Bladsye

Saterdag, 09 Februarie 2013

Mistisisme binne die Abrahamitiese geloofs-tradisie


Drie van die bekendste godsdienste in die wêreld - die Christendom, die Islam en Judaïsme, is deel van wat bekendstaan as die Abrahamitiese geloofs-tradisie, omdat die Abraham-figuur 'n beduidende rol speel in die geskiedenis van elkeen van hulle. Ander belangrike gelowe soos o.a. Hindoeïsme, Boeddhisme en Jaïnisme, is deel van die sogenaamde Oosterse geloofs-tradisie. Alhoewel al die hoofstroomgodsdienste heelwat van mekaar verskil, is daar tog betekenisvolle ooreenkomste tussen die esoteriese denkrigtings binne elkeen van hulle. Sommige navorsers beweer dat baie godsdienstige en spirituele idees duisende jare gelede geïnisieer is deur geheime groepe bestaande uit “radikale” esoteriese denkers, terwyl outoritêre godsdienstige organisasies lateraan gestig is deur selfsugtige, magtige belangegroepe.

Die Jode het 'n eeue-oue mistieke tradisie waarvan die Kabbala - wat na bewering eers gedurende die 12de eeu GE ontstaan het, die bekendste is. Kabbaliste se verwysing na Ain Sof as die Hoogste Werklikheid, het dieselfde betekenis as die teosowe se Parabrahman. Binne die Joodse tradisie is daar ook heelwat verskillende denkwyses wat wissel vanaf die Ortodokse Judaïsme, met hul beklemtoning van die uitverkore status van die Joodse volk (ras?), tot die meer esoteriese denkwyse van die Kabbala-ondersteuners en beoefenaars.

Die kerkvaders van die Ortodokse Christendom het een van die vroeë-Christelike groepe bekend as die Gnostici, as ketters gebrandmerk. Soortgelyk hieraan het die latere Ortodokse Moslems die esoteriese groepe binne die Islam-tradisie, óók as ketters gebrandmerk. Die Moslem “Gnostici” soos o.a. die Ismaili Sjiïete en die Soefiete, glo dat húlle die ware Moslem-tradisie van Mohammed en van die oorspronklike Moslems, verteenwoordig. Die Soefi “Groot Meester” Ibn Arabi het, soortgelyk aan die vroeë Libertynse Christene, geglo dat seks as 'n spirituele praktyk benut kan word.

Soortgelyk aan die vroeë Christelike Gnostici het die Moslem-Gnostici die “Christus” beskou as alle mense se gedeelde Christus-bewussyn. Hulle het Jesus se sogenaamde maagdelike geboorte allegories geïnterpreteer as verteenwoordigend van die siel, terwyl die besoek van die engel Gabriël aan Maria, vir hulle verwys het na die beginstadium van die inisiasieproses van die siel. Die bekende Soefi-digter Rumi het byvoorbeeld geleer dat indien ons onsself kan bevry van identifisering met die fisiese liggaam, ons “Christusse” sal wees.

Daar word beweer dat Boeddhiste al in die jaar 200 VGE bedrywig was in die Midde-Ooste. Hulle idees het veral die Grieke beïnvloed. Jesus se beweerde Bergpredikasie toon ook baie ooreenkomste met die idees van Hindoes en Boeddhiste. In die jare net voor die Rooms-Katolieke Kerk magtig geword het, was daar verskeie vroeë-Christelike groepe wat verskillende opvattings oor Jesus se leringe gehad het. Daardie groepe en hul idees is deur die latere magtige Rooms-Katolieke onderdruk en hul geskrifte was vir baie jare moeilik bekombaar. Kerkvaders soos Irenaeus se eensydige idees aangaande die geloofsoortuigings van daardie “ketters”, was vir Westerlinge vir baie jare die enigste beskikbare bron van inligting oor die denke van Christelike Gnostici. Die Nag Hammadi-geskrifte wat in 1945 ontdek is, is deur vroeë-Christene geskryf en bevat egter heelwat alternatiewe, “nie-Rooms Katolieke” idees oor Jesus.

Sekere feeverhale en stories was deur die oorspronklike skrywers daarvan, bedoel om allegories verstaan te word. Hoewel die Rooikappie-verhaal nie eintlik sin maak indien dit letterlik “verstaan” word nie, was daar tog alreeds derduisende mense wat daardie verhaal aan hul dankbare kinders oorvertel het. Hoe kan 'n wolf praat en homself vermom sodat hy amper soos die ouma gelyk het, en hoe kon hy die ouma heel ingesluk het? Die teosoof Lyman Frank Baum was die skrywer van die Wizard of Oz verhaal. Hy het drie van die belangrikste karakters in die verhaal gebruik om op allegoriese wyse na drie belangrike eienskappe van die siel te verwys. Die lafhartige leeu het na  “Wil” (Atma) verwys, die dom strooiman na “Intelligensie” (Manas) en die hartelose man van blik, na “Liefde” (Buddhi).


Jesus se beweerde woorde in Johannes 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”, is deur Ortodokse Christene letterlik geïnterpreteer asof dit sou beteken dat alleenlik gelowige Christene eendag “Hemel toe sal gaan”. Protestante verstaan dit byvoorbeeld as volg: “Die Christelike geloof in Jesus as volledig beide God én Mens, is die enigste Ware Geloof wat mense na God toe kan lei”.  Die esoteriese verstaan van hierdie Bybel-vers is egter heelwat anders - slegs mense in wie die Christus-bewussyn volledig manifesteer, is op pad na die “Vader” (die Ware Goddelike - nié die Joodse stamgod Jahwe van die Ou Testament nie).

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking