Die
lewensbeskouing waarvolgens die lewe basies 'n sinnelose stryd om mag en
oorlewing is, 'n stryd wat gepaardgaan met die sterkere, meer aanpasbare of
meer intelligente wesens wat gedurig die botoon voer, kan beskou word as die
teenoorgestelde van 'n ander lewensbeskouing waarvolgens Liefde die
belangrikste is omdat alle dinge 'n gedeelde essensie het wat hulle in 'n diepere
sin aan mekaar verbind. Mense se geloof in die werklikheid van 'n gedeelde
essensie, motiveer hulle om simpatiek te wees en empatie te hê met swakkere en
onderdrukte mense en diere. Een van die basiese lewenswaardes wat Jesus (indien
hy 'n werklike historiese persoon was) na bewering verkondig het, en wat deel
was van sy Bergpredikasie, was deernis met veral diegene wat deur die
samelewing uitgeskuif is. Hy was besorgd oor prostitute en melaatses en die
Samaritane teen wie sommige rassistiese Israeliete/Jode gediskrimineer het. Sy
lewenswaardes was heelwat anders as dié van die samelewing waarbinne hy gelewe
het en is nog steeds heelwat anders as dié van die meeste hedendaagse
postmoderne samelewings.
Mense word dikwels
gekondisioneer om die idee te aanvaar dat die ou lewe maar basies 'n stryd om
oorlewing is en dat hul hoogste prioriteit behoort te wees om na hul eie
belange om te sien - wees wantrouig teenoor andere en verwag altyd van
staanspoor af, die slegste van ander mense. Mense wat so 'n lewensbeskouing
aanvaar, se lewens word dikwels in 'n toenemende mate sinneloos a.g.v. die
invloed wat daardie beskouing het op hul alledaagse houdings en optredes
teenoor andere. Hoe meer jy dus so 'n beskouing aanvaar as die “regte”
lewensbeskouing, hoe meer sinneloos en “leeg” kan jou lewe raak. So 'n
lewenshouding lei tot die verdere vervreemding tussen mense met die
gepaardgaande toenemende eensaamheid wat kenmerkend is van baie mense se lewens
in die postmoderne wêreld. Na my mening is lg. lewensbeskouing een van die
hoofoorsake van selfmoord en selfs van die gesinsmoorde onder blanke
Afrikaners. 'n Man verloor sy werk en voel dat hy nie meer in staat is om vir
sy huisgesin te sorg nie, juis omdat 'n “sterker” mag - sy werkgewer, besluit
het om hom af te dank. Die man is dan verbitterd teenoor die werkgewer en hy
raak dikwels ook verbitterd teenoor die res van die samelewing. Sy gevoel van
magteloosheid en minderwaardigheid ontaard uiteindelik in die grusame moord op
sy onskuldige familielede.
Die
“Wil-tot-Mag” wat die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche beskou het as dié
belangrikste dryfveer in die lewe, lei soms tot 'n voortdurende soeke na méér
mag, rykdomme en aardse plesier ten koste van die ander swakker en “dommer”
mense wat in die pad staan van verterende parasiete - mense wat dikwels voorgee
dat hulle vir andere omgee alleenlik ten einde hul eie selfsugtige doelwitte te
bereik. Die logiese uiteinde van so 'n houding is die vernietiging van selfs
die mense wat alles verteer het wat in hul pad gestaan het, omdat daar
naderhand niks meer oor sal wees om op te teer nie. Ek dink dikwels aan daardie
selfsugtige lewenshouding as die lewensfilosofie van “Ewige Haat”, omdat
daarvolgens nóóit voldoende versoening sal wees tussen lewende wesens nie. Daar
sal dus altyd 'n groter, sterker en/of slimmer lewensvorm wees wat 'n minder
gegoede lewensvorm vertrap en verteer. Dit ontaard in 'n wegbeweeg vanaf die
Goddelike en kan as die teenoorgestelde beskou word van 'n Liefdevolle
lewenshouding wat altyd die welsyn, vooruitgang en lewenskwaliteit van andere
in ag neem.
Ons kan die invloed
van 'n selfsugtige lewe beter weerstaan indien ons sou glo dat versoening
tussen lewende wesens wél moontlik is omdat daar 'n gedeelde Goddelike “kern”
tussen hulle is. Dit sal daarom ook méér sin maak om vir andere om te gee,
omdat alle lewende wesens dan sodoende saam nader kan “beweeg” aan eenwording
met die Goddelike. Korttermyn opofferings ter wille van 'n beter toekoms, die
skepping van kunswerke wat deur ander mense waardeer kan word, barmhartige dade
en aktiewe deelname aan die verbetering van mense se lewensomstandighede, maak
daarom op die ou end méér sin as 'n koue, leë en basies sinnelose lewe wat
hoofsaaklik gewy word aan die bevrediging van die begeertes van die ego.
Wysgere het vir
baie jare verwys na die tweestryd tussen die Ware Self en die ego-gedeelte van
elke mens. Die Boeddha (indien selfs hy óók 'n historiese persoon was!) het verwys
na elke mens se verknogtheid (Engels: attachment) aan beide verganklike
materiële dinge én aan emosionele bande met ander mense. Verknogtheid weerhou
mense van die nastreef na die hoër dinge in die lewe. Hoër dinge soos o.a. die verwesenliking
van bevryding en bewuswording van die Goddelike. Die Switserse psigoanalis en
wysgeer, Carl Gustav Jung, het verwys na elke mens se “masker” of persona
wat gedurig op die voorgrond tree en sodoende elke mens se Ware Self onderdruk.
Mense behoort te aanvaar dat die ego nié jou Ware Self is nie, maar wel 'n
produk van elke individu se kulturele agtergrond, oorgeërfde gene en
lewensomstandighede. Sodoende kan hulle die eerste stap neem na die uiterlike
manifestering van die Goddelike essensie “binne-in” hulle. Verskeie denkers het
alreeds heelwat oor laasgenoemde proses gepraat en geskryf en dit is daarom nie
my doel met hierdie skrywe om weereens as't ware die wiel te “herontdek” nie.
Lees en kyk gerus in verband daarmee die boeke en DVD’s van o.a. Eckhart Tolle,
Wayne Dyer, Ken Wilber, Deepak Chopra, Karen Armstrong en Louise Hay.
In plaas
daarvan om verknog te raak aan beide tydelike materiële dinge en emosionele
bande met ander mense, behoort ons in toenemende mate “verknog” te raak aan die
Goddelike. Daardie “edele” verknogtheid sal ons motiveer om nie slegs onsself
nie, maar ook die res van die wêreld as't ware nader te “beweeg” na die
Goddelike. Deur ons gedagtes en optredes te suiwer, sal ons deur die voorbeelde
wat ons stel, ánder mense meer bewus maak van die werklikheid van die Goddelike
en die gevolglike nastreef van 'n beter wêreld vir ons almal. 'n Wêreld
gekenmerk deur beide onvoorwaardelike naasteliefde én lewensomstandighede wat
aan almal genoeg geleenthede bied om te kan mediteer en rustig te fokus op en
te filosofeer oor die werklikheid en bewuswording van die Goddelike, is beslis
méér wenslik as 'n wêreld waarbinne haat, naywer, afguns en vrees, oorheersend
is. Baie denkers het alreeds die verband tussen 'n beter wêreld én elkeen se
reis op pad na die Goddelike, baie beter as ek verduidelik. Onlangse voorbeelde
was o.a. Mahatma Gandhi, Jiddu Krishnamurti en die huidige Dalai Lama. Die Amerikaanse
sielkundige Abraham Maslow het met sy “hiërargie van behoeftes” aangetoon dat
mense se basiese behoeftes éérs bevredig moet word alvorens hulle meer tyd kan
spandeer aan selfverwesenliking. Spiritualiteit, oftewel elkeen se unieke reis
na die Goddelike, is egter ook deel van elke mens se selfverwesenliking.
Baie mense
bestee soveel tyd aan óf die najaag van geldelike rykdomme, óf sport en
ontspanning, óf vermaak en die lees en kyk van oppervlakkige nuusberigte, dat
hulle min tyd “maak” vir die bestudering van godsdiens, spiritualiteit of selfs
vir die bestudering van internasionale politiek. Dit is nié so eenvoudig dat
jou gedagtes en lewenshouding op die ou end 100% sal bepaal wat in jou lewe
gaan plaasvind nie, maar dit is wel belangrik dat dit waarop jy fokus en waaroor
jy dikwels dink, tog 'n belangrike invloed het op die verloop van jou lewe.
Iemand wat byvoorbeeld gedurig wraakgierige gedagtes koester teenoor 'n ander
persoon, sal meer geneig wees om daardie ander persoon leed aan te doen.
Soortgelyk daaraan het iemand wat gereeld fokus op die werklikheid van die
Goddelike, 'n groter kans om vroeër eenwording met die Goddelike te bereik as
iemand anders wat heeldag sit en wonder op watter maniere hy andere kan
misbruik en hoe makliker en vinniger hy kan geldmaak.
Mense se denke
het 'n bepalende invloed op die besluite wat hulle neem t.o.v. hul toekomstige
dade en woorde. Elke persoon se goeie of slegte Karma word beïnvloed
deur alle goeie en slegte woorde of dade van daardie persoon. Elke mens se Karma
tydens hiérdie lewe, bepaal vervolgens die status en kwaliteit van hul siele in
'n volgende lewe. Mens hoor dikwels dat iemand daarna verwys dat ryk mense nié
hul rykdomme met hulle kan saamneem wanneer hulle die dag sterf nie. Mense se
onsterflike dele (siele) wat voortbestaan na die afsterwe van hul ou fisiese
liggame, word egter beïnvloed deur ál hulle denke en dade. Sodoende evolueer die
onsterflike siel van elke mens vanaf een inkarnasie in 'n fisiese liggaam na 'n
volgende inkarnasie, totdat dit uiteindelik die hoogste Ideaal verwesenlik.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking