Bladsye

Woensdag 02 Januarie 2013

Raakpunte tussen godsbeskouinge, lewensbeskouinge en ander terreine

Maak dit enigsins sin om godsdienstige idees te betrek by ander lewensterreine soos o.a. die wetenskap, die politiek en mense se seksuele lewenswyses, of is godsdiens té “verhewe” bo hierdie ander terreine? Kan die wetenskap gebruik word om godsdienstige idees te ontleed, soos beweer word deur skrywers soos o.a. Richard Dawkins, of is daar 'n onoorbrugbare kloof tussen godsdiens en die wetenskap? Die evolusionêre bioloog Stephen Jay Gould het verwys na die Non-overlapping magisteria (NOMA) tussen godsdiens en die wetenskap en het aangevoer dat die een nié die ander se terrein mag betree nie. Wetenskaplikes is dus volgens hom, nié veronderstel om godsdienstige idees in verband met die skepping of die ouderdom van die aarde te kritiseer nie en teoloë is nié veronderstel om uitsprake te maak wat verband hou met die wetenskaplike terrein nie.

Heelwat mense is nie gemaklik daarmee dat sekere mense beswaar maak teen spesifieke godsdienstige idees nie. Selfs “vrydenkende” mense het al beweer dat godsdiens 'n private aangeleentheid is en dat andere hoegenaamd géén reg het om mense se (selfs belaglike) geloofsoortuigings te kritiseer nie. Dit sou egter nogal ideaal gewees het indien ons in 'n wêreld geleef het waarbinne die gevolge van mense se godsdienstige idees hoegenaamd géén skade aan andere of die omgewing aangerig het nie. Idees kan op sigself nie skadelik wees nie, maar dit kan gelowiges aanmoedig om sekere wandade te pleeg in die naam van dit waarin hulle glo. Dit kan hulle selfs aanmoedig om hulself op te blaas en in die proses andere se lewens ook te beëindig, of om selfs wetgewing te bevorder wat byvoorbeeld homoseksuele dade as onwettig verklaar.

Godsdienstige idees kan politici en kerkleiers selfs aanmoedig om wetenskaplike ontdekkings te onderdruk - ontdekkings wat die mensdom kan help om vordering te maak op veral die mediese terrein. Wetenskaplikes soos Copernicus en Galileo Galilei is deur die Rooms-Katolieke Kerk vervolg gedurende die Middeleeue. Die gevolg van hierdie onderdrukking van die vrye denke van mense was die sogenaamde Donker Eeue wat die vooruitgang van die mensdom vir ongeveer 'n duisend jaar vertraag het.

Die meeste hedendaagse politieke partye het 'n Program van Beginsels wat dikwels op godsdienstige beginsels gebaseer is. So byvoorbeeld was die ou Nasionale Party se Program van Beginsels gebaseer op geloof in God Drie-Enig en op tradisionele Calvinistiese geloofsbeginsels. Godsdienstige idees word ook dikwels gebruik om selfs belangrike besluite soos o.a. oorlogverklarings, te regverdig. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die Amerikaners, Israeli’s en Moslems se aanhoudende aggressie teenoor mekaar in die Midde-Ooste.

Baie ateïstiese aktiviste beywer hulself vir die volledige skeiding tussen Kerk en Staat en dring daarop aan dat landswette nié op godsdienstige wette of godsdienstige waardes gebaseer behoort te word nie. In die praktyk het byna alle lande een of ander wet wat beïnvloed is deur hul inwoners se godsdienstige agtergrond. Die formulering van landswette van selfs oorwegend nie-godsdienstige lande soos Japan en Swede, is lank gelede beïnvloed deur hul voorouers se godsdienstige voorveronderstellings.

Die Goddelike kan beskou word as dié belangrikste Werklikheid, omdat mense hierdie Werklikheid beskou as Iets wat verhewe is bo enige menslike konsepte oor die hoogste vorm van die Volmaakte, die Skone en die Goeie. Indien die Goddelike 'n Werklikheid is, en nié slegs 'n vorm van wensdenkery soos beweer word deur positiewe ateïste nie, móét hierdie Werklikheid 'n invloed hê op die lewensbeskouing van 'n persoon wat hierdie Werklikheid ernstig opneem. Daar moet 'n verband wees tussen so 'n persoon se denke, dade en die idees wat sodanige persoon het oor die eienskappe van dit wat hy/sy beskou as dié belangrikste Werklikheid. 'n Persoon se geloof in 'n wraakgierige God weerspieël dikwels die betrokke persoon se optrede en gedagtes teenoor mense van wie hy/sy nie baie hou nie, terwyl ateïste op hul beurt glo dat dit alleenlik mense se plig is om waardes en norme te skep, omdat daar géén God buite die mens is wat norme en waardes aan die mensdom kan voorskryf nie. 

Persone wat dink dat daar 'n vae moontlikheid is dat die Goddelike 'n werklikheid is, maar dat húlle beter dinge het om op te fokus as bespiegelinge oor die aard van die Goddelike en die verband tussen die Goddelike en ander lewensterreine, se lewensbeskouinge en lewenswaardes word egter minder beïnvloed deur hul godsbeskouing as wat Godsdienstige Fundamentaliste se lewensbeskouinge beïnvloed word deur hul idees oor God. 'n Fundamentalis wat glo dat God alle dinge “vanuit niks” geskep het en dat God nog boonop wette en reëls daargestel het waarvolgens mense veronderstel is om te lewe, sal vanselfsprekend sy/haar idees oor die lewe baseer op hierdie basiese geloofsbeginsel. Al hul denke en optredes word dan deur hulle versigtig oorweeg om vas te stel of dit wel in lyn is met God se verordeninge. So 'n persoon sal byvoorbeeld nié 'n landswet ondersteun wat openlik teenstrydig is met sy/haar spesifieke interpretasie van God se verordeninge nie. Fundamentalistiese Christene wat byvoorbeeld daarvan oortuig is dat die Bybel duidelik standpunt inneem teen homoseksualiteit, sal beslis nié huwelike tussen mense van dieselfde geslag, goedkeur of ondersteun nie.

Fundamentalistiese Christene sal nooit erken dat wetenskaplike bevindings teenstrydig is met hul veronderstelde Woord van God nie, en sal altyd die Bybel op so 'n manier interpreteer dat dit konsekwent is met hul eiesoortige verstaan van “wetenskaplike feite”. So byvoorbeeld glo sommige fundamentaliste dat die ses dae skepping waarna Genesis verwys, letterlik dié ware verloop van die ontstaan van die aarde verwoord, en dat dit wetenskaplik korrek is. Iemand anders wat glo dat die “dag” waarna Genesis verwys, allegories verstaan behoort te word en dat God nié bedoel het dat Sy Woord noodwendig wetenskaplik korrek verstaan behoort te word nie, sal makliker die getuienis vir evolusie kan aanvaar en sal gevolglik méér bereid wees om “teïstiese” evolusie te ondersteun. Teïstiese evolusie is die aanvaarding van beide die oorweldigende wetenskaplike getuienis vir evolusie én die geloof in 'n Persoonlike God wat aanvanklik die eerste vorm van lewe vanuit “dooie” anorganiese materie geskep het. Sommige prominente godsdienstige wetenskaplikes soos o.a. Francis Collins, ondersteun teïstiese evolusie.

Die wetenskap as geheel bestaan uit verskeie vakgebiede waarvan elkeen van toepassing is op 'n sekere “deel” van die Kosmos. Fisika en Chemie is van toepassing op die bestudering van hoofsaaklik anorganiese materie en die wette wat daarop van toepassing is, wiskunde is van toepassing op abstrakte begrippe soos getalle, hoeveelhede en geometriese vorms. Sterrekunde is van toepassing op die bestudering van die hemelruim se sterre, planete, komete, ens., terwyl die biologiese wetenskappe van toepassing is op organiese lewensvorme. Dit gebeur dikwels dat die een veld van die wetenskap oorvloei in 'n ander veld en daar kan gevolglik byvoorbeeld nie beweer word dat daar 'n “onoorbrugbare kloof” tussen sterrekunde en biologie bestaan nie. Sommige wetenskaplikes beweer selfs dat lewe miskien afkomstig is vanuit meteoriete wat die aarde miljoene jare gelede getref het - die sogenaamde panspermia teorie. Godsdiens en spiritualiteit fokus hoofsaaklik op nie-materiële dinge, die sekulêre natuurwetenskappe op “meetbare” materiële dinge, terwyl die politiek fokus op die magsverhoudinge tussen mense. Godsdienstige uitsprake oor die aard van die Goddelike en die hiernamaals oorvleuel soms met wetenskaplike ontdekkings oor die kosmologie, geologiese getuienis vir die ouderdom van die aarde en sielkunde, terwyl dit ook die politieke besluite van beide politici en hul ondersteuners kan beïnvloed.

Indien kerkleiers huiwerig is om standpunte in te neem oor kwessies wat vir hul lidmate ná aan die hart lê, kan hulle moontlik baie van die lidmate vervreem van die kerk. Kerke word vir die ontevrede lidmate dan toenemend irrelevant omdat hulle voel dat die kerkleiers nié genoegsame leiding kan verskaf oor belangrike sake nie. Miskien is dit die hoofrede waarom die NG Kerk soveel duisende lidmate verloor het die afgelope jare. Indien kerkleiers daarop aandring dat godsdiens en politiek volledig van mekaar geskei behoort te word, ontaard godsdiens in iets soortgelyk aan mense se sport beheptheid wat hulle tydelik laat vergeet van ernstige politieke kwessies en wat deur korrupte politici verwelkom word omdat dit maar net nog 'n onderwerp is wat die “gepeupel” se aandag aflei van hul duistere motiewe en optredes. Die meeste mense fokus hoofsaaklik op maniere om geld te maak, sportgebeure, motorkarre, vermaak op die TV en die nuutste skinderstories oor akteurs en sporthelde. Hulle word daarin aangemoedig deur magsbehepte politici en eienaars van die hoofstroommedia.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking