Die Griekse filosoof
Plato het verwys na 'n kontinent met die naam Atlantis wat na bewering duisende
jare gelede onder die see verdwyn het as gevolg van 'n geweldige natuurramp.
Die inwoners van daardie kontinent het blykbaar vir baie jare in 'n soort
idilliese paradys gelewe en het 'n lewenswyse gehad wat op ideale
godsdienstige/spirituele idees gebaseer was. Naderhand het 'n sekere deel van
daardie beskawing afgewyk van die oorspronklike “perfekte godsdiens” en het
hulle begin om die Donker Kunste te beoefen. Sommige navorsers beweer dat die
natuurramp 'n soort straf was vir die “sondige” lewe wat die inwoners gelei
het.
Hedendaagse navorsers
soos o.a. die Britse skrywer Graham Hancock, beweer in sy boeke Fingerprints
of the gods en Underworld, dat daar werklik so 'n “super-beskawing”
was waarvan sommige lede seevaarders was wat hul wyshede met ander beskawings
gedeel het. Die Atlantiërs was na bewering die oorspronklike argitekte van die
piramiedes van Egipte en Suid-Amerika. Na die natuurramp het sommige van die
oorlewendes na ander dele van die wêreld gereis en was hulle die skeppers van
die antieke beskawings van Egipte, Sumerië en Indië. Sommige navorsers beweer
dat die Indoe-Ariërs wat Indië binnegeval het, óók afstammelinge was van die
inwoners van Atlantis en dat die oorspronklike Hindoe-geloof en die Vedas-geskrifte
waarop daardie geloof gebaseer was, baie soortgelyk was aan die Atlantiërs se
“perfekte godsdiens”.
Die oorspronklike
kastestelsel is in Indië ingestel om 'n vorm van “Apartheid” te handhaaf tussen
aan die een kant die godsdienstige regeerders en militêre leiers bestaande uit
hoofsaaklik blankes, en aan die ander kant die res van die bevolking. Op daardie
stadium het die Indoe-Ariërs alreeds afgewyk vanaf hul voorouers se verhewe
godsdienstige en morele waardes, juis omdat hulle neergesien het op die
nie-blanke bevolking en hulle gevolglik onderdruk het. Daardie
“Apartheidswette” was op die ou end tog nie so doeltreffend nie, omdat die
nie-blankes en blankes dikwels ondertrou het en die voorouers was van die
latere Indiërs. Die blankes kon naderhand nie langer die nie-blankes binne hul
geledere doeltreffend onderdruk nie. Soortgelyk daaraan kon die latere Romeinse
ryke en republieke ook op die ou end nie die afstammelinge van hul slawe
voldoende beheer nie. Dit herinner nogal baie aan die soortgelyke ervarings van
Afrikaners duisende jare daarna!
Die wysgere wat duisende
jare gelede gelewe het, het hulself dikwels in selle of geheime organisasies
gegroepeer en het ook slegs sekere waarhede aan die ander ingewydes wat aan
daardie groepe behoort het, bekendgemaak. So byvoorbeeld moes Pythagoras se aanhangers
stapsgewys sekere inisiasies ondergaan voordat belangriker kennis en wyshede
aan hulle bekendgemaak is. Hulle was verbied om daardie kennis aan die
nie-ingewyde bevolking bekend te maak. Die geheime of “esoteriese” spirituele
waarhede wat aan die ingewydes bekend was, het verskil van die “eksoteriese”
waarhede waarvan baie ander mense bewus was. Die Bybel verwys na diegene wat
wegbeweeg het vanaf “melkkos” en wat daarna gereed was vir die “vaste voedsel”
oftewel diepere betekenisse van spirituele waarhede. Baie van die feëverhale en
mites van die verlede het sekere esoteriese betekenisse gehad wat alleenlik
deur ingewydes verstaan is. Die ou wysgere het dikwels daardie stories gebruik
om die wyshede oor te dra na ander ingewydes van toekomstige geslagte. So het
sekere Bybelverse eintlik esoteriese betekenisse - Bybelverse wat dikwels
anders op 'n letterlike manier deur Ortodokse Christene geïnterpreteer is.
Die eksoteriese verstaan
van die “heilige” geskrifte het lateraan só prominent geword, dat die
esoteriese verstaan daarvan onderdruk is en die aanhangers van die esoteriese
wyshede dikwels op gewelddadige wyse vervolg is. Dit is egter insiggewend dat
die esoteriese tradisie nog steeds binne bykans alle gelowe teenwoordig is. Dit
vorm die kernbetekenis van teologiese en godsdienstige idees wat op die ou end
alle godsdienstige tradisies op 'n manier aan mekaar verbind. Die wysgere van
die verskillende godsdienste gebruik byvoorbeeld verskillende woorde om na
dieselfde “esoteriese” begrip te verwys. Esoteriese Boeddhiste verwys na die
essensiële leegheid (Engels: essential emptiness) van alle dinge
insluitend elke persoon se innerlike Boeddha-natuur, terwyl Hindoe Brahmaniste
die woord Brahman gebruik om na die Goddelike Absolute te verwys; asook
die woord Atman om na elke persoon se inherente Goddelike gees of “vonk”
te verwys. Teosowe gebruik die woord Parabrahman wanneer hulle na die
Onpersoonlike Goddelike verwys, terwyl Taoïste praat van die Tao.
Die eksoteriese of
“letterlike” verstaan van godsdienstige geskrifte het dikwels “gewone” mense
bewus gemaak van die belangrikheid van 'n geloof in iets hoër as hulself; asook
van die belangrikheid van goeie morele norme en waardes. Letterlike
interpretasies was ongelukkig 'n handige hulpmiddel in die hande van
selfsugtige maghebbers, wat gelei het tot die latere onderdrukking en
misleiding van miljoene volgelinge van godsdienste. Solank mense nie wegbeweeg
vanaf die idee van 'n Almagtige God wat bewus is van elke haar op elke mens se
kop nie, sal hulle vasgevang bly binne die vreesaanjaende dogmas van die
georganiseerde monoteïstiese gelowe. Ek het alreeds die samewerking tussen
politici en kerkleiers breedvoerig bespreek, maar wil egter ook daarop wys dat
wysgere miskien oorspronklik goeie bedoelings gehad het toe hulle die
eksoteriese verstaan van sogenaamde heilige geskrifte aan andere bekendgemaak
het, ten einde goeie morele norme en waardes aan die res van die samelewing
voor te hou.
Omdat sekere beskawings
duisende jare gelede moontlik beter spirituele norme en waardes as die
hedendaagse postmoderne mense gehad het, beweer sommige denkers dat daar
moontlik lank gelede 'n Goue Era in die wêreld was en dat ons vandag 'n soort
Donker Era beleef. Sommige Hindoes en teosowe glo in die sikliese aard van
wêreldse gebeure en dat die wêreld nie noodwendig gaandeweg verbeter het nie.
Tegnologiese vooruitgang en die ontwikkeling op wetenskaplike terreine
impliseer ook nié noodwendig dat mense na gelang van tyd “beter” word nie.
Mense kan byvoorbeeld wonderlike tegnologieë hê, maar hulle kan daardie kennis
aanwend om geweldige skade aan die aarde aan te rig indien hulle nié goeie
spirituele norme en waardes sou nastreef nie. Oliemaatskappye het deur die jare
geweldig baie winste gemaak, maar ongelukkig het daardie winste en tydelike voordele
vir veral Westerlinge, gepaardgegaan met die besoedeling van die oseane en die
vernietiging van seelewe.
Ek het jare gelede die
“Hindoe-Bybel” naamlik die Bhagavad Gita, gelees en besef dat Hindoes
óók onder mekaar verskil wat betref hul godsbeskouinge. Die lede van die
Hindoe-kultus International Society for Krishna Consciousness (die sg. “Hare
Krishna” kultus), glo dat God 'n Persoon, naamlik Krishna is en hulle
verwys dikwels na Krishna as die “Supreme Personality of Godhead”.
Sommige ander Hindoes soos byvoorbeeld Brahmaniste en Advaita
Vedanta-ondersteuners, glo in God as 'n Onpersoonlike Absolute. Die eksoteriese
gedeelte van godsdienste het die verstaan van die Goddelike naderhand verpersoonlik
deur menslike eienskappe aan die Goddelike toe te eien. Op daardie manier was
die verstaan van die Goddelike egter meer toeganklik vir die meeste ander
mense, omdat dit makliker vir hulle was om God as 'n Persoon te beskou waarmee
mense op 'n persoonlike vlak verhoudings kon hê. Baie wysgere het dus 'n meer
panenteïstiese godsbeskouing gehandhaaf, terwyl die “gewone” godsdienstige
mense, 'n teïstiese verstaan van die Goddelike ontwikkel het.
Daar word dikwels na
Boeddhisme verwys as 'n “ateïstiese” godsdiens of manier van lewe, omdat baie
Boeddhiste soos o.a. die Dalai Lama, beslis nié in 'n Persoonlike, Almagtige
Skeppergod glo nie. Dit is egter insiggewend dat die volgende gedeelte op
bladsye 3 en 4 van die inleiding tot die boek Pure Land Pure Mind, geskryf
deur Boeddhistiese Meesters Chu-hung en Tsung-pen, soortgelyk is aan
hedendaagse denkers soos o.a. Karen Armstrong, Ken Wilber, Deepak Chopra en
Biskop John Shelby Spong, se panenteïstiese godsbeeld:
“'Buddha' is the name for the one
reality that underlies all forms of being, as well as an epithet for those
who witness and express this reality. According to the Buddhist Teaching, all
people possess an inherently enlightened true nature that is their real
identity. By becoming mindful of buddha, therefore, people are just regaining
their own real identity. They are remembering their own buddha-nature.
... Buddha exists in many forms, but all share the same 'body of reality', the
same Dharmakaya,
which is formless, omnipresent, all-pervading, indescribable, infinite - the
everywhere-equal essence of all things, the one reality within-and-beyond
all appearances.”
Dit was dus vir baie
filosowe en “mistieke” wysgere méér wenslik om die Goddelike te verstaan as 'n
Absolute Werklikheid waarmee 'n direkte belewenis van mistieke eenwording
moontlik was, terwyl die verstaan van die Goddelike as 'n “Super-Persoon” buite
Sy skepping, makliker was vir die meeste ander “gewone” mense vir wie dit nie
van wesenlike belang was om gedurig oor die aard van die Goddelike te
filosofeer nie. 'n Letterlike in plaas van allegoriese of esoteriese verstaan
van “heilige geskrifte”, was ook meer geskik vir “nie-filosofiese” mense.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking