Bladsye

Donderdag 21 Maart 2013

Gevolgtrekkings van my boek "Idees het gevolge"

Idees wat mense het aangaande die eienskappe van die Goddelike sowel as idees oor die werklikheid of onwerklikheid van sodanige God of Goddelike, het dikwels 'n bepalende invloed op hul idees aangaande die lewe. Hulle gevolglike lewensbeskouinge of paradigmas het met die verloop van tyd verander en beïnvloed o.a. hul idees oor die lewe na die dood, alledaagse besluite wat hulle neem t.o.v. hul werksomstandighede; asook hul woorde en optredes teenoor ander mense. Terwyl die geldigheid van enige van die drie godsbeskouinge wat in hierdie boek bespreek word, nog nooit met behulp van enige empiriese wetenskaplike metodes voldoende bewys kon word nie, kan die gevolge van mense se verskillende godsbeskouinge, wél ontleed word. Ekstremistiese Moslems se godsdienstige opvattings motiveer hulle byvoorbeeld soms om sekere dade te pleeg in die naam van hul geloof.

Daar is verskeie godsbeskouinge soos o.a. teïsme, deïsme, panteïsme, panenteïsme, agnostisisme en ateïsme, maar daar is veral drie uiteenlopende godsbeskouinge naamlik teïsme, ateïsme en panenteïsme, waarop ek in hierdie boek fokus en waarvan die onderskeie ondersteuners dikwels heelwat van mekaar verskil betreffende hul idees oor ander aangeleenthede. Terwyl die ondersteuners van enigeen van die spesifieke godsbeskouinge, nié noodwendig volledig met mekaar saamstem betreffende hul idees oor die lewe ná die dood nie, is dit tog 'n feit dat die mééste van hulle min of meer dieselfde idee daaroor het. So byvoorbeeld glo die meeste teïste dat sommige mense bestem is om die ewige lewe te beërwe en dat álle ander mense bestem is vir die ewige verdoemenis. Die woord “lewensbeskouing” verwys in hierdie boek spesifiek na drie uiteenlopende beskouinge oor (1) die eienskappe van die Goddelike, (2) die eienskappe van die mens en (3) die verhouding tussen die Goddelike en die mens. Die onderskeie kenmerke en voor- en nadele van elkeen van die drie lewensbeskouinge word breedvoerig met mekaar vergelyk.

Ek verwys na belangrike redes waarom 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing uiteindelik die meeste voordele vir alle mense sal inhou - voordele gedurende hul aardse lewens én gedurende die voortsetting van hul bewuste bestaan ná die afsterwe van hul fisiese liggame. Ek bespreek Godsdienstige Fundamentaliste en Materialistiese Ateïste se idees oor die wetenskap en die politiek en vergelyk dit met 'n Nuwe Spirituele benadering. Terwyl beide Godsdienstige Fundamentaliste en sommige Materialistiese Ateïste byvoorbeeld beweer dat “Tyd” lank gelede 'n begin gehad het en dat die Heelal dus “vanuit niks” deur óf 'n Persoonlike God geskep is, óf spontaan “vanself” ontstaan het, erken ondersteuners van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing die werklikheid van 'n Ongemanifesteerde Absolute waaruit alle dinge voortgevloei het.

Kerkleiers se onvermoë en/of onwilligheid om lewensbelangrike aspekte aan te spreek en genoegsaam te verduidelik aan hul Afrikaanssprekende lidmate, word onder die vergrootglas geplaas. Hul geloof in 'n letterlike verstaan van die Bybel as Woord van God en hul aanvaarding van die drie Formuliere van Eenheid, het sommige kerkleiers in die verlede daarvan weerhou om Apartheid te veroordeel op Bybelse gronde, terwyl baie hedendaagse kerkleiers as ondersteuners van die Belhar Belydenis, die teenoorgestelde gevolgtrekking maak. Die onlangse aanvaarding van die Belhar Belydenis deur die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk en die besluite teen Apartheid deur die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die NH Kerk - beide in Oktober 2011, is duidelike voorbeelde van die hedendaagse afwatering en verpolitisering van daardie Afrikaanse kerke. Die Afrikaanse driesuster kerke was vir baie jare onlosmaaklik deel van die Afrikanerpolitiek en baie kenners is deeglik bewus daarvan dat lede van die Afrikaner Broederbond 'n beduidende invloed gehad het op die besluite van die Nasionale Party en dié van sinodes van die Afrikaanse driesuster kerke. Is dit moontlik dat lede van die Afrikanerbond onlangs 'n wesenlike invloed gehad het op die besluite van die AS van die NG Kerk en van die AKV van die NH Kerk? Ek het al heelwat navorsing gedoen oor magtige belangegroepe se invloed in die wêreldpolitiek en hul samewerking met beide lede van die Afrikaner Broederbond én korrupte Afrika-leiers en daarom dink ek dat daar 'n sterk moontlikheid is dat sekere onlangse besluite van Afrikaanse kerkleiers, deel is van sekere magtige belangegroepe se plan om uiteindelik 'n diktatoriale eenwêreld-regering en gepaardgaande eenwêreldgodsdiens, te vestig.

Mense wat kritiek lewer teen gelowe afkomstig vanaf Verre-Oosterse lande, beweer dikwels dat Hindoeïsme die hoofoorsaak is van die haglike toestande in Indië en dat Boeddhisme die hoofoorsaak is van Thailand se probleme met politieke geweld, korrupsie, armoede en die mishandeling van diere. Ánder faktore is egter betrokke by die bepaling van die lewenskwaliteit van gemeenskappe. Belangrike faktore soos gemeenskappe se kulturele waardes, omgewingsfaktore en oorgeërfde gene, moet egter nié uit die oog verloor word nie.  Daar is dus 'n verband tussen aan die een kant iemand se lewensomstandighede, gene en lewensbeskouing, en aan die ander kant sy/haar lewenskwaliteit. Indien twee mense dieselfde lewensbeskouing het en een van hulle sit lewenslank in die tronk, terwyl die ander een in 'n weelderige woning lewe en baie geld het, sal hul onderskeie lewenskwaliteite tog wesenlik van mekaar verskil. Nadat iemand se fisiese liggaam gesterf het is daar onsterflike “nie-materiële” geheue wat deel word van sy/haar volgende lewe binne 'n ander liggaam en/of dimensie. Dit het gevolglik 'n invloed op daardie persoon se toekomstige gemoedstoestande en lewensbeskouinge. Volgens dr. Rupert Sheldrake is daardie geheue deel van “morfogenetiese velde”. Mense se lewensbeskouinge en lewenskwaliteite word dus beïnvloed deur beide die status (kwaliteit) van hul onsterflike gedeeltes wat voorheen “binne” ander fisiese liggame gelewe het, én hul latere lewenservaringe.

Waar die meeste hedendaagse godsdienstige mense en liberale, sekulêre humaniste glo dat alle mense “gelyk” geskape is, verwys ek na die werklikheid van oorgeërfde genetiese verskille tussen mense - genetiese verskille wat verband hou met wesenlike verskille tussen mense t.o.v. hul skeppings- en intelligensievermoëns. Ek beskou demokrasie dus nié as noodwendig die “beste” regeringsvorm nie. Sommige lesers sal miskien wonder waarom ek aan die een kant beweer dat demokrasie nié noodwendig die beste regeringsvorm is nie, terwyl ek aan die ander kant kritiek lewer teen die destydse onderdrukking van nie-blankes deur die blanke regering van die ou Suid-Afrika. Die onderdrukking tydens die ou Suid-Afrika was moreel verkeerd veral omdat daar misbruik gemaak is van die goedkoop arbeid van nie-blankes, terwyl die welstand van blanke regeringsleiers voorrang geniet het ten koste van dié van die nie-blanke bevolking. Baie van die regeringsleiers van Suid-Afrika vóór 1994, was dus nié oorywerig om die lewenskwaliteit van die meeste Suid-Afrikaners te verbeter nie - soortgelyk aan die meeste ANC-regeringsleiers daarna. 'n Koning, diktator of keiser kan egter homself beywer vir die verbetering van die welsyn van sy onderdane, sónder om noodwendig aan hulle gelyke politieke regte toe te staan. Miskien was Napoleon Bonaparte 'n goeie voorbeeld van so 'n alleenheerser? Die Boeddhistiese keiser Asoka het honderde jare gelede as alleenheerser homself ook oënskynlik beywer vir die verbetering van sy onderdane se welsyn. Bykans enige regeringsvorm is dus vir my aanvaarbaar, solank regeringsleiers hulself beywer vir die verbetering van hul onderdane se welsyn en lewenskwaliteit.

Wat is die wenslikheid daarvan om gereeld met ondersteuners van 'n ander lewensbeskouing te debatteer? Is sinvolle gesprekvoering met alle mense moontlik, of is dit meestal slegs moontlik met mense wat nié beweer dat húlle “weet” dat hulle reg is nie? Ek het vir ongeveer drie jaar (2009-2011) deelgeneem aan verskeie debatte met beide fundamentalistiese Christene en “dogmatiese” ateïste. Ek het soms baie wys geword a.g.v. daardie debatte en was soms gefrustreerd. Ek het uiteindelik 'n stadium bereik waarop ek besef het dat die voortsetting van sinvolle gesprekvoering tussen voorstanders van uiteenlopende lewensbeskouinge, dikwels baie moeilik is. Wanneer een persoon se lewenswaardes so uitermate van 'n ander persoon s'n verskil, kan hulle selfs 'n stadium bereik waarop een van hulle op persoonlike vlak met beledigende aanmerkings begin en dit dan geen verdere sin maak om hoegenaamd enigiets van waarde vir so 'n persoon te sê nie. Ek het ook besef dat mense dikwels persoonlike beledigings maak wanneer hulle argumente begin verloor. 'n Mislukte poging tot sinvolle gesprekvoering kan selfs 'n gewelddadige uiteinde tot gevolg hê. Verskille tussen mense betreffende hul godsdienstige en politieke idees, het al dikwels tot geweld gelei, waarvan daar talle voorbeelde is vanuit die geskiedenis. Wanneer 'n fundamentalistiese Christen byvoorbeeld daarop aandring dat dit goed en reg is dat die persoon wat van hom verskil, eendag hel toe sál gaan indien sy nooit bereid sal wees om haar opinie te verander nie, is daar klaarblyklik geen toegeeflikheid by hom betreffende die moontlikheid dat die “ongelowige” vrou dalk reg kan wees nie en lei so 'n situasie dikwels tot die beëindiging van sinvolle gesprekvoering tussen hulle. Wanneer 'n filosofiese materialis daarop aandring dat mense wat in dinge glo waarvan hulle die geldigheid nié kan bewys nie, óf geestelik versteurd óf “dom” is, kan dit ook lei tot die beëindiging van sinvolle gesprekvoering tussen daardie materialis en 'n fundamentalistiese Christen of tussen dieselfde materialis en enige ander persoon wat in 'n Goddelike of in die moontlikheid van lewe na die dood glo.

Gemeenskapslede se lewensbeskouinge, oorerflike gene en lewensomstandighede, is van dié belangrikste faktore wat 'n bepalende invloed op hul onderskeie lewenskwaliteite het. Die geldigheid van hierdie stelling kan ontleed word deur dit van toepassing te maak op die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Wat die lewensomstandighede van Suid-Afrikaners betref, is daar ongelukkig 'n voortslepende gespanne verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe as gevolg van die geskiedenis van Apartheid, die huidige agteruitgang van veral infrastrukture en die voortdurende rassediskriminasie, o.m. “Affirmative Action” en “Broad Based Black Economic Empowerment”, deur die huidige ANC-regering. Daar is ook 'n al groterwordende skeidslyn tussen die super ryk elite en die werklose massa. Terwyl Calvinisme die lewenswaardes van baie Suid-Afrikaners vóór 1994 heelwat beïnvloed het, het baie Suid-Afrikaners se lewenswaardes sedertdien meer sekulêr, ateïsties en materialisties geword. Die noodlottige kombinasie van (1) die gespanne verhoudinge tussen bevolkingsgroepe, (2) 'n al groterwordende kloof tussen ryk en arm mense, sowel as (3) die nadelige gevolge van die lewensbeskouinge van beide Christelike Fundamentalisme en Materialistiese Ateïsme, kan daartoe bydra dat die meeste Suid-Afrikaners 'n mistroostige toekoms te wagte kan wees. Dit is ironies dat dié dinge wat die afgelope paar dekades die “heiligste” was vir veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, naamlik hul (1) gebruikmaking van goedkoop nie-blanke arbeid, (2) tradisionele Calvinistiese lewensbeskouing en (3) sport beheptheid, op die ou end die grootste bydrae sal lewer tot hul eie ondergang.

Nie-menslike diere het géén lewensbeskouing nodig om hulle te help om in harmonie met die omgewing saam te leef nie. Die aanwas van 'n plant- of dierespesie word in toom gehou deur ánder spesies wat daardie spesie as 'n bron van voedsel gebruik. Diere vreet mekaar gewoonlik op omdat hulle honger is, en nié omdat dit vir hulle 'n vorm van vermaak of hebsug is nie. Die ekologie vorm dus 'n harmonieuse geheel “buite” die mens. Wanneer mense se verbruik van aardse hulpbronne sodanig toeneem, veral ook as gevolg van die toename in bevolkingsgetalle, is daar 'n groot moontlikheid dat hulle die aardse hulpbronne tot so 'n mate kan misbruik dat hulle hul eie voortbestaan daardeur in gevaar kan stel. Mense benodig dus 'n lewensbeskouing wat aan hulle riglyne sal verskaf in verband met die regte optredes teenoor mekaar en teenoor ander lewensvorme. Indien die lewensbeskouinge wat die grootste invloed op die meeste mense het, sodanig van aard is dat dit die mens as die “kroon van die skepping” beskou, of hul tydelike en kortsigtige materiële behoeftes as van die grootste belang ag, kan dit hulle wel vinniger lei op die pad na selfvernietiging. “Spiritueel-bewuste” mense wat glo dat hulle langer as 'n honderd jaar van nou af wéér op aarde sal inkarneer en dat dit daarom belangrik is dat hulle dan goeie lewensomstandighede sal hê, behoort ook méér bereidwillig te wees om te strewe na die bewaring van die omgewing - meer bereidwillig as byvoorbeeld filosofiese materialiste wat glo dat alle mense slegs een enkele aardse lewe het.

Veronderstel ons besluit om eksperimenteel vas te stel watter van die drie lewensbeskouinge waarna in hierdie boek verwys word, die meeste voordele vir álle lewende wesens sal inhou. Een groep bestaande uit 1000 mense, het 'n Godsdienstig-Fundamentalistiese lewensbeskouing waarvolgens die meeste mense bestem is vir die ewige verdoemenis. Die tweede groep van 1000 mense het 'n Materialisties-Ateïstiese lewensbeskouing waarvolgens daar géén lewe na die dood is nie en ook géén God wat “kwaaddoeners” uiteindelik sal straf nie. Die derde groep van 1000 mense het 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing waarvolgens alle mense en alle ander lewende wesens 'n gedeelde Goddelike kern het en waarvolgens baie mense weer oor méér as 'n honderd jaar op aarde sal inkarneer “binne” ander fisiese liggame. Hoeveel lede van die eerste en tweede groepe sal bereid wees om die nodige opofferings te maak sodat álle lewende wesens se lewenskwaliteite meer as 'n honderd jaar van nou af, béter sal wees as dié van die meeste lewende wesens tans op aarde? Hierdie eksperiment sal heel waarskynlik konsekwent aantoon dat die meeste lede van die derde groep bereid sal wees om sulke opofferings te maak, terwyl die meeste lede van die eerste en tweede groepe, nié bereid sal wees om dit te doen nie. Sodoende kan wetenskaplik aangetoon word dat daar 'n groter kans is dat 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing iemand sal aanmoedig om opofferings te maak wat sal lei tot die verbetering van die welsyn van die meeste lewende wesens. Soortgelyke eksperimente kan gebruik word om ánder voor- en nadele van die drie lewensbeskouinge met mekaar te vergelyk.

Gestel jy is nog steeds onseker oor watter een van die voorgaande drie lewensbeskouinge die naaste is aan jou eie lewensbeskouing aangaande God, die mens, die hiernamaals en die verhouding tussen God en mens. Indien jou toekomstige vreugde in die hiernamaals vir jou belangriker is as jou lewensgeluk gedurende jou huidige aardse bestaan en indien jy glo dat die Almagtige Skepper aan jóú kant is omdat Hy alle mense wat nié “min of meer” met jou  saamstem nie, vir ewig hel toe sal stuur, dan is jou lewensbeskouing nader aan Godsdienstige Fundamentalisme. Indien dit vir jou egter onbelangrik is wat jou eie status en die status van die meeste ander lewende wesens oor meer as 'n honderd jaar van nou af sal wees, en indien dit vir jou belangriker is om die lewe “hier-en-nou” sover moontlik te geniet, dan is jou lewensbeskouing nader aan dié van Materialistiese Ateïsme. Indien jy glo en hoop dat jou eie bewussyn en dié van alle ander mense en lewende wesens oor 'n honderd jaar of langer, “nader” aan die Goddelike sal wees, dan is jou eie lewensbeskouing nader aan dié van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing.

Ondersteuners van die Nuwe Spirituele lewensbeskouing is van staanspoor af bekommerd oor die uiteindelike lotsbestemming van elke lewende wese op aarde. Omdat hulle glo dat elke lewende wese 'n gedeelde Goddelike essensie het en die potensiaal het om uiteindelik verlos te word van 'n beperkte aardse bestaan en “een te word” met die Goddelike, strewe hulle gevolglik daarna om alle lewende wesens se lewenskwaliteite sodanig te verbeter dat hulle vinniger daardie doelwit kan bereik. Indien 'n aansienlike aantal mense sodanig spiritueel-bewus sou word, sal hulle ook meer bereid wees om mekaar te help om daardie doelwit te bereik. Godsdienstige Fundamentaliste wie se hoofprioriteit bekommernisse oor die lotsbestemming van hulle en hul medegelowiges se siele is en Materialistiese Ateïste wie se hoofprioriteit die kwaliteit van hul lewens en dié van hul vriende en naasbestaandes “hiér en nou” is, is van staanspoor af nié so bekommerd oor wat ook al die uiteindelike lotsbestemming van alle lewende wesens meer as 'n honderd jaar of langer van nou af gaan wees nie. Die belangrikste stelling wat ek in hierdie boek by lesers wil tuisbring, is dat alle mense 'n beter kans op 'n wonderlike toekoms sal hê indien baie van hulle se lewensbeskouinge nader sou beweeg aan 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing en verder weg van die ander twee lewensbeskouinge.

Die mensdom beskik oor 'n geweldige potensiaal om van die planeet aarde 'n wonderlike plek te maak waarbinne almal in liefde en harmonie met mekaar kan saamleef. Mense se skeppingsvermoëns, hul intellektuele vermoëns en die aarde se natuurlike hulpbronne, kan gesamentlik 'n daadwerklike bydrae lewer tot die verwesenliking van daardie ideaal. Indien die invloed van beide Godsdienstige Fundamentalisme en Materialistiese Ateïsme egter sodanig oorheersend is betreffende die meeste mense se lewenswaardes, kan dit moontlik lei tot 'n aaklige toekoms waartydens die meeste mense óf onderdruk en verslaaf kan word deur 'n magtige “fascistiese” elite, óf selfsugtige, kortsigtige hebsug en verbruikerisme kan dalk lei tot toekomstige hongersnood en barbarisme. Indien 'n aansienlike aantal mense egter sou besluit dat die welsyn en vooruitgang van die ganse planeet aarde, dié belangrikste prioriteit behoort te wees omdat almal van ons 'n gedeelde Goddelike essensie het en indien baie “spiritueel-bewuste” mense 'n wesenlike invloed kan hê op ander mense se lewenswaardes, sal ons en ons nageslagte heel waarskynlik 'n wonderlike, utopiese toekoms hê.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking