Bladsye

Woensdag, 12 Junie 2013

Die bereidwilligheid van mense om anders oor die lewe na te dink

Kom ons veronderstel dat daar ʼn land met die naam Dystopia is wat bestaan uit ʼn heersersklas en miljoene onderdane waaroor die heersers met ʼn ysterhand regeer. Die heersersklas het ʼn sekere ideologie wat hulle gebruik om hul heerskappy oor hul onderdane mee te regverdig. Een van die kenmerke van die ideologie is dat dit ʼn sekere ideaal aan hul onderdane voorhou waarna almal van hulle behoort te strewe. Daar word van hulle verwag om sekere van hul basiese vryhede en plesiere op te offer, sodat die verwesenliking van die ideaal makliker en vinniger kan plaasvind. Die lede van die heersersklas het méér geriewe, geleenthede en vryhede as hul onderdane, maar selfs húlle het sekere gedragskodes wat hulle behoort na te volg. Hulle moet byvoorbeeld die opdragte van hul leiers sonder teëspraak uitvoer en ten minste in die openbaar, optree volgens die streng vereistes van die heersende ideologie. Die miljoene onderdane word vreesbevange gehou, beide deur hul eie medeburgers wat op hulle spioeneer én deur ʼn sterk polisiemag. Indien enige van hulle dit sou waag om die geldigheid van die ideologie te betwyfel of om te weier om getrou die wette van die staat te gehoorsaam, word hulle daaraan herinner dat hulle moet ophou om so selfsugtig te wees en dat hulle die welsyn en “vooruitgang” van die breë samelewing altyd in gedagte behoort te hou. Goeie voorbeelde vanuit die onlangse geskiedenis was natuurlik Nazi Duitsland van die vroeë twintigste eeu, die ou Sowjetunie en die huidige Rooi-Sjina.

Daar is verskeie metodes wat die heersersklas kan gebruik ten einde te verseker dat hul onderdane sal voortgaan om die staat se ideologie klakkeloos te aanvaar. Terwyl hulle aan die een kant ʼn sterk polisiemag of ʼn skrikbewind met gepaardgaande gewelddadige optredes kan gebruik, kan hulle aan die ander kant d.m.v. hul gedurige propaganda in koerante, op die TV en radiostasies, sorg dat hul onderdane die ideologie meer geredelik sal navolg. Hulle kan selfs films en ander sogenaamde vermaak gebruik om sekere woorde en dade van die akteurs as navolgenswaardig voor te hou. Naderhand sal hul onderdane die “gewillige slawe” wees van hul heersers en sal hulle selfs nie eens besef dat hulle weinig vryhede meer het nie. Hulle sal die heersende ideologie aanvaar as die enigste “redelike” rigtinggewende maatstaf vir hul eie gedrag. Vervolgens sal hulle dit nie eens oorweeg om anders oor die doel en betekenis van hul lewens na te dink nie. Dit sal daarna vir die heersers ook nie meer nodig wees om hul onderdane gewelddadig te onderdruk nie.

Min mense besef deesdae dat hedendaagse “Westerse” demokrasieë soos bv. die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk en selfs die Nuwe Suid-Afrika, in sekere opsigte baie soortgelyk is aan die bogenoemde onderdrukkende eenparty-diktature. Kiesers in demokrasieë aanvaar dikwels klakkeloos sekere lewenswaardes wat aan hulle voorgehou word. Die keuses wat aan hulle voorgehou word betreffende lewensbelangrike politieke kwessies, is soms baie beperk. Die twee grootste politieke partye in die bogenoemde drie lande stem dikwels saam oor belangrike kwessies, terwyl hul leiers in die openbaar met mekaar debatteer oor onbenullighede. In die VSA is leiers van beide die Demokratiese en Republikeinse Partye, uitgesproke ondersteuners van die regering van Israel, terwyl hulle ʼn “laissez faire” houding het jeens die instroming van onwettige immigrante vanuit veral Meksiko. Die leiers van die twee grootste partye in die VK - die Arbeidersparty en die Konserwatiewe Party, het  die VSA se oorlogsverklarings teen Irak en Afghanistan, “soos-een-man” ondersteun. In Suid-Afrika ondersteun baie leiers van die ANC en die DA die regering se verklaarde beleid t.o.v. “Regstellende” Aksie, Swart Bemagtiging en selfs toenemende grondgrype (grondhervorming). Die hoofstroom media in hierdie drie lande is in die besit van ʼn klein groepie super ryk eienaars wat gevolglik ʼn geweldige invloed uitoefen op die uitslae van “demokratiese” verkiesings.

Ten einde gesag te verleen aan hul boodskap het baie Afrikaanse predikante met die woorde “So spreek die Here” voorgegee dat hulle namens God praat. Die Rooms-Katolieke Kerk het gedurende die Donker Eeue hul onderdane vreesbevange, ongeletterd en “dom” gehou deur bv. die Bybel slegs in Latyn aan hulle beskikbaar te stel en slegs biskoppe en priesters toe te laat om die Bybel op ʼn sekere manier aan kerklidmate te verduidelik en te interpreteer. Baie “afvalliges” is op gewelddadige wyses gedwing om die heersende godsdienstige “ideologie” van die kerk te aanvaar. Deesdae gebruik die (ware) heersers van Westerse demokrasieë die begrip “politieke korrektheid” om mense se lewenswaardes en denke in ʼn sekere rigting te kanaliseer. Die geïndoktrineerde onderdane word oningelig gehou aangaande die invloed van die ware maghebbers “agter” die openbare politici, deur hul aandag gedurig te fokus op vermaaklikheidskunstenaars se doen en late en op die nuutste sportgebeure. Sommige kerkleiers moedig hul lidmate dikwels aan om regeringsleiers as “bondgenote” te beskou met wie hulle behoort saam te werk om die maatskaplike probleme in die land op te los. ʼn Persoon wat dus onnadenkend van kleins af die heersende ideologie van die staat en die dogmas van die kerke navolg, word deur baie regerings- en kerkleiers as ʼn “goeie” en navolgenswaardige mens voorgehou.

In die verlede het rewolusionêre groepe hul boodskap aan die massas oorgedra d.m.v. massavergaderings, pamflette en koerante. Hulle het die huidige regerings geblameer vir die swaarkry van die meeste inwoners van die land en het ywerig hierdie propagandaboodskap  aan andere oorgedra. In die Weimar Republiek het die Nazi’s hoofsaaklik die Jode beskuldig vir die Duitsers se swaarkry, terwyl die Bolsjewiste die Tsaar en sy ondersteuners geblameer het vir die Russe se swaarkry. Dis moontlik dat daar magte “agter die skerms” was wat hierdie rewolusionêre groepe gefinansier het en selfs gesorg het dat hulle genoeg wapens en ammunisie kon aanskaf. Daar was in beide lande dus ʼn klein groepie aktiviste wat doeltreffende metodes gebruik het om miljoene ander mense te beïnvloed en gevolglik die vorige regimes te vervang met ʼn onderdrukkende eenparty-diktatuur. Nie-rewolusionêre politieke partye en organisasies wat die ondersteuning geniet van die eienaars van TV-kanale, radiostasies of dagblaaie, het gewoonlik ʼn groter kans om sukses te behaal.

Gestel ek bevind myself binne-in die bogenoemde denkbeeldige land Dystopia waar die meeste mense “goeie” burgers van die staat is en onnadenkend die heersende ideologie ondersteun. Gestel ek besef dat die heersersklas nié die welsyn van hul onderdane in ag neem nie en dat hulle slegs die ideologie gebruik om hul onderdane mee te mislei. Gestel ook verder dat ek besef dat die meeste onderdrukte onderdane emosioneel sal reageer teenoor enigiemand wat die geldigheid van hul lewensbeskouing sou betwyfel. Ek besluit egter dat ek ʼn bydrae wil lewer tot die verbetering van ten minste sommige mense se lewenskwaliteite. Ek beskik oor oorgenoeg inligting aangaande die wandade van die heersersklas en die geleidelike vermindering van die meeste mense se vryhede en agteruitgang van hul lewensomstandighede. Daar is wel ʼn internet beskikbaar waarop ek my inligting kan plaas en waartoe die meeste mense toegang het. Hoe sal ek te werk gaan om die inligting aan andere oor te dra?

Ek kan dit miskien oorweeg om iets onwettigs in die openbaar te doen ten einde die publiek se aandag te trek. Voordat ek sou besluit om gewelddadig op te tree deur ʼn terroriste-daad te pleeg, moet ek besef dat die kanse goed gaan wees dat die meeste mense daarna ontsteld sal wees daaroor en dat ek in die tronk kan beland. Ek kan ʼn (ondergrondse?) beweging stig en probeer om soveel as moontlik lede te werf, of ek kan probeer om ten minste ʼn klein groepie mense te bereik met my boodskap. In albei laasgenoemde gevalle moet ek nog steeds ʼn manier vind om my boodskap aan mense oor te dra deur individueel met elkeen te gesels en/of my boodskap op die internet te versprei. Ek weet dat die oorgrote meerderheid dit nie eens naastenby sal oorweeg om my boodskappe op die internet te lees nie. Ek besef uiteindelik dat daar weinig kanse is dat ek en my ondersteuners die regering omver sal werp.  

Dit is egter verbasend dat daar wél mense binne onderdrukkende eenparty-diktature is wat bereid is om die geldigheid van amptelike ideologieë te betwyfel. Dit dui daarop dat daar tog ʼn mate van “vrye wil” en uniekheid by mense teenwoordig is wat dalk nié volledig afhanklik is van die oorweldigende invloed van hul lewensomstandighede of selfs van hul gene of DNS nie. Kan dit wees dat mense wel ʼn onsterflike siel het wat ʼn vonk van vrye wil binne-in hulle laat ontstaan – ʼn vonk wat hulle lateraan laat besef dat die lewe tog op die ou end nie die moeite werd is as mens geen vrye denke het of jou skeppingsvermoë kan gebruik om die lewe vir jouself en andere meer interessant en betekenisvol te maak nie? Die Griekse filosoof Sokrates het tereg duisende jare gelede by sy verhoor gesê: “An unexamined life is not worth living” ... 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking