nie-materiële dinge,
neig om eersgenoemde teorie méér aanvaarbaar te vind.
Spiritueel-bewuste
mense glo dat daar wel 'n nie-materiële gedeelte van elke mens is wat
onsterflik is en wat kan bly voortbestaan nadat die fisiese brein ontbind het.
Die spoke wat deur sommige mense waargeneem word, bestaan dan ook uit energie
wat onafhanklik van die fisiese liggaam kan funksioneer. Boeddhiste verwys na
'n geestelike bestendigheid (Engels: mental continuum), wat soortgelyk
aan 'n vlam wat deur een kers na 'n ander oorgedra word, vanaf een liggaam na
'n ander beweeg. Antieke wysgere het geglo dat elke mens hoofsaaklik uit 'n
gees, siel en liggaam bestaan. Selfs die skrywer(s) van 1 Thessalonicense 5:23
verwys as volg na hierdie drie dele van elke mens: “... en mag julle gees
en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die
wederkoms van onse Here Jesus Christus!”. Die gees (Engels: spirit)
is die Goddelike “kern” van elke mens, terwyl die siel verhuis vanaf een
liggaam na 'n ander deur 'n proses van óf reïnkarnasie, óf die verhuising van
die siel (Engels: the transmigration of the soul). Die verskil tussen
die twee konsepte is dat reïnkarnasie die verhuising van die siel vanaf een
menslike liggaam na 'n ander veronderstel, terwyl die “verhuising van siele” konsep,
die moontlikheid van die verhuising van die siel vanaf 'n menslike liggaam na
'n dierlike liggaam en andersom, veronderstel.
Terwyl ek die
wetenskaplike getuienis vir die verskyning van verskillende lewensvorme d.m.v.
evolusionêre prosesse aanvaar, glo ek dat siele ook op 'n manier evolueer deur
die lesse wat geleer word gedurende baie verskillende lewens. Die idees en
handelinge van 'n persoon beïnvloed nie slegs ander mense nie, maar het ook 'n
wesenlike invloed op die toekomstige lewenspad van die betrokke persoon waaraan
die siel “behoort”. Hindoes en Boeddhiste gebruik die woord Karma om te
verwys na die verband tussen “oorsaak” en “gevolg”, m.b.t. mense se goeie en
slegte denke en dade. Dit is dus nié heeltemal waar dat 'n mens “niks” met jou
saamneem wanneer jy sterf nie. Jou gemoedstoestand en die evolusionêre vlak van
ontwikkeling van jou siel, wat grootliks afhanklik is van al jou denke en dade
gedurende jou lewe, word deel van jou volgende lewensreis in 'n ander fisiese liggaam
op aarde, of miskien in 'n ander dimensie of op 'n ander planeet.
Daar is
wesenlike verskille tussen die godsbeskouinge van (1) Godsdienstige
Fundamentaliste, (2) positiewe ateïste en (3) voorstanders van 'n Nuwe
Spirituele lewensbeskouing. Godsdienstige Fundamentaliste glo dat daar 'n
onoorbrugbare kloof is tussen húlle God en Sy skepping. Hulle God is apart van
en buite die res van die skepping en kan geensins “gelykgestel” word daarmee
nie. Geen “deel” van God kan beskou word as die inherente kern van alles binne
die minderwaardige skepping nie. Die panenteïstiese godsbeskouing wat deel is
van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing, erken egter die werklikheid van 'n
Goddelike essensie “binne” alle dinge. Die Goddelike word dus nié as 'n “Super
Persoon” beskou wat planne of emosies soos jaloesie en liefde, het nie. Positiewe
ateïste verwerp albei die voorgaande godsbeskouinge en glo dat die
Goddelike/God nié werklik is nie en dat alle idees daaroor onwaar is en
gebaseer is op wensdenkery en mense se verbeeldingsvlugte. Die ateïs André
Comte-Sponville, erken egter op bladsy 82 van sy boek The Book of Atheist
Spirituality, dat een van die drie klassieke argumente vir die bestaan van
God - die sg. kosmologiese argument, die naaste is aan 'n moontlike “bewys” vir
die bestaan van God:
“Of the three
classical 'proofs' of God' existence, this is the only one I find powerful, the
only one that occasionally makes me vacillate or hesitate. Why? Because
contingency is an abyss in which reason loses its bearings.”
Die patroon van
“oorsaak en gevolg” móés dus êrens 'n begin of “Eerste Oorsaak” gehad het.
Terwyl dit
onmoontlik is om die Goddelike voldoende in beperkte menslike terme te omskryf,
het sommige mense tog probeer om hul begrip daarvan te “definieer”, soos onder
andere die teosowe se volgende definisie van “Theosophic
pantheism”:
“It is the doctrine
that the root-essence of the universe is utter divinity, that divinity pervades
throughout and is the substratum, the inmost, of all beings and things - every
atom, sun, universe, man, god. Theosophic pantheism [similar to the
contemporary understanding of the word 'panentheism'] excludes the idea that
deity is separate from the universe [in contrast to both theism and deism]; and
while denying monotheism [including traditional Christians' belief in the
Trinity] and polytheism... Everything that is, is a manifestation, in one
degree or another, of the all-permeant [all-pervasive?], divine essence.” [1]
Verskillende terme
word dus gebruik om na die onpersoonlike of nie-persoonlike Absolute Goddelike
te verwys. Die Duitse filosoof Paul Tillich het gepraat van “the God beyond
God” en het na die Goddelike verwys as die “Ground of all being”.
Teosowe gebruik die woord Parabrahman om na die Ongemanifesteerde
Goddelike te verwys. Hier is nog een van die teosowe se definisies waarmee
hulle hul verstaan van die Goddelike aan mense probeer verduidelik:
“...the
self-enduring, eternal, self-sufficient cause of all, the one essence of
everything in the Cosmos. It is before all things in the Cosmos, and is the one
sole limitless life-consciousness-substance from which starts into existence a
center of force which may be called the Logos [the Word].”
Johannes 1:1 “In
die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”,
kan as volg “esoteries” geïnterpreteer word:
Die “Woord”
waarna hier verwys word, het heel waarskynlik dieselfde betekenis as die Logos
van die antieke wysgere en teosowe - die Logos wat voort(ge)vloei het
vanuit die Onpersoonlike Absolute/Goddelike. Die gemanifesteerde Kosmos
ontstaan dan deur die werking van die Logos wat op sigself as 'n
“skeppende” manifestasie van die Goddelike beskou kan word. Die letterlike
interpretasie van hierdie vers verskil egter van die voorgaande esoteriese
interpretasie, en is die tradisionele Christene se bewering dat Jesus as die
“Woord” gedeelte van die Drie-Enige God, “by” God die Vader was van altyd af.
Hierdie geloof in die Drie-Enige aard van God was die belangrikste deel van die
berugte Geloofsbelydenis van Nicéa, wat in die jaar 325 GE opgestel is.
Godsdienstige
Fundamentaliste glo op grond van hul teïstiese godsbeskouing, dat elke mens 'n
persoonlike verhouding met God kan hê en dat God in staat is om
“wonderbaarlike” veranderinge in hul lewens en in die wêreld teweeg te bring.
Hierdie wonderwerke gebeur kwansuis soms nadat gelowiges daarvoor gebid het.
Die bestemming van elke mens se onsterflike siel is afhanklik van geloof en/of
die mate waartoe elke mens God se voorvereistes en verordeninge nagekom het. So
byvoorbeeld beklemtoon Protestante die belangrikheid van geloof i.p.v. goeie
werke, terwyl Rooms-Katolieke beide die belangrikheid van geloof én goeie werke
beklemtoon. Moslems en Jode beklemtoon die belangrikheid van onderdanigheid van
elke mens aan Allah of Jahwe se reëls, wette, gebooie en verordeninge. Almal
van hulle glo dat die status van elke mens se siel, nooit dieselfde kan wees as
God se verhewe status nie - selfs nie eens nadat die betrokke siel die ewige
lewe in die Hemel ingegaan het nie! Materialistiese Ateïste neem aan dat die
dood die einde van bewuste bestaan beteken en dat die gesprek oor die
verhouding tussen God en Mens, gevolglik betekenisloos is.
Sommige mense
het op 'n sekere stadium in hul lewens
'n mistieke belewenis van “eenwees” met die Goddelike. Gedurende hierdie
belewenis voel hulle asof alle dinge deel is van slegs Een Werklikheid en dat
hulself dus óók deel is van daardie Werklikheid. Tydens hierdie ervaring het
hulle 'n belewenis van Onvoorwaardelike Liefde wat allesoorheersend is. Wanneer
daardie betrokke persone dan weer ná daardie belewenis “terugkeer” na die
alledaagse lewe, verlang hulle dan dikwels hartstogtelik terug na daardie
mistieke ervaring. Daardie belewenis maak soms so 'n geweldige indruk op mense,
dat hulle glo dat die permanente verwesenliking daarvan, die ware einddoel van
die lewe is. Die uiteindelike permanente mistieke eenwording (Engels: merging) met die Goddelike,
word dus voorgehou as dié doelwit waarna alle mense behoort te strewe.
Verskillende gelowe het dan ook verskillende terme wat hulle gebruik om na
daardie uiteindelike eenwording of verlossing te verwys. So byvoorbeeld gebruik
“esoteriese” Boeddhiste die woord Paranirvana,
terwyl Hindoes na moksha verwys.
Voorstanders van die Nuwe Spirituele lewensbeskouing glo dat die strewe na
uiteindelike eenwording met die Goddelike, die hoogste denkbare Ideaal is
waarna mense kan strewe.
Uiteindelike
eenwording met die Een Werklikheid impliseer nié dat jou afsonderlike bewussyn
daarna sal verdwyn nie. Jy sal nie daarna verander in 'n soort onpersoonlike
energie nie, maar sal nog steeds bewus wees. Jy sal egter ophou glo dat daar
basiese onoorbrugbare verskille tussen die Goeie en die Bose is, en jy sal
besef dat daar eintlik slegs Een “Iets” is en dat jy sowel as alles en almal
“om jou”, deel is van daardie harmonieuse geheel. Dit sal ook dan nie meer vir
jou nodig wees om te hoop en te glo dat jy eers “eendag” in die verre toekoms
in, bevry sal wees nie. Emosies soos haat sal uit jou gedagtes verdwyn en jy
sal voortaan verenig wees met 'n allesomvattende “Energie van onvoorwaardelike
Liefde”.
"Al drie stellings is my eie persoonlike geloofsoortuiging waarvoor ek hoegenaamd géén ... getuienis het nie. Ek beweer ... dat ek glo in die geldigheid daarvan...."
AntwoordVee uitVolg my, ek is clueless ;)
Ons verskil duidelik van mekaar in dié opsig dat jy hoegenaamd geen waarde heg aan enige geloofsuitsprake (metafisiese aannames) oor die aard van die hiernamaals en die Goddelike, waarvoor mense geen geldige “empiriese” bewyse het nie. Terwyl ek erken dat daar oorweldigende getuienis is dat baie mense se geloof in die hiernamaals en die Goddelike hulle wel gehelp het om meer sinvolle en gelukkiger lewens te lei, is dit vir jou voldoende om te fokus op tydelike, verganklike materiële dinge. In jou ideale wêreld word daar tot so ʼn mate aan mense se materiële behoeftes voldoen dat hulle nie die nodigheid daarvan sal insien om te strewe na uiteindelike eenwording met die Goddelike nie. Mense het duidelik verskillende behoeftes en ek sal jou daarom nié m.b.v. rasionele argumente kan oortuig dat my lewensbeskouing en gevolglike behoefte aan ʼn geloof in die hiernamaals en Goddelike, beter is as jou materialistiese behoeftes nie.
AntwoordVee uit