Bladsye

Woensdag, 16 Januarie 2013

Spirituele norme en waardes

Ek verduidelik vervolgens uiteenlopende idees omtrent norme en waardes aan die hand van 'n storie. Gestel Koos is 'n fundamentalistiese Christen wat getroud is, maar wat 'n swakheid het vir mooi, jong vrouens. Gert is 'n modernistiese ateïs wat ook getroud is met 'n swakheid vir mooi vrouens. Piet is 'n getroude postmodernistiese ateïs, met dieselfde swakheid as die voorgaande twee, terwyl Jan 'n “spiritueel-bewuste” getroude man is met dieselfde swakheid. Jan glo dat sy dade en gedagtes gedurende hiérdie lewe 'n wesenlike invloed het op sy volgende lewe in 'n ander liggaam.

Koos die Christen loop een aand in 'n winkelsentrum verby 'n beeldskone jong vrou en wonder of hy 'n kans moet waag om 'n affair met haar te begin. Sy dominee en geloofsbelydenisse stel dit duidelik dat selfs die begeerte na 'n ander vrou, 'n oortreding is van een van die tien gebooie. Uit vrees vir die gevolge van die verbreking van een van God se gebooie, laat vaar hy sy waaghalsige plan. Sy hoofrede hiervoor is dus nié bekommernis oor die feit dat hy oneerlik teenoor sy vrou is, of dat sy lateraan moontlik sal uitvind wat gebeur het nie, maar wel sy bekommernis en vrees oor hoe God sal voel na een van Sy gebooie oortree is.

Gert die modernistiese ateïs, loop ook een aand verby 'n beeldskone jong vrou en besef dat dit nogal lekker en opwindend sal wees om 'n affair met haar aan te knoop. Hy ís mos 'n persoon wat glo in die grootste hoeveelheid geluk en plesier vir die grootste aantal mense. Hy besluit dus om eers rustig te probeer dink oor die affêre en 'n paar sommetjies te maak. Indien hy sou voortgaan met sy plan, sal dit miskien baie tydelike geluk en plesier vir homself en die jong vrou verskaf, terwyl dit dalk lateraan tot groot verdriet kan lei vir sy eie vrou en miskien ook vir die beeldskone jong vrou se moontlike man of ander kêrel. Sy hoofrede vir die besluit om haar nié uit te vra nie, is dus die oorweldigende pyn en lyding wat sy manewales kan veroorsaak betreffende sy verhouding met sy eie vrou en die jaloesie van die jong vrou se moontlike metgesel, teenoor die tydelike opwinding en plesier van 'n waaghalsige affair.

Die postmodernistiese ateïs Piet, loop ook een aand verby 'n wulpse mooi jong vrou en as gevolg van sy idees oor die relativistiese aard van morele waardes en sy opportunistiese lewenswyse, besluit hy dat mens nié kan beweer dat die pyn en lyding wat so 'n affair lateraan kan veroorsaak, swaarder weeg as die tydelike plesier wat dit op die kort termyn kan teweegbring nie. Hy is ook nié iemand wat baie lus is om tyd te mors met algebra nie, en hy besluit gevolglik dat die lewe te kort is om so 'n gulde geleentheid te laat verbygaan. Hy stap dus na die mooi jong vrou en vra haar om saam met hom te gaan fliek...

Jan die “spiritueel-bewuste” getroude man, glo dat elke gedagte en daad van elke mens, belangrik is in die opsig dat dit gevolge kan hê vir elke persoon wat daardeur geraak word. Terwyl hy verby die mooi jong vrou loop, dink hy gelyktydig aan die gevolge wat so 'n affair kan hê op sy eie verknogtheid aan materiële plesier aan die een kant, en die gevolge van sy oneerlikheid jeens sy vrou, aan die ander kant. Om té geheg te wees aan aardse plesiere en dit na te jaag ten koste van spirituele waardes, lei gewoonlik tot die breë pad wég van die Goddelike in plaas daarvan dat dit mens hou op die regte en nou paadjie op pad ná die Goddelike. Hy besluit gevolglik om op iets anders te fokus en sy plan vir 'n moontlike affair met haar, te laat vaar.

Verskillende norme en waardes fokus dus op verskillende prioriteite, afhangend van die lewensbeskouing waarop dit gebaseer is. Vir tradisionele Christene is dit belangrik dat die wette en verordeninge van God nagevolg moet word. Dit is van minder belang indien daardie wette en verordeninge veroorsaak dat die meeste mense op die ou end daardeur benadeel word. Indien die meeste mense op aarde dus sou besluit om nié daardie wette te gehoorsaam nie, is dit goed en reg dat hulle daarvoor gestraf word en is selfs 'n Ewige Verblyf in die Hel, meer “reg” as hul eie uiteindelike welsyn en vooruitgang op aarde. Die geloof in die grootste hoeveelheid geluk en plesier vir die grootste aantal mense, staan bekend as utilitarisme (Engels: utilitarianism). Daarvolgens behoort mens altyd eers te bepaal tot watter mate jou eie woorde of dade 'n aansienlike bydrae kan lewer tot die grootste hoeveelheid geluk vir die grootste aantal mense, alvorens jy besluit om iets te sê of te doen.   

Is alle norme en waardes ewe goed of ewe sleg, of is dit wel so dat sekere norme en waardes beter is as ander norme en waardes? Is daar 'n sekere maatstaf buite die mens wat kan bepaal of 'n sekere manier van dinge doen goed of sleg is, of is daar géén sodanige objektiewe maatstaf buite die mens wat die mens kan help om te bepaal watter manier van optrede “beter” is as 'n ander manier nie? Morele relativiste beweer dat elke mens die reg het om sy/haar eie norme en waardes te bepaal en dat een mens nié aan 'n ander kan voorskryf wat die beste manier van optrede is nie. Boeddhiste is gewoonlik redelik “oop” en toegeeflik betreffende mense se uiteenlopende norme en waardes, maar hulle is beslis nié morele relativiste nie, omdat hul “Noble Eightfold Path” wel verwys na sekere optredes wat meer reg is as andere. Hulle verwys o.a. na “Right Speech” en “Right Action” wat reg is omdat dit hulle help om gouer verlossing of Nirvana te bereik. Soortgelyk daaraan glo ék dat sekere gedagtes, woorde en dade beter is as andere indien dit 'n bydrae lewer om mense as't ware “nader te beweeg” aan eenwording met die Goddelike. 'n Reeksmoordenaar se morele norme en waardes is dus minder “reg” as 'n monnik s'n, juis omdat dit die reeksmoordenaar verknog hou aan sy eie woede en wraakgierigheid en gevolglik verder weerhou vanaf moontlike eenwording met die Goddelike.

Kom ons veronderstel dat Sannie die geleentheid het om geld te steel en dat sy redelik seker daarvan is dat niemand gaan uitvind dat sy die geld gesteel het nie. Kom ons veronderstel verder dat Sannie iemand is wat nié in die voortsetting van bewuste bestaan ná die dood glo nie. Sannie is dus redelik seker daarvan dat sy nié tydens hierdie lewe daarvoor gestraf gaan word nie en sy glo ook verder dat daar geen God of “wette van Karma” is wat ná haar dood gaan veroorsaak dat sy gestraf sal word vir haar wandaad nie. Kom ons veronderstel dat Linda iemand is wat ook die geleentheid het om geld te steel sonder dat iemand anders dit sal uitvind, en dat sy iemand is wat glo in reïnkarnasie en die moontlikheid dat wandade tydens hierdie lewe, nadelige gevolge kan hê op haar volgende lewe in 'n ander fisiese liggaam. Indien beide Sannie en Linda van staanspoor af goeie persone is met redelike hoë morele waardes, sal hulle nié besluit om die geld te steel nie, maar indien albei van hulle redelik selfgesentreerd is met twyfelagtige morele waardes, sal Sannie wel makliker die besluit kan neem om die geld te steel, omdat sy géén vrees het dat sy daarvoor gestraf gaan word nie. Die logiese gevolgtrekking vanuit die voorgaande is dat 'n geloof in die lewe na die dood, wél die moontlikheid bied om mense beter te motiveer om nié 'n wandaad te pleeg nie. 

Na die bewindsoorname van die Bolsjewiste in Rusland in 1917, het die nuwe heersers besef dat die Russiese bevolking al die jare gewoond was aan die morele norme en waardes wat deur die Russies-Ortodokse Kerk aan hulle voorgehou is. Die uitgediende, vreesaanjaende geloof in strawwe deur die Christene se Persoonlike God, is gevolglik vervang deur die vreesaanjaende en gewelddadige onderdrukking van die mense van Rusland deur die nuwe kommunistiese maghebbers vir 'n tydperk van meer as 70 jaar. Die tradisionele Christelike waardes van hedendaagse Wes-Europeërs is grootliks vervang deur postmodernistiese, materialistiese waardes. Ongelukkig is die gevolg daarvan dat daar deesdae geen gemeenskaplike getrouheid en weinig kulturele waardes is wat eenheid onder die Wes-Europeërs kan bewerkstellig nie. Gevolglik bied hulle bitter-min weerstand teen die opdringerige houding van Moslems wat in toenemende getalle na Europa emigreer.

Terwyl Godsdienstige Fundamentaliste hul norme en waardes baseer op “Soek allereers die eer van God!”, baseer Materialistiese Ateïste húl norme en waardes op die aanname dat die “mens” die enigste maatstaf is van alle norme en waardes. Godsdienstige mense se  veronderstelde “eer van God” was ook nie altyd in ooreenstemming met die welsyn van die meeste mense nie en het al dikwels gelei tot heelwat verdeeldheid, pyn en ellende; asook tot talle oorloë wat in die naam van godsdienstige idees gevoer is. Godsdiensleiers het hul volgelinge soms weggelei vanaf behoorlike morele waardes deur te versuim om duidelikheid te verskaf aangaande o.a. behoorlike optredes teenoor mense van ander bevolkingsgroepe - soos in die geval van baie Afrikaanse kerkleiers van die driesuster kerke! Die idee dat die mens die “kroon van die skepping” is, kan mense ook daarvan weerhou om bewus te wees van die welsyn van nie-menslike lewensvorme op die aarde, en kan gevolglik aanleiding gee tot die besoedeling van die aarde en die uitroei van dierespesies.

Die humanistiese idee waarvolgens die “mens” die maatstaf is van alle norme en waardes, het ongelukkig al dikwels gelei tot verskillende interpretasies van wat met die “mens” bedoel word. Die mens” kan verwys na 'n sekere rassegroep, sekere families, die hele mensdom uitsluitend alle nie-menslike diere, of selfs na slegs een enkele persoon! Vir die fascistiese ondersteuners van Mussolini was die welsyn van die “Staat” die belangrikste, vir die Nazi’s was die welsyn van die Ariese ras die belangrikste en die staat slegs 'n manier om die welstand en vooruitgang van daardie ras te verseker. Marxistiese regeringsleiers binne die Sowjetunie het voorgegee dat hulle hulself beywer vir die uiteindelike verwesenliking van 'n wêreldorde waarin alle goedere gemeenskaplike besit sal wees en waarin alle mense se behoeftes bevredig sal word, terwyl hulle in die praktyk hoofsaaklik op hul eie belange gefokus het. Die liberale waardes en hedendaagse materiële vooruitgang van Wes-Europese sekulêre lande soos Swede, die Nederlande en Denemarke, sal heel waarskynlik oor 50 jaar vervang word deur oorwegend Moslem lewenswaardes, indien Westerlinge nié genoegsame weerstand bied teen die instroming van Moslem-immigrante nie.

Morele norme en waardes van samelewings het deur die jare verander afhangend van die invloed wat sekere godsdienstige, spirituele en/of kulturele beginsels op die breë samelewing uitgeoefen het. Die Israeliete het byvoorbeeld baie jare gelede nié 'n probleem gehad met slawerny of die steniging van ongehoorsame kinders nie, omdat daardie praktyke volgens hulle nié teenstrydig was met die voorskrifte van hul “heilige” geskrifte nie. Die “eer van God” het volgens hulle, swaarder geweeg as die lyding wat veroorsaak is deur onderdrukkende wette t.o.v. slawerny en patriargale waardes. Die latere nie-Christelike “sekulêre” regeringsleiers van die ou Sowjetunie en Rooi-Sjina het as Materialistiese Ateïste, nie 'n probleem gehad met die vervolging en uitwissing van miljoene “andersdenkende” mense nie. Indien regeringsleiers egter sou glo dat daar 'n gedeelde essensie tussen alle lewende wesens is en dat hulle juis om daardie rede respek en agting behoort te hê vir alle lewende wesens, behoort hulle vanselfsprekend minder daarop fokus om hulself te bevoordeel ten koste van die ander minder-bevoorregte inwoners van die land. Indien die ander inwoners van die land óók dieselfde spirituele beginsel sou aanvaar, sal hulle óók minder geneig wees om andere te benadeel ten einde hul eie kortsigtige belange te bevorder. Indien alle inwoners van 'n land dus van staanspoor af respek vir ander mense het en gevolglik omgee vir hulle, sal dit vir 'n regering nié nodig wees om onderdrukkende wette en maatreëls in te stel ten einde goeie morele norme en waardes in die samelewing te waarborg nie. 'n Spiritueel-bewuste persoon sal dus twee-keer dink voordat hy/sy sou besluit om iemand anders te beroof of gewelddadig te verkrag.

3 opmerkings:

  1. Jaco se begrip van Humanisme, soos sy begrip van vele ander onderwerpe, is gebrekkig of opsetlik verdraai. Sien bv http://en.wikipedia.org/wiki/Humanism:

    "The International Humanist and Ethical Union (IHEU) is the world union of more than 100 Humanist, rationalist, irreligious, atheistic, Bright, secular, Ethical Culture, and freethought organizations in more than 40 countries.... According to the IHEU's bylaw 5.1[55]: Humanism is a democratic and ethical life stance, which affirms that human beings have the right and responsibility to give meaning and shape to their own lives. It stands for the building of a more humane society through an ethic based on human and other natural values in the spirit of reason and free inquiry through human capabilities. It is not theistic, and it does not accept supernatural views of reality."
    Sy aantyging dat "Die “mens” kan verwys na 'n sekere rassegroep, sekere families, die hele mensdom uitsluitend alle nie-menslike diere, of selfs na slegs een enkele persoon!" is absurd.

    AntwoordVee uit
  2. Jaco is lief vir die taktiek van "poisoning the well". Hy skryf bv: "Die latere nie-Christelike “sekulêre” regeringsleiers van die ou Sowjetunie en Rooi-Sjina het as Materialistiese Ateïste, nie 'n probleem gehad met die vervolging en uitwissing van miljoene “andersdenkende” mense nie.", wat die leser laat met die indruk dat ateïsme te blameer was vir uitwissing van andersdenkendes. Hierdie moorde het natuurlik niks met ateïsme te make gehad en was nie deur ateïsme gemotiveer nie, maar was bloot politieke opportunisme. Dieselfde wandade is deur die eeue al deur vele magshebbers van alle geloofsvariasies gepleeg.

    AntwoordVee uit
  3. As gode moreel optree en hulle dade goed is, is die doodslaan van babas teen rotse, die uitdelging van volke, die uitgee van dogters vir verkragting en verskeie ander wandade alombekend in die Bybel, moreel korrek. Dit laat die mensdom met teenstrydige standaarde van moraliteit en geen beginsel van reg of verkeerd nie. As dade goed is omdat dit aan standaarde voldoen is gode (en bybels) oorbodig.

    Mens-bepaalde etiese kodes is moontlik nie absoluut nie, maar dit beteken nie dat dit lukraak is soos Jaco probeer voorgee nie. Net so is "sprituele waardes" (wat hy nie verduidelik nie) geen waarborg vir goeie optrede nie en lei dit nie tot eenstemmigheid nie (sy voorbeelde ontbreek). Boonop is sy geïmpliseerde assosiasie van swak waardes met ateïsme ongehoord, soos vele empiriese studies reeds bewys het.

    AntwoordVee uit