Die gesprek oor die voor- en
nadele van godsdienstige idees het sedert 2005 begin momentum kry toe
sogenaamde militante ateïstiese skrywers soos o.a. Richard Dawkins, Sam Harris,
Christopher Hitchens en Daniel Dennett, se uitgesproke kritiek teen godsdiens,
veral Westerse mense se aandag begin fokus het op die wandade wat in die naam
van Godsdienstige Fundamentalisme gepleeg is. Daar het selfs in 2009 'n film
met die naam Religulous verskyn waarin die spot gedryf is met sekere
godsdienstige gedagterigtings en wat deur die ateïstiese komediant Bill Maher,
aangebied is.
Wanneer sterrekundiges en bioloë
hul sintuiglike waarnemings as hulpmiddels gebruik om gevolgtrekkings te maak,
verklaar hulle dikwels dat lewe per toeval op die aarde ontstaan het en dat die
ganse werklikheid as geheel, eintlik geensins “bekommerd” is oor die welstand
van die mensdom nie. Die mensdom is dus volgens hulle, 'n toevallige byproduk
van basies sinnelose prosesse. Hulle wys daarop dat daar heelwat meer pyn en
lyding in die wêreld is as geluk en plesier. Daar is ook derduisende spesies
wat alreeds uitgesterf het. Indien daar 'n Intelligente Ontwerper is, het
Hy/Sy/Dit nogal baie onnodige vermorsing laat plaasvind. Wat is nou eintlik die
funksie van 'n groot gedeelte van die heelal, indien daar geen lewende wesens
daarbinne is wat deur miljoene sonnestelsels, soortgelyk aan ons eie
sonnestelsel, onderhou word nie? Op die oog af wil dit dus voorkom asof die
ganse werklikheid maar basies sinneloos is en dat die lewe hoofsaaklik handel oor
sterker, slimmer en/of meer aanpasbare mense wat misbruik maak van hul
minder-bevoorregte medemense. 'n Siniese aanmerking wat 'n vriend van my 'n ruk
gelede gemaak het dat hy amper nooit 'n “lelike” vrou in 'n duur spogmotor sien
rondry nie, het my weereens herinner aan hierdie mistroostige wêreldbeskouing.
Dit wil ook nie voorkom asof mense
op 'n manier spesiaal is omdat hulle kwansuis na die “beeld van God” geskape is
nie. André Comte-Sponville verklaar in sy boek, The Book of Atheist
Spirituality, dat een van die hoofredes waarom hy sy geloof in God verloor
het, die feit is dat die meeste mense maar redelik middelmatig (Engels: mediocre)
is. Op bladsye 118 en 119 sê hy o.a.: “...the more I get to know them [human
beings], the less I can believe in God. Let's say I don't have a sufficiently
lofty conception of humanity in general or myself in particular to believe that
a God could be at the origin of this species and this individual. Everywhere I
look, there is too much mediocrity, too much pettiness,...”. Terwyl
elke mens tog op 'n manier uniek is, is dit ook 'n voldonge feit dat die meeste
mense soos 'n trop skape, onnadenkend die mees gewilde idees navolg. Daar was
ook nog altyd slegs 'n skeppende minderheid wat die leiding geneem het. Waarom
sou 'n Intelligente Ontwerper dan so baie “middelmatige” mense geskep het,
waarvan die meeste se lewens oorheers word deur onnodige bekommernisse, pyn en
lyding? Dit wil ook voorkom asof selfs baie “ongelowige” mense dikwels
godsdienstige idees misbruik om hul eie kortsigtige persoonlike belange te
bevorder. Sodanige oneerlike opportunisme is 'n eienskap wat deel is van baie
“middelmatige” mense.
Wanneer die geskiedenis van die
mensdom en die Natuurwette bestudeer word, kan mens maklik die gevolgtrekking
maak dat die ganse Kosmos eintlik soortgelyk is aan 'n verspotte “Douglas
Adams”-verhaal waarin allerlei absurde gebeurtenisse lei tot nog meer
toenemende chaos, absurditeit en sinneloosheid! Dis asof Materialistiese
Ateïsme die naaste aan “die Waarheid” is, wanneer die geldigheid daarvan
vergelyk word met die geldigheid van Godsdienstige Fundamentalisme en ander
lewensfilosofieë. Die hoogste vorm van menswees blyk dus die lewe van die
“tragiese held” te wees, wie se heldedade, skeppingsvermoë en pogings om die
lewe meer sinvol te maak, tog op die ou end gedoem is tot mislukking. Die mens
kan dus allerlei planne beraam en ideale nastreef, maar op die ou end “lag” die
Kosmos vir hierdie patetiese spesie. Terwyl die hoogste ideale van beide Godsdienstige
Fundamentalisme en 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing ewig van aard is, is die
Materialistiese Ateïs se ideale altyd tydelik van aard. Die kommunis se
uiteindelike utopiese wêreldorde en die etiese humanis se droom van die mensdom
wat in 'n toenemende mate vooruitgaan, sal ook eendag verdwyn wanneer die son
uitbrand. Volgens Materialistiese Ateïste skep mense gedurigdeur ideale wat
nagestreef word, maar wat saam met die mensdom en die heelal gedoem is om
uiteindelik te verdwyn wanneer daar nie langer iets soos “Tyd” en “Ruimte” sal
wees nie.
In sy uitstekende boek The Book
of Atheist Spirituality, verduidelik die Franse filosoof André
Comte-Sponville die verskille tussen die begrippe geloof, hoop en die liefde
(meegevoel met andere). Volgens hom is geloof en hoop vir Christene baie
belangrik omdat hulle geloof het in die werklikheid van hul Persoonlike God en
omdat hulle hoop om eendag die ewige lewe te beërwe. Vir hom as ateïs is liefde
baie belangriker as die ander twee en fokus hy eerder daarop om te strewe na en
te werk vir die verbetering van sy eie lewe en die lewens van diegene vir wie
hy lief is, as om te hoop dat iemand anders, soos bv. God, sal sorg dat dinge
eendag sal verbeter. Hy beweer dat mense wat “hoop”, per definisie minder
gelukkig is as mense wat wanhoop, omdat iemand wat gelukkig en tevrede is met
sy of haar lewe hier en nou, nie nodig het om te hoop dat hulle eers eendag in
die verre toekoms in, gelukkig sal wees nie. Na ek dit gelees het, het ek besef
dat geloof en hoop vir my ook belangrik is, maar dat ek nie met hom saamstem
dat hoop en geluk noodwendig met mekaar kompeteer nie. Mens kan gelukkig wees
in die hier en nou én nog boonop hoop en glo dat jy eendag bevry sal wees van
aardse ongeluk, pyn en lyding. Terwyl die Materialistiese Ateïs glo dat sy/haar
geluk altyd tydelik van aard sal wees omdat alles op die ou end “tot stof” sal
terugkeer, glo en hoop Godsdienstige Fundamentaliste dat hulle ééndag
ewigdurende geluk en liefde sal vind en dat dit daarna nié meer vir hulle nodig
sal wees om te “glo” en te “hoop” terwyl hulle in die Hemel is nie, omdat hulle
dan in die hiernamaals volkome bevry sal wees.
Ontevredenheid met godsdienstige
mense se dikwels onaanvaarbare idees oor die eienskappe van God, lei baie
skeptiese mense tot die gevolgtrekking dat álle idees oor dinge wat nie deur
huidige wetenskaplike metodes verklaar of waargeneem kan word nie, gebaseer is
op wensdenkery. Omdat die Goddelike vir hulle nié werklik is nie, is daar ook
volgens hulle geen ewige, objektiewe, absolute waardes búite die mens nie. Die
mens moet dus sélf besluit wat reg en verkeerd is. Ateïste verskil van mekaar
betreffende dit wat veronderstel is om die plek van God in te neem. Volgens die
Duitse filosoof Friedrich Nietzsche, is die “Supermens” (Duits: Übermensch) veronderstel
om die leemte te vul wat deur die “dood” van God veroorsaak is. Hedendaagse
Marxiste glo daarenteen dat hul utopiese ideaal van die “gemeenskaplike besit
van alles”, die nuwe “god” van die mensdom behoort te wees. Postmoderniste
reken dat daar géén gemeenskaplike ideaal of waardes is wat deur mense
nagestreef behoort te word nie. Ateïsme word dikwels ongelukkig geïdentifiseer
met kommunisme, omdat die meeste ateïste in veral Westerse lande, jare gelede
simpatiek was teenoor daardie ideologie. Miskien sal toekomstige ateïste hul
verbeeldings en skeppingsvermoë kan gebruik om iets nuuts - iets anders as
uitgediende Marxistiese lewenswaardes, morele relativisme (postmodernisme) of
Wes-Europese liberale humanisme en genotsug, voor te hou as die nuwe “god” van
die mensdom?
Die woord “ateïsme” het
verskillende betekenisse vir verskillende mense - soortgelyk aan die
verskillende definisies wat mense heg aan ander woorde soos “Christen”,
“liefde”, “Apartheid” en “rassisme”. Daar word gewoonlik onderskei tussen negatiewe
ateïsme en positiewe ateïsme. 'n Bekende ateïs beskryf die verskille en
ooreenkomste tussen agnostisisme en negatiewe en positiewe
ateïsme as volg:
“Michael Martin, a leading atheist philosopher, defines
atheism entirely in terms of belief. For him, negative atheism is simply
the lack of theistic belief, positive atheism is the asserted disbelief in God,
and agnosticism is the lack of either belief or disbelief in God. This suggests
that negative atheism, the minimal position that all atheists share, divides
neatly into agnosticism and positive atheism. It is worth noting that the
'positive atheist' need not have certainty that God doesn't exist: it is a
matter of belief, not knowledge.” [i]
My verwysing na die woord “ateïsme” sal voortaan
dieselfde betekenis hê as die begrip “positiewe ateïsme” waarna Michael
Martin verwys. Positiewe ateïste glo dat God/die Goddelike nié werklik is nie,
maar hulle is egter nie noodwendig “seker” daaroor nie. Hulle kan ook nie die onwerklikheid
van enige Goddelike voldoende bewys nie, en daarom verwys Michael Martin na
ateïsme as 'n “geloof”.
Indien daar géén God of Goddelike Werklikheid is nie, is
daar gevolglik geen Intelligente “Iets” wat bewustelik besluit het om die ganse
Kosmos te skep nie, en daar is ook geen Goddelike Absolute waaruit die Heelal
en alles daarbinne, kon voortgevloei het nie. Die gevolgtrekking wat dus
gewoonlik deur ateïstiese kosmoloë gemaak word, is dat die heelal óf geen begin
gehad het nie en dat dit nog altyd daar was, óf dat Tyd en Ruimte op die een of
ander stadium (spontaan?) “begin” het. Mense bevind hulself dus binne-in 'n
heelal wat basies sinneloos is en waarbinne dit hul eie verantwoordelikheid is
om sin en betekenis aan hul eie lewens te gee. 'n Voordeel hiervan is dat mense
hul eie skeppingsvermoë kan gebruik om die lewe interessant en die moeite werd
te maak. 'n Nadeel hiervan is dat die mens basies “alleen” in die ganse Kosmos
is en dat daar geen Persoonlike God is wat die mens kan “verlos” vanuit hierdie
basies-sinnelose bestaanswerklikheid nie. Volgens positiewe ateïste is
daar ook geen Goddelike Werklikheid wat as 'n onpersoonlike gedeelde “essensie”
of kern tussen alle lewende wesens, beskou kan word nie. Omdat hulle die
werklikheid van enige “nie-materiële” Goddelike ontken, ontken die meeste van
hulle óók die werklikheid van enige “siel” of energie wat deel is van elke mens
en wat daartoe kan lei dat die bewussyn onafhanklik van die fisiese brein kan
funksioneer. Daar is egter ander ateïste wat wel glo in die bestaan van die
onsterflike siel, soos o.a. die Jaïniste met hul geloof in reïnkarnasie.
Sommige “ateïstiese” Boeddhiste glo dat elke lewende wese 'n geestelike
bestendigheid (Engels: mental continuum), in plaas van 'n “onsterflike
siel” het, wat soortgelyk aan 'n vlam wat van een kers na 'n ander oorgedra
word, vanaf een fisiese liggaam na 'n ander inkarneer. Alle ateïste is dus nié
noodwendig “filosofiese” materialiste wat die werklikheid van enige
nie-materiële dinge ontken nie.
Die betekenis van die woord
“materialisme” is egter nog meer kontroversieel as die woord “ateïsme” en dit
is veral ateïste wat beswaar maak teen my gebruik van die term “materialisme”
wanneer ek na hul gevolglike ontkenning van die lewe na die dood verwys. Die
definisie wat ek deurgaans in hierdie boek gebruik is soortgelyk aan dit wat
bekendstaan as “filosofiese materialisme”. Dit het egter beslis nie dieselfde
betekenis as iemand wat noodwendig selfsugtig of egoïsties is nie! Materialiste
verwerp nie alleen die moontlikheid van die lewe na die dood nie, maar ook die
moontlikheid van die werklikheid van enige gode of “geeste”. My verstaan van
die woord “materialisme” stem ooreen met die selferkende materialis en ateïs
Victor J. Stenger, se definisie daarvan op bladsy 63 van sy uitstekende boek Quantum
Gods:
“Materialism is the doctrine that the universe is composed
of a single substance called matter and nothing else. The answer
materialism gives to the question 'Is there anything out there?' is: Nothing
is out there except matter. Materialism is usually equated with naturalism,
which is probably best described as the doctrine that denies the existence of
gods or other 'spirits'”.
Daar word dikwels deur ateïste beweer dat hulle nié
godsdienstige idees benodig om 'n goeie en moreel-aanvaarbare lewe te lei nie.
Dit is volgens baie van hulle ook nié nodig dat die meeste ander mense met die
helse vuur gedreig word ten einde hul samewerking en goedgesindheid te
bewerkstellig nie. Ander maniere kan gevind word om mense aan te moedig om
beter morele waardes te hê. Terwyl Marxiste glo dat geweld en onderdrukking
uitstekende hulpmiddels is om die samewerking van die massas te bewerkstellig,
beweer hedendaagse “etiese” humaniste dat die meeste mense mettertyd sal leer
hoe om beter teenoor mekaar op te tree en gevolglik nié misbruik te maak van
andere en van aardse hulpbronne nie. Die mensdom sal uiteindelik ontslae raak
van ou en uitgediende godsdienstige norme en waardes, en sal dit vervang met
beter waardes wat die grootste voordeel vir die grootste aantal mense sal inhou.
Die meeste lande waarvan die meeste inwoners oorwegend Materialistiese Ateïste
is/was, was óf kommunistiese lande soos die ou Sowjetunie, óf hedendaagse
“liberale” demokrasieë soos o.a. Swede en Japan. Ateïste verwys dikwels na die
beter lewensomstandighede in Swede, maar hulle verwys minder dikwels na die hoë
selfmoordsyfer in daardie land [ii], die instroming van
veral derde-wêreldse Moslems en die feit dat mense se individuele vryhede in
toenemende mate beperk word. Tuisonderrig is byvoorbeeld onwettig in Swede. Die
Sweedse polisie het onlangs Sweedse ouers se seun, Domenic Johansson, ontvoer
na sy ouers besluit het om hom tuis te onderrig! [iii]
Na die bewindsoorname van die
ANC-regering in 1994 is die ou oorwegend-Calvinistiese Grondwet van Suid-Afrika
vervang deur 'n nuwe Grondwet wat grootliks gebaseer is op sekulêre,
humanistiese waardes. Die beklemtoning van die regte van veral die
Afrikanervolk is vervang deur die beklemtoning van die regte van die individu.
Waar die Afrikaanse kerke in die verlede hul stempel indirek afgedruk het op
die formulering van heelwat van die wetgewings, het die Nuwe Suid-Afrika op
sekere terreine wegbeweeg van die invloed van Godsdienstige Fundamentalisme en
nader aan Materialistiese Ateïsme beweeg. Goeie voorbeelde hiervan is die
wegbeweeg vanaf diskriminerende wetgewing teenoor gays en die verdraagsame
houding aangaande pornografie en aborsie. Die “lugleegte” wat veroorsaak is
deur heelwat mense se wegbeweeg vanaf hul ou godsdienstige en kulturele waardes,
is grootliks vervang deur die nuwe “god” van verbruikerisme en die
gepaardgaande toenemende polarisasie tussen mense van verskillende
bevolkingsgroepe. Terwyl sommige mense die Nuwe Suid-Afrika as bevrydend
ervaar, is daar tog 'n groot gedeelte van die bevolking wat die wegkwyn van
kulturele waardes en die verlies aan 'n gevoel van eensgesindheid en
gebondenheid aan 'n soortgelyke groep mense, as onrusbarend en traumaties
ondervind. Die wegbeweeg vanaf 'n tipe Christelike teokrasie het dus nié gelei
na 'n samelewing wat noodwendig op alle gebiede beter is as die ou Suid-Afrika
nie. 'n Samelewing wat gebaseer is op sekulêre en materialistiese waardes, is
dus nie noodwendig beter as 'n samelewing wat hoofsaaklik godsdienstige waardes
nastreef nie. Hedendaagse ateïste soos Sam Harris verwys dikwels na die beter
omstandighede in sekulêre lande soos Japan en Swede in vergelyking met die
swakker lewensomstandighede in meer godsdienstige lande soos Nigerië en Indië.
Ongelukkig neem hulle nie ánder faktore soos gene en kulturele norme en
waardes, in ag nie.
Mense wat redelik welgesteld is en
wat hoofsaaklik fokus op die najaag van materiële rykdomme, is gewoonlik meer
geneig om Materialistiese Ateïsme te omhels, as byvoorbeeld mense wat onder die
broodlyn lewe. Tel-evangeliste is natuurlik 'n uitsondering op hierdie reël,
maar ek wonder dikwels tot watter mate hulle in werklikheid “ongelowig” is en
godsdiens hoofsaaklik misbruik tot hul eie materiële voordele... Godsdiens
verskaf tog aan baie brandarm mense 'n bietjie kleur aan hul andersins
mistroostige lewens. 'n Voorskoolse kind sien jaarliks daarna uit om geskenke
van Kersvader te ontvang, terwyl 'n gelowige ou tannie wat op haar sterfbed lê,
hoopvol uitsien na die ewige lewe wat op haar wag nadat sy haar laaste asem
uitgeblaas het. Die “liberale” Christelike teoloog Don Cupitt, verskaf in sy
verskeie boeke goeie redes waarom 'n “nie-werklike” godsdiens vir baie mense
nuttig kan wees. Selfs geharde ateïste moet dan erken dat “nie-werklike”
godsdienstige idees, mites, sprokies en feeverhale, voordelig kan wees vir
sommige mense.
André Comte-Sponville probeer om
sy eie weergawe van spiritualiteit met ateïsme te versoen in die laaste
gedeelte van sy boek, The Book of
Atheist Spirituality. Hy verduidelik hoedat hyself soms mistieke ervarings
beleef het waartydens dit vir hom gevoel het asof hy deel is van een groter
“absolute” geheel. Hierdie ervarings was van so 'n wonderlike aard dat hy
gedurende die belewenis daarvan gevoel het dat daar eintlik slegs Een Werklikheid
is en dat hy, sowel as alle ander lewende wesens en dinge, onafskeidbaar deel
is daarvan. Gedurende die mistieke ervaring voel mens asof jy totaal
geabsorbeer is deur 'n allesomvattende liefde en dat jy buite Tyd en Ruimte is.
Jy bekommer jou nie oor jou eie sterflikheid nie en dis ook nie vir jou nodig
om te hoop dat jy eers ééndag in die verre toekoms in, verlos sal word nie. Sy
beskrywing van die verskille tussen sy mistieke ervaring en sy alledaagse
“gewone” bestaan, is egter béter as enige beskrywing daarvan wat ek al ooit in
enige ander “spirituele” of “New Age”-boek raakgelees het. Na sy wonderlike
ervaring het hy weer teruggekeer na sy alledaagse bestaan waartydens hy hom wel
bekommer oor sy kinders, werkstoestande en finansiële status. Sy belewenis van
“verlossing” was dus slegs tydelik van aard.
Die grootste beswaar wat ek teen
Materialistiese Ateïsme het, is teen die filosofie daarvan met betrekking tot
die uiteindelike bestemming van die mens. Waar beide Godsdienstige Fundamentalisme
sowel as my Nuwe Spirituele lewensbeskouing, die ewigdurende aard van die mens
se uiteindelike bestemming onderskryf, ontken Materialistiese Ateïsme die
moontlikheid van die onsterflike aard van die menslike bewussyn. Godsdienstige
Fundamentaliste glo dat slegs sommige mense bestem is om eendag die ewige lewe
te beërwe. Ondersteuners van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing glo dat elke
mens die potensiaal het van moontlike eenwording met die Goddelike, terwyl
materialiste se mistroostige toekomsverwagting, die tydelike en sterflike aard
van álle dinge onderskryf. Die hoogste
ideale waarna hulle strewe is dus van staanspoor af verganklik en tydelik van aard.
1. Jou beskrywings van sg. "materialistiese ateïsme " (wat die f*k dit ookal mag beteken - jou verduidelikings is nie steekhoudend nie) is onnodiglik "mistroostig" - jy wil tog nie voorstel dat jy 'n duidelik gelukkiger lewe lei as bv Richard Dawkins nie? Jy heg jou mening aan iets wat jy nie verstaan nie. Ditto jou oppervlakkige kritiek van 'n lewensbeskouing wat jy duidelik nie begryp nie; die koppeling van negatiewe sentimentele terme aan dinge waarvan jy nie hou nie, is nie voldoende kritiek nie.
AntwoordVee uit2. "Ondersteuners van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing glo dat elke mens die potensiaal het van moontlike eenwording met die Goddelike..." Jy bly by gebreke om te verduidelik waarna jy verwys met terme soos 'goddelike' (die hoofletter is oorbodig) en "spirituele". Daarby is jou "Nuwe" spiritualiteit alles behalwe nuut - daar is derduisende predikers, profete en algemene twakpraters wat aandring op 'n "spiritualiteit" (inderdaad 'n vae mistisisme) soos joune.
Dis nogal jammer dat jy dink dat my verstaan van die term “Materialistiese Ateïsme” nie “steekhoudend” is nie en dat jy nie ʼn duidelike verstaan daarvan het na die lees van my artikel nie. Hier volg dus my definisie van ʼn Materialistiese Ateïs - ʼn Materialistiese Ateïs is iemand wat (1) glo dat enige God of Goddelike nié werklik is nie en dat (2) daar géén moontlikheid is van die voortbestaan van die menslike bewussyn na die afsterwe van die fisiese liggaam nie. Die mistroostige aard van sodanige lewensbeskouing verwys na die aanname daarvan dat álles op die ou end tydelik en sterflik van aard is. Nêrens impliseer ek dat Materialistiese Ateïste noodwendig meer ongelukkig is as mense wat meer “spiritueel-bewus” is nie. Mense is op verskillende vlakke wat betref hul unieke reis na die Goddelike en dit impliseer dat iemand wie se lewensbeskouing meer materialisties van aard is, dikwels meer “gelukkig” is a.g.v. hul najaag van tydelike plesiere, as ʼn meer spiritueel-bewuste persoon wat soms baie eensaamheid en lyding verduur omdat daar teen hulle gediskrimineer word deur hul familielede en werkskollegas. Die begrip “Spiritualiteit” verwys vir my na elke persoon se unieke reis na eenwording met die Goddelike. Omdat die Goddelike buite Tyd en Ruimte is en gevolglik buite enige beperkte menslike begrippe is, is dit onmoontlik om dit voldoende in beperkte menslike terme te omskryf. Ek verwys egter in my “geloofsbelydenis” artikel na enkele van die teosowe se pogings om die Goddelike te definieer. Hier is een definisie wat ek dikwels gebruik om my panenteïstiese godsbeskouing te onderskei van dié van teïste se geloof in ʼn Persoonlike Skeppergod: ““... the self-enduring, eternal, self-sufficient cause of all, the one essence of everything in the Cosmos. It is before all things in the Cosmos, and is the one sole limitless life-consciousness-substance from which starts into existence a center of force which may be called the Logos [the Word].” Ek erken dat my “Nuwe” Spirituele geloofsbelydenis baie soortgelyk is aan “esoteriese” Christelike idees, Soefisme, die Joodse Kabbala, Teosofie, Taoïsme, Platonisme en Brahmanisme, maar miskien is my drie stellings soos vervat in die opsomming in my “geloofsbelydenis” artikel, tog op ʼn manier uniek omdat ek dit nog nooit sodanig in enige ander boek of geskrif teëgekom het nie.
AntwoordVee uit"Mense is op verskillende vlakke wat betref hul unieke reis na die Goddelike..."
AntwoordVee uitStop net daar. Wat is "die goddelike" waarna jy verwys, buiten 'n fraai konsep in jou verbeelding? O wag, ek sien: "Omdat die Goddelike buite Tyd en Ruimte is en gevolglik buite enige beperkte menslike begrippe is, is dit onmoontlik om dit voldoende in beperkte menslike terme te omskryf."
Jy probeer duidelik in jou guru Shedrake se voetspore volg met jou "Nuwe [sic] Spiritualisme" (oftewel Baie Ou Mistisisme). Hier onder is voldoende kommentaar. Ek sluit af deur te sê dat jy letterlik nie weet waarvan jy praat nie. Geen hoeveelheid rook-en-spieëls en handgeswaaiery maak "die Goddelike" meer werklik as Sneeuwitjie nie, en om anders voor te gee (of nog erger, ander daarvan te probeer oortuig) is intellektuele swendelary.
http://www.skepdic.com/morphicres.html