Bladsye

Vrydag, 25 Januarie 2013

Wees gedurig bewus van die werklikheid van die Goddelike


Die lewensbeskouing waarvolgens die lewe basies 'n sinnelose stryd om mag en oorlewing is, 'n stryd wat gepaardgaan met die sterkere, meer aanpasbare of meer intelligente wesens wat gedurig die botoon voer, kan beskou word as die teenoorgestelde van 'n ander lewensbeskouing waarvolgens Liefde die belangrikste is omdat alle dinge 'n gedeelde essensie het wat hulle in 'n diepere sin aan mekaar verbind. Mense se geloof in die werklikheid van 'n gedeelde essensie, motiveer hulle om simpatiek te wees en empatie te hê met swakkere en onderdrukte mense en diere. Een van die basiese lewenswaardes wat Jesus (indien hy 'n werklike historiese persoon was) na bewering verkondig het, en wat deel was van sy Bergpredikasie, was deernis met veral diegene wat deur die samelewing uitgeskuif is. Hy was besorgd oor prostitute en melaatses en die Samaritane teen wie sommige rassistiese Israeliete/Jode gediskrimineer het. Sy lewenswaardes was heelwat anders as dié van die samelewing waarbinne hy gelewe het en is nog steeds heelwat anders as dié van die meeste hedendaagse postmoderne samelewings.

Mense word dikwels gekondisioneer om die idee te aanvaar dat die ou lewe maar basies 'n stryd om oorlewing is en dat hul hoogste prioriteit behoort te wees om na hul eie belange om te sien - wees wantrouig teenoor andere en verwag altyd van staanspoor af, die slegste van ander mense. Mense wat so 'n lewensbeskouing aanvaar, se lewens word dikwels in 'n toenemende mate sinneloos a.g.v. die invloed wat daardie beskouing het op hul alledaagse houdings en optredes teenoor andere. Hoe meer jy dus so 'n beskouing aanvaar as die “regte” lewensbeskouing, hoe meer sinneloos en “leeg” kan jou lewe raak. So 'n lewenshouding lei tot die verdere vervreemding tussen mense met die gepaardgaande toenemende eensaamheid wat kenmerkend is van baie mense se lewens in die postmoderne wêreld. Na my mening is lg. lewensbeskouing een van die hoofoorsake van selfmoord en selfs van die gesinsmoorde onder blanke Afrikaners. 'n Man verloor sy werk en voel dat hy nie meer in staat is om vir sy huisgesin te sorg nie, juis omdat 'n “sterker” mag - sy werkgewer, besluit het om hom af te dank. Die man is dan verbitterd teenoor die werkgewer en hy raak dikwels ook verbitterd teenoor die res van die samelewing. Sy gevoel van magteloosheid en minderwaardigheid ontaard uiteindelik in die grusame moord op sy onskuldige familielede.


Die “Wil-tot-Mag” wat die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche beskou het as dié belangrikste dryfveer in die lewe, lei soms tot 'n voortdurende soeke na méér mag, rykdomme en aardse plesier ten koste van die ander swakker en “dommer” mense wat in die pad staan van verterende parasiete - mense wat dikwels voorgee dat hulle vir andere omgee alleenlik ten einde hul eie selfsugtige doelwitte te bereik. Die logiese uiteinde van so 'n houding is die vernietiging van selfs die mense wat alles verteer het wat in hul pad gestaan het, omdat daar naderhand niks meer oor sal wees om op te teer nie. Ek dink dikwels aan daardie selfsugtige lewenshouding as die lewensfilosofie van “Ewige Haat”, omdat daarvolgens nóóit voldoende versoening sal wees tussen lewende wesens nie. Daar sal dus altyd 'n groter, sterker en/of slimmer lewensvorm wees wat 'n minder gegoede lewensvorm vertrap en verteer. Dit ontaard in 'n wegbeweeg vanaf die Goddelike en kan as die teenoorgestelde beskou word van 'n Liefdevolle lewenshouding wat altyd die welsyn, vooruitgang en lewenskwaliteit van andere in ag neem.

Ons kan die invloed van 'n selfsugtige lewe beter weerstaan indien ons sou glo dat versoening tussen lewende wesens wél moontlik is omdat daar 'n gedeelde Goddelike “kern” tussen hulle is. Dit sal daarom ook méér sin maak om vir andere om te gee, omdat alle lewende wesens dan sodoende saam nader kan “beweeg” aan eenwording met die Goddelike. Korttermyn opofferings ter wille van 'n beter toekoms, die skepping van kunswerke wat deur ander mense waardeer kan word, barmhartige dade en aktiewe deelname aan die verbetering van mense se lewensomstandighede, maak daarom op die ou end méér sin as 'n koue, leë en basies sinnelose lewe wat hoofsaaklik gewy word aan die bevrediging van die begeertes van die ego. 

Wysgere het vir baie jare verwys na die tweestryd tussen die Ware Self en die ego-gedeelte van elke mens. Die Boeddha (indien selfs hy óók 'n historiese persoon was!) het verwys na elke mens se verknogtheid (Engels: attachment) aan beide verganklike materiële dinge én aan emosionele bande met ander mense. Verknogtheid weerhou mense van die nastreef na die hoër dinge in die lewe. Hoër dinge soos o.a. die verwesenliking van bevryding en bewuswording van die Goddelike. Die Switserse psigoanalis en wysgeer, Carl Gustav Jung, het verwys na elke mens se “masker” of persona wat gedurig op die voorgrond tree en sodoende elke mens se Ware Self onderdruk. Mense behoort te aanvaar dat die ego nié jou Ware Self is nie, maar wel 'n produk van elke individu se kulturele agtergrond, oorgeërfde gene en lewensomstandighede. Sodoende kan hulle die eerste stap neem na die uiterlike manifestering van die Goddelike essensie “binne-in” hulle. Verskeie denkers het alreeds heelwat oor laasgenoemde proses gepraat en geskryf en dit is daarom nie my doel met hierdie skrywe om weereens as't ware die wiel te “herontdek” nie. Lees en kyk gerus in verband daarmee die boeke en DVD’s van o.a. Eckhart Tolle, Wayne Dyer, Ken Wilber, Deepak Chopra, Karen Armstrong en Louise Hay.

In plaas daarvan om verknog te raak aan beide tydelike materiële dinge en emosionele bande met ander mense, behoort ons in toenemende mate “verknog” te raak aan die Goddelike. Daardie “edele” verknogtheid sal ons motiveer om nie slegs onsself nie, maar ook die res van die wêreld as't ware nader te “beweeg” na die Goddelike. Deur ons gedagtes en optredes te suiwer, sal ons deur die voorbeelde wat ons stel, ánder mense meer bewus maak van die werklikheid van die Goddelike en die gevolglike nastreef van 'n beter wêreld vir ons almal. 'n Wêreld gekenmerk deur beide onvoorwaardelike naasteliefde én lewensomstandighede wat aan almal genoeg geleenthede bied om te kan mediteer en rustig te fokus op en te filosofeer oor die werklikheid en bewuswording van die Goddelike, is beslis méér wenslik as 'n wêreld waarbinne haat, naywer, afguns en vrees, oorheersend is. Baie denkers het alreeds die verband tussen 'n beter wêreld én elkeen se reis op pad na die Goddelike, baie beter as ek verduidelik. Onlangse voorbeelde was o.a. Mahatma Gandhi, Jiddu Krishnamurti en die huidige Dalai Lama. Die Amerikaanse sielkundige Abraham Maslow het met sy “hiërargie van behoeftes” aangetoon dat mense se basiese behoeftes éérs bevredig moet word alvorens hulle meer tyd kan spandeer aan selfverwesenliking. Spiritualiteit, oftewel elkeen se unieke reis na die Goddelike, is egter ook deel van elke mens se selfverwesenliking. 

Baie mense bestee soveel tyd aan óf die najaag van geldelike rykdomme, óf sport en ontspanning, óf vermaak en die lees en kyk van oppervlakkige nuusberigte, dat hulle min tyd “maak” vir die bestudering van godsdiens, spiritualiteit of selfs vir die bestudering van internasionale politiek. Dit is nié so eenvoudig dat jou gedagtes en lewenshouding op die ou end 100% sal bepaal wat in jou lewe gaan plaasvind nie, maar dit is wel belangrik dat dit waarop jy fokus en waaroor jy dikwels dink, tog 'n belangrike invloed het op die verloop van jou lewe. Iemand wat byvoorbeeld gedurig wraakgierige gedagtes koester teenoor 'n ander persoon, sal meer geneig wees om daardie ander persoon leed aan te doen. Soortgelyk daaraan het iemand wat gereeld fokus op die werklikheid van die Goddelike, 'n groter kans om vroeër eenwording met die Goddelike te bereik as iemand anders wat heeldag sit en wonder op watter maniere hy andere kan misbruik en hoe makliker en vinniger hy kan geldmaak.

Mense se denke het 'n bepalende invloed op die besluite wat hulle neem t.o.v. hul toekomstige dade en woorde. Elke persoon se goeie of slegte Karma word beïnvloed deur alle goeie en slegte woorde of dade van daardie persoon. Elke mens se Karma tydens hiérdie lewe, bepaal vervolgens die status en kwaliteit van hul siele in 'n volgende lewe. Mens hoor dikwels dat iemand daarna verwys dat ryk mense nié hul rykdomme met hulle kan saamneem wanneer hulle die dag sterf nie. Mense se onsterflike dele (siele) wat voortbestaan na die afsterwe van hul ou fisiese liggame, word egter beïnvloed deur ál hulle denke en dade. Sodoende evolueer die onsterflike siel van elke mens vanaf een inkarnasie in 'n fisiese liggaam na 'n volgende inkarnasie, totdat dit uiteindelik die hoogste Ideaal verwesenlik.

Omdat daar nié 'n Alwyse, Almagtige, Persoonlike Skepper is wat elke mens se lewe haarfyn beplan het nie, is dit alle mense se verantwoordelikheid om hul eie heil uit te werk. Elke lewende wese het die potensiaal om uiteindelik die hoogste Ideaal denkbaar, naamlik eenwording met die Goddelike, te verwesenlik. Elke mens is die kaptein van sy/haar eie siel en elkeen se unieke reis na die Goddelike verskil van ander mense s’n. Sommige mense sal derduisende of miljoene jare neem om daardie eenwording te bereik, terwyl andere miskien biljoene jare sal neem voor hul uiteindelike bevryding.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking