Bladsye

Vrydag, 24 Mei 2013

Die betekenis van die woord “Christen” en die gedurige debatte oor Jesus se opstanding

Soortgelyk aan die woorde “liefde”, “rassisme” en “transendent”, word die woord “Christen” deur verskillende mense, verskillend verstaan en misbruik. Fundamentalistiese Christene is geneig om slegs mense wat glo in Jesus as deel van God Drie-Enig, as “ware” Christene te aanvaar en sommige van hulle maak nog steeds beswaar teen sogenaamde liberale teoloë wat nie glo dat die Bybel die Woord van God is en dat Jesus as Seun van God vir mense se sondes gesterf het nie. Is daar genoegsame getuienis dat die Bybel die Woord van God is omdat onder andere die geboorte en kruisdood van Jesus baie jare vantevore in die Ou Testament korrek voorspel is? Is daar 'n duidelike definisie van die betekenis van die woord “Christen” in die Bybel? Het Jesus, volgens die beskrywing van sy lewensverhaal in die vier Evangelies, duidelik gesê dat God Drie-Enig van aard is en dat hyself as Seun van God, deel is van God Drie-Enig?

Volgens 'n Wikipedia-artikel oor Christenskap [1], glo tradisionele Christene dat Jesus die Seun van God was en dat Hy vir mense se sondes gesterf het. Volgens dieselfde artikel glo baie van hulle nog boonop dat gedeeltes van die Ou Testament die geboorte en kruisdood van Jesus korrek voorspel het. Daar is egter mense wat hulself deesdae Christene noem, maar wat nié hierdie presiese geloofsbeginsels as waarin tradisionele Christene glo, aanvaar nie. “Liberale” Christene verwerp dikwels die teïstiese godsbeskouing sowel as die idee dat Jesus beide volledig God én Mens was. Hulle reken die Bybel bevat baie wyshede en dat dit 'n boek is wat deur mense geskryf is om húlle verstaan van die Goddelike op 'n sekere manier te verwoord. Hulle beskou hulleself as nog deel van die Christelike tradisie, maar hulle verwerp die tradisionele dogmas oor o.a. die Drie-Enige aard van die Goddelike, die erfsondeleer, Jesus se maagdelike geboorte en fisiese opstanding uit die dood.

Wanneer mens slegs na die Bybel verwys as bron van die betekenis daarvan om 'n Christen te wees, is dit duidelik dat daar nié 'n duidelike beskrywing van die woord daarin is nie. Die woord “Christen” verskyn slegs 3 keer in die Nuwe Testament (Handelinge 11:26, Handelinge 26:28 en 1 Petrus 4:16) en verwys na die volgelinge van 'n Christus. Die oorspronklike Griekse woord Christos is in hierdie verse gebruik as vertaling van die Hebreeuse woord Mashiach, wat verwys na ʼn menslike Messias of gesalfde en beslis nié noodwendig na Jesus as die Seun van God nie. Daar is dus nêrens ʼn klinkklare definisie van die woord “Christen” in die Bybel, wat dieselfde betekenis het as die hedendaagse verstaan van ‘n (tradisionele) Christen as iemand wat glo dat Jesus as Seun van God (en gevolglik Jesus as “deel” van God Drie-Enig), vir alle mense se sondes aan die kruis gesterf het nie. Wanneer hierdie feit aan tradisionele Christene bekendgemaak word, gebruik hulle dikwels die verskoning dat die Bybel as geheel gelees en verstaan moet word alvorens “ware” Christenskap begryp kan word. Dit herinner nogal aan Totius se soortgelyke kommentaar in 'n 1944 referaat “Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid”, waarin hy aangevoer het dat die hele Bybel in plaas van slegs sekere verse, genoegsame bewys daarvan is dat Apartheid in ooreenstemming met die Bybel is!

'n Godsdienstige Fundamentalis is volgens my definisie, 'n persoon wat glo in beide 'n persoonlike God waarmee mense 'n persoonlike verhouding kan hê, én dat slegs sommige mense bestem is om eendag die ewige lewe te beërwe. 'n Christen-fundamentalis is 'n Godsdienstige Fundamentalis wat nog boonop onder andere glo dat slegs mense wat Jesus as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar, die ewige lewe kan beërwe, dat Jesus gebore is uit die maagd Maria, dat Hy fisies uit die dood opgestaan het en dat die Bybel die onfeilbare “Woord van God” is. 'n Christen-fundamentalis glo gevolglik dat Jesus deel is van God Drie-Enig en dat alle mense in “sonde ontvang en gebore is”. Heelwat van die Calvinistiese geloofsbeginsels wat deur die meeste Afrikaanssprekende mense die afgelope dekades aanvaar is, is deel van hierdie Christen-fundamentalistiese lewensbeskouing. Christene wat beweer dat die Bybel die letterlike Woord van God is, het al dikwels sekere dele letterlik verstaan, terwyl hulle ander dele metafories of allegories interpreteer. So kan selfs Jong-Aarde Kreasioniste beweer dat die aarde letterlik in ses dae geskep is, terwyl hulle die steniging van ontroue vroue waarna die Ou Testament verwys, allegories verstaan.

Sommige tekste van sekere Bybelvertalings is verander om kerklike dogmas te ondersteun. Een van die bekendste voorbeelde is natuurlik in die ou 1953 Afrikaanse Bybelvertaling 1 Johannes 5:7 “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord [Jesus?] en die Heilige Gees, en die drie is een...”. Hierdie gedeelte is deur Rooms-Katolieke vertalers ingevoeg om die dogma oor die Drie-Eenheid te ondersteun. Dit is as deel van die 1953 Afrikaanse vertaling, vertaal vanuit die ou (Rooms-Katoliek geïnspireerde) Latynse Vulgaat-Bybel. Dieselfde teks is afwesig in die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling, omdat daar nié Griekse afskrifte van die boek bestaan wat die teks bevestig nie, slegs Latynse afskrifte waarop die Vulgaat-Bybel gebaseer is. Die Nuwe Testament van die 1983-vertaling is hoofsaaklik vertaal vanuit die ou Griekse gedeeltes van die Nuwe Testament. Ek het die Engelse King James Version-Bybel (KJV) se vertaling van hierdie vers vergelyk met ander latere Engelse Bybelvertalings en tot die gevolgtrekking gekom dat die KJV nogal in baie opsigte ooreenstem met die Afrikaanse 1953-vertaling, terwyl die meeste ander Engelse Bybels heelwat ooreenstem met die Afrikaanse 1983-vertaling.

Tradisionele Christene beweer dikwels dat sekere gedeeltes van die Ou Testament die latere geboorte en/of kruisdood van Jesus voorspel. Een van die belangrikste verse waarna hulle verwys is Jesaja 7:14: “Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.” Die woord “maagd” is gebruik as vertaling van die oorspronklike Hebreeuse woord ha-almah. Joodse skrifgeleerdes wys egter daarop dat die Hebreeuse woord betulah dikwels in die Bybel gebruik word om na 'n maagd te verwys, soos bv. in Genesis 24:16, Exodus 22:17-17, Levítikus 21:14 en Deuteronómium 22:13-21, en dat die Hebreeuse woord almah beter vertaal sou gewees het as “jong vrou”. 'n Verdere probleem is dat Jesus volgens tradisionele Christelike idees, van geboorte af sonder sonde was, maar dat daar in verse Jesaja 7:15-16 verwys word na dieselfde seuntjie wat eers lateraan in sy lewe sal “weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is”! Hierdie was oënskynlik 'n mislukte poging van sommige tradisionele Christene om die Ou Testament profeties te laat verwys na hul idees oor die Goddelike status en maagdelike geboorte van Jesus. Blykbaar het Jesaja 7:14 in elk geval oorspronklik verwys na 'n gebeurtenis wat alreeds plaasgevind het en daarom was dit nié 'n profetiese uitspraak nie.

Jesaja 53:3-6 is 'n belangrike gedeelte in die Ou Testament wat na bewering die latere  kruisiging van Jesus voorspel het. Die skrywer(s) van hierdie boek verwys egter op verskeie plekke vroeër in die boek (Jesaja 41:8-9, Jesaja 44:1, Jesaja 44:21 en Jesaja 49:3) duidelik na die volk Israel en nié na iemand wat baie jare later gebore sou word en vir die sondes van mense sou sterf nie. Jesaja 53:10 “As hy [derdepersoonsverwysing na Israel in die nabye toekoms] sy lewe as skuldoffer gee, sal hy [derdepersoonsverwysing na Israel van 'n latere era] 'n nageslag hê en nog lank lewe”, wys daarop dat die volk Israel 'n lang lewe sowel as 'n nageslag sal hê. Dit was beslis nie soortgelyk aan die verloop van Jesus se lewe volgens die vier Evangelies nie! Christelike apologete beweer dikwels dat hierdie vers allegories verstaan behoort te word en dat dit profeties na beide Jesus se opstanding én volgelinge verwys. Hulle verduidelik egter nie waarom die res van die boek Jesaja letterlik verstaan behoort te word, terwyl slegs hierdie vers allegories verstaan moet word nie...

Fundamentalistiese Christene het dus al verskeie pogings aangewend om die hele Bybel as een harmonieuse geheel voor te hou waarbinne daar hoegenaamd geen teenstrydighede is nie en waarin daar nog boonop profetiese voorspellings is wat lateraan bewaarheid is. Op hierdie manier het hulle méér oënskynlike gesag verleen aan hulle meesterverhaal aangaande 'n Messias wat uit die volk Israel gebore is en wie se geboorte en kruisdood nog boonop in die Ou Testament, wat kwansuis óók Goddelik-geïnspireerd is, profeties voorspel is. Daar is egter basiese verskille tussen die Ou en Nuwe Testament wat daarop dui dat dit twee verskillende geloofs-tradisies verteenwoordig. Die Ou Testament handel hoofsaaklik oor die verhouding tussen die volk Israel en hul veronderstelde stamgod Jahwe, terwyl die Nuwe Testament handel oor die lewe van Jesus en hoe dit álle mense van alle volke en nasies beïnvloed.

Daar word selde na die Duiwel verwys in die Ou Testament, juis omdat die God van die Ou Testament duidelik verantwoordelik was vir beide die Goeie én die Bose. Die God van die Nuwe Testament was op 'n manier minder “direk” verantwoordelik vir die Bose, omdat die Duiwel meer prominent is in die Nuwe Testament en hy hierdie “bose rol” van God oorgeneem het. Latere Christene het beweer dat die ou slang van die Genesisverhaal eintlik die Duiwel was, maar hierdie bewering het heel waarskynlik meer te make met die latere erfsondeleer van die tradisionele Christene waarvolgens alle mense in sonde in ontvang en gebore is en waarvolgens sondaars slegs deur die “bloed van Jesus” redding kan ontvang. Die wraakgierige en rassistiese “oog vir 'n oog en tand vir 'n tand”-eienskappe van die God van die Ou Testament verskil ook heelwat van Jesus se “draai jou ander wang”-lewensfilosofie. Die Ou Testament se “Israel vs. die res van die wêreld” is dus lateraan opgevolg deur die Nuwe Testament se “gelowiges vs. ongelowiges”.

Daar is vir baie jare al bespiegel oor die bestaan of nie-bestaan van 'n persoon met die naam Jesus wat gelewe het gedurende die eerste eeu van die “Gemene Era” (GE). Prof. Sakkie Spangenberg beskryf verskillende perspektiewe op die lewe van Jesus in sy uitstekende boek Jesus van Nasaret. Die vier Evangelies van die Nuwe Testament verskil ook van mekaar wat betref die presiese handelinge en omstandighede rondom Jesus se lewe. Die tradisionele kerke het hul eie dogmatiese idees oor Jesus as deel van God Drie-Enig, terwyl die ortodokse Jode beweer dat hy 'n gewone mens was wat op 'n manier gerebelleer het teen die heersende Joodse tradisies van sy tyd. Deesdae is daar skrywers soos o.a. Robert M. Price, Acharya S. (D.M. Murdock) en Timothy Freke wat reken dat die Jesus-verhaal hoofsaaklik gebaseer is op verhale van vroeëre mitiese helde soos Mithras, Dionysus en Horus wat ook soortgelyk aan Jesus, baie jare gelede as gode 'n heldedood gesterf het. Lede van die Jesus Seminar in Amerika het op hul eie manier probeer vasstel hoeveel van die woorde wat Jesus na bewering volgens die vier Evangelies gespreek het, wérklikwaar deur hom gespreek is. Die Joodse geskiedkundige Josefus het blykbaar “terloops” na Jesus verwys in een van sy skrywes. Terwyl baie geskiedkundiges dit as ʼn vervalsing van sy oorspronklike werk beskou, is daar sommige Christen-apologete wat reken dat dit getuienis is vir die bestaan van ʼn Jesus wat wonderwerke verrig het. Dis insiggewend dat daar geen ander “amptelike” Joodse of Romeinse geskrifte is wat verwys na ʼn persoon met die naam Jesus wat wonderwerke verrig het en wat gekruisig is nie. Die vier evangelies sowel as Paulus se boeke is volgens baie Bybelwetenskaplikes, eers ná die jaar 50 GE geskryf en kan dus nie as verslae van ooggetuies beskou word nie. Die vier evangelies weerspreek mekaar nog boonop betreffende die besonderhede van gebeure net na die beweerde opstanding van Jesus! Die probleem is dat hierdie dinge so lank gelede plaasgevind het, dat dit bykans onmoontlik is om vas te stel wat die werklike verloop van gebeure was. Soortgelyk aan bespiegelinge oor die ontstaan van lewe op aarde, die ouderdom van die aarde, die moontlike bestaan van 'n “super-beskawing” in Atlantis en die moontlikheid van buiteruimtelike wesens se betrokkenheid by die ontstaan van die mensdom, is bespiegelinge oor die lewe van Jesus, hoofsaaklik op geloof gebaseer.

Daar is al heelwat gedebatteer oor die beweerde fisiese opstanding van Jesus ná sy kruisdood. Dr. Abel Pienaar en dr. Mike Licona het op 26 September 2011 by die Sanlam Ouditorium van die Universiteit van Pretoria aan so 'n debat deelgeneem. Nadat ekself aan 'n “post-mortem” debat daaroor deelgeneem het op die ou webblad van die Nuwe Hervorming Netwerk, het ek besluit om my gedagtes agter mekaar te kry betreffende die verskillende sienswyses omtrent (1) die verskille tussen die eienskappe van geskiedkundige getuienis en dié van die natuurwetenskappe, (2) die waarskynlikheid van die werklikheid al dan nie van dit wat getuies meer as 'n duisend jaar gelede (in visioene?) “gesien” het, (3) die betroubaarheid van die bronne wat na daardie getuies verwys, sowel as (4) die moontlike motiewe van die opstellers van daardie bronne. Hier is my gevolgtrekkings:

·    Daar is wesenlike verskille tussen die empiriese metodes wat deur natuurwetenskaplikes gebruik word om die geldigheid van hul teorieë te bewys, en die metodes wat geskiedkundiges gebruik om die waarskynlikheid dat sekere gebeure wel plaasgevind het, aan te toon. Geskiedkundiges kan wel (sover menslik moontlik is) 100% seker wees van iets wat in die verlede plaasgevind het, indien hulle die gebeurtenis met hul eie sintuie direk of “indirek” waargeneem het. Omdat hulle gewoonlik afhanklik is van geskrifte en ander mense se getuienis betreffende wat ook al baie jare gelede plaasgevind het, kan hulle nié 100% seker wees dat daardie gebeurtenis wel plaasgevind het nie, juis omdat hulle die gebeurtenis nie self direk of indirek waargeneem het nie. Met indirekte waarneming verwys ek byvoorbeeld na wanneer ek 'n “lewendige uitsending” van die president van die land op tv waarneem. Ek kan seker wees dat Jacob Zuma as president van die land 'n week gelede iets op tv gesê het, omdat ek 'n week gelede na daardie uitsending gekyk het. In die eerste hoofstuk van Richard Dawkins se nuutste boek The Magic of Reality, vra hy die vraag oor hoe mense seker kan wees of iets “werklik” is of nie. Die eerste metode waarna hy verwys, is direkte sintuiglike waarneming. Die tweede metode is indirekte waarneming, soos wanneer iemand gebruikmaak van 'n teleskoop of mikroskoop. Die derde metode is die modelle wat wetenskaplikes gebruik om die geldigheid van hul teorieë aan te toon. 'n “Goeie” model is 'n model wat die uitkoms van 'n eksperiment gewoonlik korrek kan voorspel. 'n Model wat byvoorbeeld voorspel dat 'n glasvenster sal breek indien iemand 'n groterige klip daarna gooi, kan as 'n goeie model beskou word. 

·   Ons kan redelik seker daarvan wees dat daar sommige mense is wat dinge waarneem wat hulle as “werklik” beskou, terwyl daardie dinge eintlik nié werklik is nie en gevolglik ook nie objektief deur ander mense waargeneem kan word nie. 'n Hallusinasie kan vir 'n skisofreen of iemand wat op die punt is om 'n migraine-aanval te kry, net so werklik wees as wat 'n droom vir 'n “normale” mens werklik is gedurende 'n droom. Ons kan met 'n skisofreen praat wat onlangs so 'n hallusinasie gehad het, maar ons kan nié direk met die mense praat wat meer as 'n duisend jaar gelede 'n visioen gehad het nie.

·      Terwyl daar baie teoloë en predikante is wat reken dat die Nuwe Testamentiese geskrifte betroubare bronne is en dat dit geskiedkundige gebeure betroubaar weergee, kan ek beslis nié met sekerheid sê dat veral die sinoptiese evangelies die gebeure rondom Jesus se lewe 100% korrek weergee nie. Ek glo beslis ook nie dat ons dit wat daarin geskrywe staan “soos 'n kind” moet glo en aanvaar omdat dit kwansuis die onfeilbare Woord van God is nie! Selfs al ontdek ons 'n amptelike dokument wat 1 500 jaar gelede deur Romeinse amptenare geskryf is, kan ons nog steeds nie 100% daarvan seker wees dat die inhoud van die dokument korrek is nie, juis omdat die Romeine ook feilbare mense was en omdat hulle sekere subjektiewe vooroordele gehad het. Mike Licona sou meer eerlik gewees het indien hy sou erken het dat sy idees op (blinde) geloof gebaseer is omdat selfs hy ook nie 100% daarvan seker kan wees dat Jesus wel fisies uit die dood opgestaan het nie!

·    Die opstellers van die Nuwe Testamentiese geskrifte het van sekere heidense mites oor gode wat as mense inkarneer en daarna 'n heldedood gesterf het, gebruikgemaak om 'n “nuwe” storie te skryf wat ook elemente van die Jode se godsdiens ingesluit het. Miskien was selfs hulle verwysing na ooggetuies wat Jesus na sy dood gesien het, maar net 'n opgemaakte storie om meer geldigheid aan hulle nuwe meesterverhaal te verleen? Het hulle enige politieke motiewe gehad om dit te doen, of  was dit maar net 'n manier om vinnig mag en geld in die hande te kry? Is dit moontlik dat Paulus al die tyd getrou gebly het aan sy Joodse geloof en dat hy slegs die Christelike verhaal uitgedink het om wraak te neem op die Romeine?

Miskien besef sommige Fundamentalistiese Christene, soos bv. die Dialoog-organiseerders [2] van die voorgaande debat, dat daar heelwat ánder Christene is wat begin vrae vra oor die geldigheid van sekere tradisionele Christelike dogmas en miskien is sodanige debatvoering hoofsaaklik deel van hul evangelisasieveldtog om die “twyfelaars” te laat verstaan dat dit nie so “erg” is om te twyfel nie, maar dat hulle tog op die ou end moet terugkeer na die “waarhede” van die tradisionele Christendom?

Prof. David J.P. Haasbroek van UNISA het in 1999 ʼn boek met die naam The Mythological and Political origins of Christianity laat publiseer waarin hy die ontstaan van die vroeë Christendom uitstekend uiteengesit het. Hierdie boek is ongelukkig nie baie bekend nie. Die skrywer verduidelik hoe die vroeë Christendom baie gebruike, soos o.a. Kersfees, van die ou heidense godsdienste op ʼn manier “oorgeërf” het. Gevolglik was dit meer aanvaarbaar onder die “heidene” en is dit makliker misbruik as ʼn godsdiens wat die inwoners van die Romeinse Ryk verenig het. Veral Keiser Konstantyn het “slim” te werk gegaan deur die biskoppe te dwing om hulle dogma oor die Drie-Eenheid amptelik te formuleer, waarna dit lateraan ontwikkel het tot ʼn Romeinse staatsgodsdiens.

Dit wil dus voorkom asof die standbeeld van tradisionele Christenskap eintlik voete van klei het. Nêrens in die Evangelies is daar byvoorbeeld 'n duidelike uitspraak deur Jesus self waarin hy verklaar dat hý beide volledig God én Mens is, of dat hy deel is van God Drie-Enig en vir mense se sondes gesterf het nie. Bewerings dat die ganse Bybel Goddelik-geïnspireerd is omdat dele van die Ou Testament Jesus se geboorte en kruisdood profeties voorspel, is gebaseer op 'n latere Christelike wanvertaling van ou Hebreeuse woorde wat heelwat anders deur Ortodokse Jode verstaan word. Verwysings na Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke en fisiese opstanding uit die dood, is dus hoofsaaklik geloofsgebaseerd - sonder genoegsame historiese getuienis. Wanvertalings van oorspronklike Hebreeuse en Griekse woorde en byvoegings van gedeeltes in latere vertalings van die Nuwe Testament om die tradisionele dogmas van kerke te ondersteun, word vandag nog deur fundamentaliste gebruik om die geldigheid van hul geloof te ondersteun. Die tradisionele Christelike meesterverhaal kan as 'n tipe “ietsie-van-alles”-godsdiens beskou word wat elemente van beide die Hebreeuse én heidense Griekse en Romeinse godsdienste, bevat. Dit is 'n kombinasie van beide 'n jarelange Hebreeuse tradisie wat daartoe bygedra het om die Israeliete vir honderde jare as sogenaamde uitverkore volk van God te verenig, én heidense idees aangaande 'n god wat as mens inkarneer en dan 'n heldedood sterf vir “gewone” mense.



[1]               http://en.wikipedia.org/wiki/Christian
[2]               http://www.dialoog.co.za

1 opmerking:

  1. Volgens wat ek hier gelees het, is die 2de en 3de sentbriewe van Johannes op jou, Spangenberg e.a. van toepassing. En miskien nog die boek van Judas ook. En 'n paar ander. Maak daarvan wat jy wil.

    AntwoordVee uit