Dinsdag 12 November 2013
Into The Universe With Stephen Hawking - The Story of Everything
Stephen Hawking: "How could such an astounding chain of events, which resulted in us, be an accident? Perhaps science has revealed there is some Higher Authority at work, setting the Laws of Nature so that our Universe and we can exist." - http://www.youtube.com/v/tptgwvNmFTM
Dinsdag 29 Oktober 2013
Die Israelvisie-hipotese
Mense wat glo dat
hedendaagse blanke Afrikaners en ander blanke Westerlinge, afstammelinge is van
die volk Israel van die Ou Testamentiese tye, en dat die Bybelse riglyne slegs
van toepassing is op hierdie blankes en nie op álle mense nie, is ondersteuners
van die Israelvisie-hipotese. Die meeste van hierdie mense glo dat Jesus die
Seun van God was en dat geloof in Sy kruisdood ʼn voorvereiste is vir
Verlossing. Wat hulle egter onderskei van byvoorbeeld Calviniste, is hulle
bewering dat slegs gelowige “blankes” die Ewige Lewe kan beërwe. Richard
Brothers (1757-1824) kan beskou word as die eerste moderne apostel van ʼn vorm
van die Israelvisie-hipotese. Die lewensverhaal van Brothers word vertel in ʼn
artikel getiteld “Anglo-Israelitism” in die Encyclopedia of Religion and
Ethics, gepubliseer in 1908. Brothers is as sielsieke opgesluit, maar het
nogtans baie bewonderaars gehad. Hy het beweer dat die blankes van Europa die
nasate van die “tien verlore stamme” van Israel is. Hierdie stamme het glo
“verlore” geraak nadat hulle deur die Assiriërs in 721 VGE uit Palestina
weggevoer is.
Israelvisie-ondersteuners
glo dat Jahwe (die Hebreeuse woord vir die God van die Ou Testament), ʼn sekere
spesiale menseras uitverkies het, wat verhewe is bo alle ander mense op aarde
(Deut. 7:6; Amos 3:2). Hierdie kinders van Abraham, deur die saadlyn van Isak
en Jakob (Psalm 105:6), was ʼn seën vir almal wat hulle geseën het en ʼn
vervloeking vir almal wat hulle vervloek het (Genesis 12:3).
Die afstammelinge van die
twaalf seuns van Jakob, was diegene vir wie die Messias aarde toe gekom het
(Romeine 9:4,5). Hulle glo dat die Nuwe Gelofte gemaak is met dieselfde mense
as waarmee die Ou Gelofte gemaak is, naamlik die volk Israel (Jeremia
31:31-33). Hulle glo verder dat Adam slegs die vader was van die Wit ras. As ʼn
seun van Jahwe (Lukas 3:38), geskep na Sy beeld (Genesis 5:1), kan Adam en sy
afstammelinge Jahwe ken as hul Skepper. Adam was drieledig geskep - bestaande
uit ʼn liggaam, siel en gees (I Thes. 5:23; Hebreërs 4:12). Die geestelike
gedeelte verskaf aan hom ʼn hoër vorm van bewussyn en onderskei hom van al die
ander rasse op aarde (Deuteronomium 7:6; Amos 3:2).
Baie mense glo dat
rasseverhoudinge só ʼn belangrike aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing is,
dat godsdienstige geloofsbeginsels ook van toepassing daarop behoort te wees.
Baie tradisionele Afrikaanse kerke se onwilligheid en/of onvermoë om duidelik
standpunt in te neem t.o.v. die beweerde Bybelse regverdiging vir Apartheid,
verskil van Israelvisie-ondersteuners se uitgesproke ondersteuning van die
beginsels van Apartheid en rassediskriminasie.
Israelvisie is ʼn kombinasie van
Godsdienstige Fundamentalisme en verregse politieke ekstremisme en
verteenwoordig in ʼn sekere sin die presiese teenoorgestelde van my
eie Nuwe Spirituele lewensbeskouing. Drie van die belangrikste aannames van
Israelvisie-ondersteuners is:
- Westerse Blankes (sogenaamde Ariërs) is die afstammelinge van die volk Israel van Bybelse tye.
- Blankes is meer “spesiaal” as nie-blankes.
- Die Bybel is die Woord van God en Jesus (Jahshua) is deel van God Drie-Enig.
(1) “Westerse
Blankes is die afstammelinge van die volk Israel van Bybelse tye”
Israelvisie-ondersteuners beweer
dat die meeste van die hedendaagse Jode nié die ware afstammelinge van die Israeliete
van die ou Bybelse tye is nie, maar dat hulle wel die “kinders van die Duiwel”
is. Westerse Blankes daarenteen, is glo die werklike “rasegte” nasate van die
“tien verlore stamme van Israel”. Hierdie siening is teenstrydig met
geskiedkundige getuienis in verband met die herkoms en kultuur van Westerse
Blankes. Baie Israelvisie-ondersteuners beweer foutiewelik dat Europa géén
ordentlike beskawing gehad het voor die “tien verlore stamme” dit binnegestroom
en skielik bevolk het nie. Die Grieke, Romeine, Kelte en Germane het egter
Europa alreeds vir eeue bewoon, lank voor hierdie beweerde migrasie plaasgevind
het. Israelvisie-ondersteuners se bewering is ook teenstrydig met argeologiese
getuienis wat in die laaste paar eeue opgegrawe is; asook rotstekeninge in
Frankryk, Spanje en ander dele van Europa. Baie van hierdie kunsskatte en
tekeninge dateer so lank terug as 20 000 jaar gelede.
(2) “Blankes is meer
spesiaal as nie-blankes”
Israelvisie-ondersteuners beweer
dat blankes spesiaal is omdat God hulle
kwansuis uitverkies het en dat hulle daarom geregtig is om oor nie-blankes te
heers. Hulle impliseer dus dat blankes méér spesiaal is, ten spyte van al die
immorele dade wat blankes deur die jare gepleeg het. Hulle vergeet
gerieflikheidshalwe dat baie van die probleme waarmee Afrika deesdae worstel,
soos o.a. toenemende gespanne verhoudings tussen bevolkingsgroepe,
Godsdienstige Fundamentalisme en besoedeling, die gevolg is van die invloed van
veral blanke koloniale magte in die verlede en multinasionale Westerse
maatskappye in die hede.
(3) “Die Bybel is die
Woord van God en Jesus (Jahshua) is deel van God Drie-Enig”
Woensdag 12 Junie 2013
Die bereidwilligheid van mense om anders oor die lewe na te dink
Kom ons veronderstel dat daar ʼn land
met die naam Dystopia is wat bestaan uit ʼn heersersklas en miljoene onderdane waaroor
die heersers met ʼn ysterhand regeer. Die heersersklas het ʼn sekere ideologie
wat hulle gebruik om hul heerskappy oor hul onderdane mee te regverdig. Een van
die kenmerke van die ideologie is dat dit ʼn sekere ideaal aan hul onderdane
voorhou waarna almal van hulle behoort te strewe. Daar word van hulle verwag om
sekere van hul basiese vryhede en plesiere op te offer, sodat die
verwesenliking van die ideaal makliker en vinniger kan plaasvind. Die lede van
die heersersklas het méér geriewe, geleenthede en vryhede as hul onderdane,
maar selfs húlle het sekere gedragskodes wat hulle behoort na te volg. Hulle
moet byvoorbeeld die opdragte van hul leiers sonder teëspraak uitvoer en ten
minste in die openbaar, optree volgens die streng vereistes van die heersende
ideologie. Die miljoene onderdane word vreesbevange gehou, beide deur hul eie
medeburgers wat op hulle spioeneer én deur ʼn sterk polisiemag. Indien enige van
hulle dit sou waag om die geldigheid van die ideologie te betwyfel of om te
weier om getrou die wette van die staat te gehoorsaam, word hulle daaraan
herinner dat hulle moet ophou om so selfsugtig te wees en dat hulle die welsyn
en “vooruitgang” van die breë samelewing altyd in gedagte behoort te hou. Goeie
voorbeelde vanuit die onlangse geskiedenis was natuurlik Nazi Duitsland van die
vroeë twintigste eeu, die ou Sowjetunie en die huidige Rooi-Sjina.
Daar is verskeie metodes wat die
heersersklas kan gebruik ten einde te verseker dat hul onderdane sal voortgaan
om die staat se ideologie klakkeloos te aanvaar. Terwyl hulle aan die een kant
ʼn sterk polisiemag of ʼn skrikbewind met gepaardgaande gewelddadige optredes kan
gebruik, kan hulle aan die ander kant d.m.v. hul gedurige propaganda in
koerante, op die TV en radiostasies, sorg dat hul onderdane die ideologie meer
geredelik sal navolg. Hulle kan selfs films en ander sogenaamde vermaak gebruik
om sekere woorde en dade van die akteurs as navolgenswaardig voor te hou.
Naderhand sal hul onderdane die “gewillige slawe” wees van hul heersers en sal
hulle selfs nie eens besef dat hulle weinig vryhede meer het nie. Hulle sal die
heersende ideologie aanvaar as die enigste “redelike” rigtinggewende maatstaf
vir hul eie gedrag. Vervolgens sal hulle dit nie eens oorweeg om anders oor die
doel en betekenis van hul lewens na te dink nie. Dit sal daarna vir die
heersers ook nie meer nodig wees om hul onderdane gewelddadig te onderdruk nie.
Min mense besef deesdae dat
hedendaagse “Westerse” demokrasieë soos bv. die Verenigde State van Amerika,
die Verenigde Koninkryk en selfs die Nuwe Suid-Afrika, in sekere opsigte baie
soortgelyk is aan die bogenoemde onderdrukkende eenparty-diktature. Kiesers in
demokrasieë aanvaar dikwels klakkeloos sekere lewenswaardes wat aan hulle
voorgehou word. Die keuses wat aan hulle voorgehou word betreffende lewensbelangrike
politieke kwessies, is soms baie beperk. Die twee grootste politieke partye in
die bogenoemde drie lande stem dikwels saam oor belangrike kwessies, terwyl hul
leiers in die openbaar met mekaar debatteer oor onbenullighede. In die VSA is leiers
van beide die Demokratiese en Republikeinse Partye, uitgesproke ondersteuners
van die regering van Israel, terwyl hulle ʼn “laissez
faire” houding het jeens die instroming van onwettige immigrante vanuit
veral Meksiko. Die leiers van die twee grootste partye in die VK - die
Arbeidersparty en die Konserwatiewe Party, het die VSA se oorlogsverklarings teen Irak en
Afghanistan, “soos-een-man” ondersteun. In Suid-Afrika ondersteun baie leiers
van die ANC en die DA die regering se verklaarde beleid t.o.v. “Regstellende”
Aksie, Swart Bemagtiging en selfs
toenemende grondgrype (grondhervorming). Die hoofstroom media in hierdie drie
lande is in die besit van ʼn klein groepie super ryk eienaars wat gevolglik ʼn
geweldige invloed uitoefen op die uitslae van “demokratiese” verkiesings.
Ten einde gesag te verleen aan
hul boodskap het baie Afrikaanse predikante met die woorde “So spreek die Here”
voorgegee dat hulle namens God praat. Die Rooms-Katolieke Kerk het gedurende
die Donker Eeue hul onderdane vreesbevange, ongeletterd en “dom” gehou deur bv.
die Bybel slegs in Latyn aan hulle beskikbaar te stel en slegs biskoppe en
priesters toe te laat om die Bybel op ʼn sekere manier aan kerklidmate te
verduidelik en te interpreteer. Baie “afvalliges” is op gewelddadige wyses
gedwing om die heersende godsdienstige “ideologie” van die kerk te aanvaar.
Deesdae gebruik die (ware) heersers van Westerse demokrasieë die begrip “politieke
korrektheid” om mense se lewenswaardes en denke in ʼn sekere rigting te
kanaliseer. Die geïndoktrineerde onderdane word oningelig gehou aangaande die
invloed van die ware maghebbers “agter” die openbare politici, deur hul aandag
gedurig te fokus op vermaaklikheidskunstenaars se doen en late en op die
nuutste sportgebeure. Sommige kerkleiers moedig hul lidmate dikwels aan om
regeringsleiers as “bondgenote” te beskou met wie hulle behoort saam te werk om
die maatskaplike probleme in die land op te los. ʼn Persoon wat dus onnadenkend
van kleins af die heersende ideologie van die staat en die dogmas van die kerke
navolg, word deur baie regerings- en kerkleiers as ʼn “goeie” en
navolgenswaardige mens voorgehou.
In die verlede het rewolusionêre
groepe hul boodskap aan die massas oorgedra d.m.v. massavergaderings, pamflette
en koerante. Hulle het die huidige regerings geblameer vir die swaarkry van die
meeste inwoners van die land en het ywerig hierdie propagandaboodskap aan andere oorgedra. In die Weimar Republiek
het die Nazi’s hoofsaaklik die Jode beskuldig vir die Duitsers se swaarkry,
terwyl die Bolsjewiste die Tsaar en sy ondersteuners geblameer het vir die
Russe se swaarkry. Dis moontlik dat daar magte “agter die skerms” was wat
hierdie rewolusionêre groepe gefinansier het en selfs gesorg het dat hulle
genoeg wapens en ammunisie kon aanskaf. Daar was in beide lande dus ʼn klein
groepie aktiviste wat doeltreffende metodes gebruik het om miljoene ander mense
te beïnvloed en gevolglik die vorige regimes te vervang met ʼn onderdrukkende
eenparty-diktatuur. Nie-rewolusionêre politieke partye en organisasies wat die
ondersteuning geniet van die eienaars van TV-kanale, radiostasies of dagblaaie,
het gewoonlik ʼn groter kans om sukses te behaal.
Gestel ek bevind myself binne-in
die bogenoemde denkbeeldige land Dystopia waar die meeste mense “goeie” burgers
van die staat is en onnadenkend die heersende ideologie ondersteun. Gestel ek
besef dat die heersersklas nié die welsyn van hul onderdane in ag neem nie en
dat hulle slegs die ideologie gebruik om hul onderdane mee te mislei. Gestel
ook verder dat ek besef dat die meeste onderdrukte onderdane emosioneel sal
reageer teenoor enigiemand wat die geldigheid van hul lewensbeskouing sou
betwyfel. Ek besluit egter dat ek ʼn bydrae wil lewer tot die verbetering van
ten minste sommige mense se lewenskwaliteite. Ek beskik oor oorgenoeg inligting
aangaande die wandade van die heersersklas en die geleidelike vermindering van
die meeste mense se vryhede en agteruitgang van hul lewensomstandighede. Daar
is wel ʼn internet beskikbaar waarop ek my inligting kan plaas en waartoe die
meeste mense toegang het. Hoe sal ek te werk gaan om die inligting aan andere
oor te dra?
Ek kan dit miskien oorweeg om
iets onwettigs in die openbaar te doen ten einde die publiek se aandag te trek.
Voordat ek sou besluit om gewelddadig op te tree deur ʼn terroriste-daad te
pleeg, moet ek besef dat die kanse goed gaan wees dat die meeste mense daarna ontsteld
sal wees daaroor en dat ek in die tronk kan beland. Ek kan ʼn (ondergrondse?)
beweging stig en probeer om soveel as moontlik lede te werf, of ek kan probeer
om ten minste ʼn klein groepie mense te bereik met my boodskap. In albei
laasgenoemde gevalle moet ek nog steeds ʼn manier vind om my boodskap aan mense
oor te dra deur individueel met elkeen te gesels en/of my boodskap op die
internet te versprei. Ek weet dat die oorgrote meerderheid dit nie eens
naastenby sal oorweeg om my boodskappe op die internet te lees nie. Ek besef uiteindelik
dat daar weinig kanse is dat ek en my ondersteuners die regering omver sal
werp.
Dit is egter verbasend dat daar
wél mense binne onderdrukkende eenparty-diktature is wat bereid is om die geldigheid
van amptelike ideologieë te betwyfel. Dit dui daarop dat daar tog ʼn mate van
“vrye wil” en uniekheid by mense teenwoordig is wat dalk nié volledig afhanklik
is van die oorweldigende invloed van hul lewensomstandighede of selfs van hul
gene of DNS nie. Kan dit wees dat mense wel ʼn onsterflike siel het wat ʼn vonk van
vrye wil binne-in hulle laat ontstaan – ʼn vonk wat hulle lateraan laat besef
dat die lewe tog op die ou end nie die moeite werd is as mens geen vrye denke
het of jou skeppingsvermoë kan gebruik om die lewe vir jouself en andere meer
interessant en betekenisvol te maak nie? Die Griekse filosoof Sokrates het
tereg duisende jare gelede by sy verhoor gesê: “An unexamined life is not worth living” ...
Vrydag 24 Mei 2013
Die betekenis van die woord “Christen” en die gedurige debatte oor Jesus se opstanding
Soortgelyk aan die woorde “liefde”, “rassisme” en
“transendent”, word die woord “Christen” deur verskillende mense, verskillend
verstaan en misbruik. Fundamentalistiese Christene is geneig om slegs mense wat
glo in Jesus as deel van God Drie-Enig, as “ware” Christene te aanvaar en
sommige van hulle maak nog steeds beswaar teen sogenaamde liberale teoloë wat
nie glo dat die Bybel die Woord van God is en dat Jesus as Seun van God vir
mense se sondes gesterf het nie. Is daar genoegsame getuienis dat die Bybel die
Woord van God is omdat onder andere die geboorte en kruisdood van Jesus baie
jare vantevore in die Ou Testament korrek voorspel is? Is daar 'n duidelike
definisie van die betekenis van die woord “Christen” in die Bybel? Het Jesus,
volgens die beskrywing van sy lewensverhaal in die vier Evangelies, duidelik
gesê dat God Drie-Enig van aard is en dat hyself as Seun van God, deel is van
God Drie-Enig?
Volgens 'n Wikipedia-artikel oor Christenskap [1], glo tradisionele Christene dat Jesus die Seun van
God was en dat Hy vir mense se sondes gesterf het. Volgens dieselfde artikel
glo baie van hulle nog boonop dat gedeeltes van die Ou Testament die geboorte
en kruisdood van Jesus korrek voorspel het. Daar is egter mense wat hulself
deesdae Christene noem, maar wat nié hierdie presiese geloofsbeginsels as
waarin tradisionele Christene glo, aanvaar nie. “Liberale” Christene verwerp
dikwels die teïstiese godsbeskouing sowel as die idee dat Jesus beide volledig
God én Mens was. Hulle reken die Bybel bevat baie wyshede en dat dit 'n boek is
wat deur mense geskryf is om húlle verstaan van die Goddelike op 'n sekere
manier te verwoord. Hulle beskou hulleself as nog deel van die Christelike
tradisie, maar hulle verwerp die tradisionele dogmas oor o.a. die Drie-Enige
aard van die Goddelike, die erfsondeleer, Jesus se maagdelike geboorte en
fisiese opstanding uit die dood.
Wanneer mens slegs na die Bybel verwys as bron van die
betekenis daarvan om 'n Christen te wees, is dit duidelik dat daar nié 'n
duidelike beskrywing van die woord daarin is nie. Die woord “Christen” verskyn
slegs 3 keer in die Nuwe Testament (Handelinge 11:26, Handelinge 26:28 en 1
Petrus 4:16) en verwys na die volgelinge van 'n Christus. Die
oorspronklike Griekse woord Christos is in hierdie verse gebruik as
vertaling van die Hebreeuse woord Mashiach, wat verwys na ʼn menslike
Messias of gesalfde en beslis nié noodwendig na Jesus as die Seun van God nie.
Daar is dus nêrens ʼn klinkklare definisie van die woord “Christen” in die
Bybel, wat dieselfde betekenis het as die hedendaagse verstaan van ‘n
(tradisionele) Christen as iemand wat glo dat Jesus as Seun van God (en
gevolglik Jesus as “deel” van God Drie-Enig), vir alle mense se sondes aan die
kruis gesterf het nie. Wanneer hierdie feit aan tradisionele Christene
bekendgemaak word, gebruik hulle dikwels die verskoning dat die Bybel as geheel
gelees en verstaan moet word alvorens “ware” Christenskap begryp kan word. Dit
herinner nogal aan Totius se soortgelyke kommentaar in 'n 1944 referaat “Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid”,
waarin hy aangevoer het dat die hele Bybel in plaas van slegs sekere verse,
genoegsame bewys daarvan is dat Apartheid in ooreenstemming met die Bybel is!
'n Godsdienstige Fundamentalis is volgens my definisie,
'n persoon wat glo in beide 'n persoonlike God waarmee mense 'n persoonlike
verhouding kan hê, én dat slegs sommige mense bestem is om eendag die ewige
lewe te beërwe. 'n Christen-fundamentalis is 'n Godsdienstige Fundamentalis wat
nog boonop onder andere glo dat slegs mense wat Jesus as hul persoonlike
Verlosser en Saligmaker aanvaar, die ewige lewe kan beërwe, dat Jesus gebore is
uit die maagd Maria, dat Hy fisies uit die dood opgestaan het en dat die Bybel
die onfeilbare “Woord van God” is. 'n Christen-fundamentalis glo gevolglik dat
Jesus deel is van God Drie-Enig en dat alle mense in “sonde ontvang en gebore
is”. Heelwat van die Calvinistiese geloofsbeginsels wat deur die meeste
Afrikaanssprekende mense die afgelope dekades aanvaar is, is deel van hierdie
Christen-fundamentalistiese lewensbeskouing. Christene wat beweer dat die Bybel
die letterlike Woord van God is, het al dikwels sekere dele letterlik verstaan,
terwyl hulle ander dele metafories of allegories interpreteer. So kan selfs
Jong-Aarde Kreasioniste beweer dat die aarde letterlik in ses dae geskep is,
terwyl hulle die steniging van ontroue vroue waarna die Ou Testament verwys,
allegories verstaan.
Sommige tekste van sekere Bybelvertalings is verander om
kerklike dogmas te ondersteun. Een van die bekendste voorbeelde is natuurlik in
die ou 1953 Afrikaanse Bybelvertaling 1 Johannes 5:7 “Want daar is drie wat
getuig in die hemel: die Vader, die Woord [Jesus?] en die Heilige Gees, en die
drie is een...”. Hierdie gedeelte is deur Rooms-Katolieke vertalers
ingevoeg om die dogma oor die Drie-Eenheid te ondersteun. Dit is as deel van
die 1953 Afrikaanse vertaling, vertaal vanuit die ou (Rooms-Katoliek
geïnspireerde) Latynse Vulgaat-Bybel. Dieselfde teks is afwesig in die 1983
Afrikaanse Bybelvertaling, omdat daar nié Griekse afskrifte van die boek
bestaan wat die teks bevestig nie, slegs Latynse afskrifte waarop die
Vulgaat-Bybel gebaseer is. Die Nuwe Testament van die 1983-vertaling is
hoofsaaklik vertaal vanuit die ou Griekse gedeeltes van die Nuwe Testament. Ek
het die Engelse King James Version-Bybel (KJV) se vertaling van hierdie vers vergelyk met ander latere Engelse
Bybelvertalings en tot die gevolgtrekking gekom dat die KJV nogal in baie opsigte
ooreenstem met die Afrikaanse 1953-vertaling, terwyl die meeste ander Engelse
Bybels heelwat ooreenstem met die Afrikaanse 1983-vertaling.
Tradisionele Christene beweer dikwels dat sekere
gedeeltes van die Ou Testament die latere geboorte en/of kruisdood van Jesus
voorspel. Een van die belangrikste verse waarna hulle verwys is Jesaja 7:14: “Daarom
sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n
seun baar en hom Immánuel noem.” Die woord “maagd” is gebruik as vertaling
van die oorspronklike Hebreeuse woord ha-almah.
Joodse skrifgeleerdes wys egter daarop dat die Hebreeuse woord betulah
dikwels in die Bybel gebruik word om na 'n maagd te verwys, soos bv. in Genesis
24:16, Exodus 22:17-17, Levítikus 21:14 en Deuteronómium 22:13-21, en dat die
Hebreeuse woord almah beter vertaal sou gewees het as “jong vrou”. 'n
Verdere probleem is dat Jesus volgens tradisionele Christelike idees, van
geboorte af sonder sonde was, maar dat daar in verse Jesaja 7:15-16 verwys word
na dieselfde seuntjie wat eers lateraan in sy lewe sal “weet om te verwerp
wat kwaad is en te kies wat goed is”! Hierdie was oënskynlik 'n mislukte
poging van sommige tradisionele Christene om die Ou Testament profeties te laat
verwys na hul idees oor die Goddelike status en maagdelike geboorte van Jesus.
Blykbaar het Jesaja 7:14 in elk geval oorspronklik verwys na 'n gebeurtenis wat
alreeds plaasgevind het en daarom was dit nié 'n profetiese uitspraak nie.
Jesaja 53:3-6 is 'n belangrike gedeelte in die Ou
Testament wat na bewering die latere
kruisiging van Jesus voorspel het. Die skrywer(s) van hierdie boek
verwys egter op verskeie plekke vroeër in die boek (Jesaja 41:8-9, Jesaja 44:1,
Jesaja 44:21 en Jesaja 49:3) duidelik na die volk Israel en nié na iemand wat
baie jare later gebore sou word en vir die sondes van mense sou sterf nie.
Jesaja 53:10 “As hy [derdepersoonsverwysing na Israel in die nabye toekoms]
sy lewe as skuldoffer gee, sal hy [derdepersoonsverwysing na Israel van 'n
latere era] 'n nageslag hê en nog lank lewe”, wys daarop dat die volk
Israel 'n lang lewe sowel as 'n nageslag sal hê. Dit was beslis nie soortgelyk
aan die verloop van Jesus se lewe volgens die vier Evangelies nie! Christelike
apologete beweer dikwels dat hierdie vers allegories verstaan behoort te word
en dat dit profeties na beide Jesus se opstanding én volgelinge verwys. Hulle
verduidelik egter nie waarom die res van die boek Jesaja letterlik verstaan
behoort te word, terwyl slegs hierdie vers allegories verstaan moet word nie...
Fundamentalistiese Christene het dus al verskeie pogings
aangewend om die hele Bybel as een harmonieuse geheel voor te hou waarbinne
daar hoegenaamd geen teenstrydighede is nie en waarin daar nog boonop
profetiese voorspellings is wat lateraan bewaarheid is. Op hierdie manier het
hulle méér oënskynlike gesag verleen aan hulle meesterverhaal aangaande 'n
Messias wat uit die volk Israel gebore is en wie se geboorte en kruisdood nog
boonop in die Ou Testament, wat kwansuis óók Goddelik-geïnspireerd is,
profeties voorspel is. Daar is egter basiese verskille tussen die Ou en Nuwe
Testament wat daarop dui dat dit twee verskillende geloofs-tradisies
verteenwoordig. Die Ou Testament handel hoofsaaklik oor die verhouding tussen
die volk Israel en hul veronderstelde stamgod Jahwe, terwyl die Nuwe Testament
handel oor die lewe van Jesus en hoe dit álle mense van alle volke en nasies
beïnvloed.
Daar word selde na die Duiwel verwys in die Ou Testament,
juis omdat die God van die Ou Testament duidelik verantwoordelik was vir beide
die Goeie én die Bose. Die God van die Nuwe Testament was op 'n manier minder
“direk” verantwoordelik vir die Bose, omdat die Duiwel meer prominent is in die
Nuwe Testament en hy hierdie “bose rol” van God oorgeneem het. Latere Christene
het beweer dat die ou slang van die Genesisverhaal eintlik die Duiwel was, maar
hierdie bewering het heel waarskynlik meer te make met die latere erfsondeleer
van die tradisionele Christene waarvolgens alle mense in sonde in ontvang en
gebore is en waarvolgens sondaars slegs deur die “bloed van Jesus” redding kan
ontvang. Die wraakgierige en rassistiese “oog vir 'n oog en tand vir 'n tand”-eienskappe
van die God van die Ou Testament verskil ook heelwat van Jesus se “draai jou
ander wang”-lewensfilosofie. Die Ou Testament se “Israel vs. die res van die
wêreld” is dus lateraan opgevolg deur die Nuwe Testament se “gelowiges vs.
ongelowiges”.
Daar is vir baie jare al bespiegel oor die bestaan of
nie-bestaan van 'n persoon met die naam Jesus wat gelewe het gedurende die
eerste eeu van die “Gemene Era” (GE). Prof. Sakkie Spangenberg beskryf
verskillende perspektiewe op die lewe van Jesus in sy uitstekende boek Jesus
van Nasaret. Die vier Evangelies van die Nuwe Testament verskil ook van
mekaar wat betref die presiese handelinge en omstandighede rondom Jesus se
lewe. Die tradisionele kerke het hul eie dogmatiese idees oor Jesus as deel van
God Drie-Enig, terwyl die ortodokse Jode beweer dat hy 'n gewone mens was wat
op 'n manier gerebelleer het teen die heersende Joodse tradisies van sy tyd.
Deesdae is daar skrywers soos o.a. Robert M. Price, Acharya S. (D.M. Murdock)
en Timothy Freke wat reken dat die Jesus-verhaal hoofsaaklik gebaseer is op
verhale van vroeëre mitiese helde soos Mithras, Dionysus en Horus wat ook
soortgelyk aan Jesus, baie jare gelede as gode 'n heldedood gesterf het. Lede
van die Jesus Seminar in Amerika het op hul eie manier probeer vasstel hoeveel
van die woorde wat Jesus na bewering volgens die vier Evangelies gespreek het,
wérklikwaar deur hom gespreek is. Die Joodse geskiedkundige Josefus het
blykbaar “terloops” na Jesus verwys in een van sy skrywes. Terwyl baie
geskiedkundiges dit as ʼn vervalsing van sy oorspronklike werk beskou, is daar
sommige Christen-apologete wat reken dat dit getuienis is vir die bestaan van ʼn
Jesus wat wonderwerke verrig het. Dis insiggewend dat daar geen ander
“amptelike” Joodse of Romeinse geskrifte is wat verwys na ʼn persoon met die
naam Jesus wat wonderwerke verrig het en wat gekruisig is nie. Die vier
evangelies sowel as Paulus se boeke is volgens baie Bybelwetenskaplikes, eers
ná die jaar 50 GE geskryf en kan dus nie as verslae van ooggetuies beskou word
nie. Die vier evangelies weerspreek mekaar nog boonop betreffende die
besonderhede van gebeure net na die beweerde opstanding van Jesus! Die probleem
is dat hierdie dinge so lank gelede plaasgevind het, dat dit bykans onmoontlik
is om vas te stel wat die werklike verloop van gebeure was. Soortgelyk aan
bespiegelinge oor die ontstaan van lewe op aarde, die ouderdom van die aarde,
die moontlike bestaan van 'n “super-beskawing” in Atlantis en die moontlikheid
van buiteruimtelike wesens se betrokkenheid by die ontstaan van die mensdom, is
bespiegelinge oor die lewe van Jesus, hoofsaaklik op geloof gebaseer.
Daar is al heelwat gedebatteer oor die beweerde fisiese
opstanding van Jesus ná sy kruisdood. Dr. Abel Pienaar en dr. Mike Licona het
op 26 September 2011 by die Sanlam Ouditorium van die Universiteit van Pretoria
aan so 'n debat deelgeneem. Nadat ekself aan 'n “post-mortem” debat daaroor
deelgeneem het op die ou webblad van die Nuwe Hervorming Netwerk, het ek
besluit om my gedagtes agter mekaar te kry betreffende die verskillende
sienswyses omtrent (1) die verskille tussen die eienskappe van geskiedkundige
getuienis en dié van die natuurwetenskappe, (2) die waarskynlikheid van die
werklikheid al dan nie van dit wat getuies meer as 'n duisend jaar gelede (in
visioene?) “gesien” het, (3) die betroubaarheid van die bronne wat na daardie
getuies verwys, sowel as (4) die moontlike motiewe van die opstellers van
daardie bronne. Hier is my gevolgtrekkings:
· Daar is wesenlike verskille tussen die
empiriese metodes wat deur natuurwetenskaplikes gebruik word om die geldigheid
van hul teorieë te bewys, en die metodes wat geskiedkundiges gebruik om die
waarskynlikheid dat sekere gebeure wel plaasgevind het, aan te toon.
Geskiedkundiges kan wel (sover menslik moontlik is) 100% seker wees van iets
wat in die verlede plaasgevind het, indien hulle die gebeurtenis met hul eie
sintuie direk of “indirek” waargeneem het. Omdat hulle gewoonlik afhanklik is
van geskrifte en ander mense se getuienis betreffende wat ook al baie jare
gelede plaasgevind het, kan hulle nié 100% seker wees dat daardie gebeurtenis
wel plaasgevind het nie, juis omdat hulle die gebeurtenis nie self direk of
indirek waargeneem het nie. Met indirekte waarneming verwys ek byvoorbeeld na
wanneer ek 'n “lewendige uitsending” van die president van die land op tv
waarneem. Ek kan seker wees dat Jacob Zuma as president van die land 'n week
gelede iets op tv gesê het, omdat ek 'n week gelede na daardie uitsending gekyk
het. In die eerste hoofstuk van Richard Dawkins se nuutste boek The Magic of
Reality, vra hy die vraag oor hoe mense seker kan wees of iets “werklik” is
of nie. Die eerste metode waarna hy verwys, is direkte sintuiglike waarneming.
Die tweede metode is indirekte waarneming, soos wanneer iemand gebruikmaak van
'n teleskoop of mikroskoop. Die derde metode is die modelle wat wetenskaplikes
gebruik om die geldigheid van hul teorieë aan te toon. 'n “Goeie” model is 'n
model wat die uitkoms van 'n eksperiment gewoonlik korrek kan voorspel. 'n
Model wat byvoorbeeld voorspel dat 'n glasvenster sal breek indien iemand 'n
groterige klip daarna gooi, kan as 'n goeie model beskou word.
· Ons kan redelik seker daarvan wees dat daar
sommige mense is wat dinge waarneem wat hulle as “werklik” beskou, terwyl
daardie dinge eintlik nié werklik is nie en gevolglik ook nie objektief deur
ander mense waargeneem kan word nie. 'n Hallusinasie kan vir 'n skisofreen of
iemand wat op die punt is om 'n migraine-aanval te kry, net so werklik wees as
wat 'n droom vir 'n “normale” mens werklik is gedurende 'n droom. Ons kan met
'n skisofreen praat wat onlangs so 'n hallusinasie gehad het, maar ons kan nié
direk met die mense praat wat meer as 'n duisend jaar gelede 'n visioen gehad
het nie.
· Terwyl daar baie teoloë en predikante is wat
reken dat die Nuwe Testamentiese geskrifte betroubare bronne is en dat dit
geskiedkundige gebeure betroubaar weergee, kan ek beslis nié met sekerheid sê
dat veral die sinoptiese evangelies die gebeure rondom Jesus se lewe 100% korrek
weergee nie. Ek glo beslis ook nie dat ons dit wat daarin geskrywe staan “soos
'n kind” moet glo en aanvaar omdat dit kwansuis die onfeilbare Woord van God is
nie! Selfs al ontdek ons 'n amptelike dokument wat 1 500 jaar gelede deur
Romeinse amptenare geskryf is, kan ons nog steeds nie 100% daarvan seker wees
dat die inhoud van die dokument korrek is nie, juis omdat die Romeine ook
feilbare mense was en omdat hulle sekere subjektiewe vooroordele gehad het.
Mike Licona sou meer eerlik gewees het indien hy sou erken het dat sy idees op
(blinde) geloof gebaseer is omdat selfs hy ook nie 100% daarvan seker kan wees
dat Jesus wel fisies uit die dood opgestaan het nie!
· Die opstellers van die Nuwe Testamentiese
geskrifte het van sekere heidense mites oor gode wat as mense inkarneer en
daarna 'n heldedood gesterf het, gebruikgemaak om 'n “nuwe” storie te skryf wat
ook elemente van die Jode se godsdiens ingesluit het. Miskien was selfs hulle
verwysing na ooggetuies wat Jesus na sy dood gesien het, maar net 'n opgemaakte
storie om meer geldigheid aan hulle nuwe meesterverhaal te verleen? Het hulle
enige politieke motiewe gehad om dit te doen, of was dit maar net 'n manier om vinnig mag en
geld in die hande te kry? Is dit moontlik dat Paulus al die tyd getrou gebly het
aan sy Joodse geloof en dat hy slegs die Christelike verhaal uitgedink het om
wraak te neem op die Romeine?
Miskien besef
sommige Fundamentalistiese Christene, soos bv. die Dialoog-organiseerders [2] van die
voorgaande debat, dat daar heelwat ánder Christene is wat begin vrae vra oor
die geldigheid van sekere tradisionele Christelike dogmas en miskien is
sodanige debatvoering hoofsaaklik deel van hul evangelisasieveldtog om die
“twyfelaars” te laat verstaan dat dit nie so “erg” is om te twyfel nie, maar
dat hulle tog op die ou end moet terugkeer na die “waarhede” van die
tradisionele Christendom?
Prof. David J.P. Haasbroek van UNISA het in 1999 ʼn boek
met die naam The Mythological and
Political origins of Christianity laat publiseer waarin hy die ontstaan van
die vroeë Christendom uitstekend uiteengesit het. Hierdie boek is ongelukkig
nie baie bekend nie. Die skrywer verduidelik hoe die vroeë Christendom baie
gebruike, soos o.a. Kersfees, van die ou heidense godsdienste op ʼn manier
“oorgeërf” het. Gevolglik was dit meer aanvaarbaar onder die “heidene” en is
dit makliker misbruik as ʼn godsdiens wat die inwoners van die Romeinse Ryk
verenig het. Veral Keiser Konstantyn het “slim” te werk gegaan deur die
biskoppe te dwing om hulle dogma oor die Drie-Eenheid amptelik te formuleer,
waarna dit lateraan ontwikkel het tot ʼn Romeinse staatsgodsdiens.
Dit wil dus voorkom asof die standbeeld van tradisionele
Christenskap eintlik voete van klei het. Nêrens in die Evangelies is daar
byvoorbeeld 'n duidelike uitspraak deur Jesus self waarin hy verklaar dat hý
beide volledig God én Mens is, of dat hy deel is van God Drie-Enig en vir mense
se sondes gesterf het nie. Bewerings dat die ganse Bybel Goddelik-geïnspireerd
is omdat dele van die Ou Testament Jesus se geboorte en kruisdood profeties
voorspel, is gebaseer op 'n latere Christelike wanvertaling van ou Hebreeuse
woorde wat heelwat anders deur Ortodokse Jode verstaan word. Verwysings na
Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke en fisiese opstanding uit die dood, is
dus hoofsaaklik geloofsgebaseerd - sonder genoegsame historiese getuienis.
Wanvertalings van oorspronklike Hebreeuse en Griekse woorde en byvoegings van
gedeeltes in latere vertalings van die Nuwe Testament om die tradisionele
dogmas van kerke te ondersteun, word vandag nog deur fundamentaliste gebruik om
die geldigheid van hul geloof te ondersteun. Die tradisionele Christelike
meesterverhaal kan as 'n tipe “ietsie-van-alles”-godsdiens beskou word wat
elemente van beide die Hebreeuse én heidense Griekse en Romeinse godsdienste,
bevat. Dit is 'n kombinasie van beide 'n jarelange Hebreeuse tradisie wat
daartoe bygedra het om die Israeliete vir honderde jare as sogenaamde
uitverkore volk van God te verenig, én heidense idees aangaande 'n god wat as
mens inkarneer en dan 'n heldedood sterf vir “gewone” mense.
Donderdag 21 Maart 2013
Gevolgtrekkings van my boek "Idees het gevolge"
Idees wat mense het
aangaande die eienskappe van die Goddelike sowel as idees oor die werklikheid
of onwerklikheid van sodanige God of Goddelike, het dikwels 'n bepalende
invloed op hul idees aangaande die lewe. Hulle gevolglike lewensbeskouinge of
paradigmas het met die verloop van tyd verander en beïnvloed o.a. hul idees oor
die lewe na die dood, alledaagse besluite wat hulle neem t.o.v. hul
werksomstandighede; asook hul woorde en optredes teenoor ander mense. Terwyl
die geldigheid van enige van die drie godsbeskouinge wat in hierdie boek
bespreek word, nog nooit met behulp van enige empiriese wetenskaplike metodes
voldoende bewys kon word nie, kan die gevolge van mense se verskillende
godsbeskouinge, wél ontleed word. Ekstremistiese Moslems se godsdienstige
opvattings motiveer hulle byvoorbeeld soms om sekere dade te pleeg in die naam
van hul geloof.
Daar is verskeie
godsbeskouinge soos o.a. teïsme, deïsme, panteïsme, panenteïsme, agnostisisme
en ateïsme, maar daar is veral drie uiteenlopende godsbeskouinge naamlik
teïsme, ateïsme en panenteïsme, waarop ek in hierdie boek fokus en waarvan die
onderskeie ondersteuners dikwels heelwat van mekaar verskil betreffende hul
idees oor ander aangeleenthede. Terwyl die ondersteuners van enigeen van die
spesifieke godsbeskouinge, nié noodwendig volledig met mekaar saamstem
betreffende hul idees oor die lewe ná die dood nie, is dit tog 'n feit dat die
mééste van hulle min of meer dieselfde idee daaroor het. So byvoorbeeld glo die
meeste teïste dat sommige mense bestem is om die ewige lewe te beërwe en dat
álle ander mense bestem is vir die ewige verdoemenis. Die woord
“lewensbeskouing” verwys in hierdie boek spesifiek na drie uiteenlopende
beskouinge oor (1) die eienskappe van die Goddelike, (2) die eienskappe van die
mens en (3) die verhouding tussen die Goddelike en die mens. Die onderskeie
kenmerke en voor- en nadele van elkeen van die drie lewensbeskouinge word
breedvoerig met mekaar vergelyk.
Ek verwys na belangrike
redes waarom 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing uiteindelik die meeste voordele
vir alle mense sal inhou - voordele gedurende hul aardse lewens én gedurende
die voortsetting van hul bewuste bestaan ná die afsterwe van hul fisiese
liggame. Ek bespreek Godsdienstige Fundamentaliste en Materialistiese Ateïste
se idees oor die wetenskap en die politiek en vergelyk dit met 'n Nuwe Spirituele
benadering. Terwyl beide Godsdienstige Fundamentaliste en sommige
Materialistiese Ateïste byvoorbeeld beweer dat “Tyd” lank gelede 'n begin gehad
het en dat die Heelal dus “vanuit niks” deur óf 'n Persoonlike God geskep is,
óf spontaan “vanself” ontstaan het, erken ondersteuners van 'n Nuwe Spirituele
lewensbeskouing die werklikheid van 'n Ongemanifesteerde Absolute waaruit alle
dinge voortgevloei het.
Kerkleiers se onvermoë
en/of onwilligheid om lewensbelangrike aspekte aan te spreek en genoegsaam te
verduidelik aan hul Afrikaanssprekende lidmate, word onder die vergrootglas
geplaas. Hul geloof in 'n letterlike verstaan van die Bybel as Woord van God en
hul aanvaarding van die drie Formuliere van Eenheid, het sommige kerkleiers in
die verlede daarvan weerhou om Apartheid te veroordeel op Bybelse gronde,
terwyl baie hedendaagse kerkleiers as ondersteuners van die Belhar Belydenis,
die teenoorgestelde gevolgtrekking maak. Die onlangse aanvaarding van die
Belhar Belydenis deur die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk en die besluite
teen Apartheid deur die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die NH Kerk - beide
in Oktober 2011, is duidelike voorbeelde van die hedendaagse afwatering en
verpolitisering van daardie Afrikaanse kerke. Die Afrikaanse driesuster kerke was vir baie jare
onlosmaaklik deel van die Afrikanerpolitiek en baie kenners is deeglik bewus
daarvan dat lede van die Afrikaner Broederbond 'n beduidende invloed gehad het
op die besluite van die Nasionale Party en dié van sinodes van die Afrikaanse
driesuster kerke. Is dit moontlik dat lede van die Afrikanerbond onlangs 'n
wesenlike invloed gehad het op die besluite van die AS van die NG Kerk en van die
AKV van die NH Kerk? Ek het al heelwat navorsing gedoen oor magtige
belangegroepe se invloed in die wêreldpolitiek en hul samewerking met beide
lede van die Afrikaner Broederbond én korrupte Afrika-leiers en daarom dink ek
dat daar 'n sterk moontlikheid is dat sekere onlangse besluite van Afrikaanse
kerkleiers, deel is van sekere magtige belangegroepe se plan om uiteindelik 'n
diktatoriale eenwêreld-regering en gepaardgaande eenwêreldgodsdiens, te vestig.
Mense wat kritiek lewer
teen gelowe afkomstig vanaf Verre-Oosterse lande, beweer dikwels dat Hindoeïsme
die hoofoorsaak is van die haglike toestande in Indië en dat Boeddhisme die
hoofoorsaak is van Thailand se probleme met politieke geweld, korrupsie,
armoede en die mishandeling van diere. Ánder faktore is egter betrokke by die
bepaling van die lewenskwaliteit van gemeenskappe. Belangrike faktore soos
gemeenskappe se kulturele waardes, omgewingsfaktore en oorgeërfde gene, moet
egter nié uit die oog verloor word nie.
Daar is dus 'n verband tussen aan die een kant iemand se
lewensomstandighede, gene en lewensbeskouing, en aan die ander kant sy/haar
lewenskwaliteit. Indien twee mense dieselfde lewensbeskouing het en een van
hulle sit lewenslank in die tronk, terwyl die ander een in 'n weelderige woning
lewe en baie geld het, sal hul onderskeie lewenskwaliteite tog wesenlik van
mekaar verskil. Nadat iemand se fisiese liggaam gesterf het is daar onsterflike
“nie-materiële” geheue wat deel word van sy/haar volgende lewe binne 'n ander
liggaam en/of dimensie. Dit het gevolglik 'n invloed op daardie persoon se
toekomstige gemoedstoestande en lewensbeskouinge. Volgens dr. Rupert Sheldrake
is daardie geheue deel van “morfogenetiese velde”. Mense se lewensbeskouinge en
lewenskwaliteite word dus beïnvloed deur beide die status (kwaliteit) van hul
onsterflike gedeeltes wat voorheen “binne” ander fisiese liggame gelewe het, én
hul latere lewenservaringe.
Waar die meeste
hedendaagse godsdienstige mense en liberale, sekulêre humaniste glo dat alle
mense “gelyk” geskape is, verwys ek na die werklikheid van oorgeërfde genetiese
verskille tussen mense - genetiese verskille wat verband hou met wesenlike
verskille tussen mense t.o.v. hul skeppings- en intelligensievermoëns. Ek
beskou demokrasie dus nié as noodwendig die “beste” regeringsvorm nie. Sommige
lesers sal miskien wonder waarom ek aan die een kant beweer dat demokrasie nié
noodwendig die beste regeringsvorm is nie, terwyl ek aan die ander kant kritiek
lewer teen die destydse onderdrukking van nie-blankes deur die blanke regering
van die ou Suid-Afrika. Die onderdrukking tydens die ou Suid-Afrika was moreel
verkeerd veral omdat daar misbruik gemaak is van die goedkoop arbeid van
nie-blankes, terwyl die welstand van blanke regeringsleiers voorrang geniet het
ten koste van dié van die nie-blanke bevolking. Baie van die regeringsleiers
van Suid-Afrika vóór 1994, was dus nié oorywerig om die lewenskwaliteit van die
meeste Suid-Afrikaners te verbeter nie - soortgelyk aan die meeste
ANC-regeringsleiers daarna. 'n Koning, diktator of keiser kan egter homself
beywer vir die verbetering van die welsyn van sy onderdane, sónder om
noodwendig aan hulle gelyke politieke regte toe te staan. Miskien was Napoleon
Bonaparte 'n goeie voorbeeld van so 'n alleenheerser? Die Boeddhistiese keiser
Asoka het honderde jare gelede as alleenheerser homself ook oënskynlik beywer
vir die verbetering van sy onderdane se welsyn. Bykans enige regeringsvorm is dus
vir my aanvaarbaar, solank regeringsleiers hulself beywer vir die verbetering
van hul onderdane se welsyn en lewenskwaliteit.
Wat is die wenslikheid
daarvan om gereeld met ondersteuners van 'n ander lewensbeskouing te debatteer?
Is sinvolle gesprekvoering met alle mense moontlik, of is dit meestal slegs
moontlik met mense wat nié beweer dat húlle “weet” dat hulle reg is nie? Ek het
vir ongeveer drie jaar (2009-2011) deelgeneem aan verskeie debatte met beide fundamentalistiese
Christene en “dogmatiese” ateïste. Ek het soms baie wys geword a.g.v. daardie
debatte en was soms gefrustreerd. Ek het uiteindelik 'n stadium bereik waarop
ek besef het dat die voortsetting van sinvolle gesprekvoering tussen
voorstanders van uiteenlopende lewensbeskouinge, dikwels baie moeilik is.
Wanneer een persoon se lewenswaardes so uitermate van 'n ander persoon s'n
verskil, kan hulle selfs 'n stadium bereik waarop een van hulle op persoonlike
vlak met beledigende aanmerkings begin en dit dan geen verdere sin maak om
hoegenaamd enigiets van waarde vir so 'n persoon te sê nie. Ek het ook besef
dat mense dikwels persoonlike beledigings maak wanneer hulle argumente begin
verloor. 'n Mislukte poging tot sinvolle gesprekvoering kan selfs 'n
gewelddadige uiteinde tot gevolg hê. Verskille tussen mense betreffende hul
godsdienstige en politieke idees, het al dikwels tot geweld gelei, waarvan daar
talle voorbeelde is vanuit die geskiedenis. Wanneer 'n fundamentalistiese
Christen byvoorbeeld daarop aandring dat dit goed en reg is dat die persoon wat
van hom verskil, eendag hel toe sál gaan indien sy nooit bereid sal wees om
haar opinie te verander nie, is daar klaarblyklik geen toegeeflikheid by hom
betreffende die moontlikheid dat die “ongelowige” vrou dalk reg kan wees nie en
lei so 'n situasie dikwels tot die beëindiging van sinvolle gesprekvoering
tussen hulle. Wanneer 'n filosofiese materialis daarop aandring dat mense wat
in dinge glo waarvan hulle die geldigheid nié kan bewys nie, óf geestelik
versteurd óf “dom” is, kan dit ook lei tot die beëindiging van sinvolle
gesprekvoering tussen daardie materialis en 'n fundamentalistiese Christen of
tussen dieselfde materialis en enige ander persoon wat in 'n Goddelike of in
die moontlikheid van lewe na die dood glo.
Gemeenskapslede se
lewensbeskouinge, oorerflike gene en lewensomstandighede, is van dié
belangrikste faktore wat 'n bepalende invloed op hul onderskeie
lewenskwaliteite het. Die geldigheid van hierdie stelling kan ontleed word deur
dit van toepassing te maak op die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Wat die
lewensomstandighede van Suid-Afrikaners betref, is daar ongelukkig 'n
voortslepende gespanne verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe as
gevolg van die geskiedenis van Apartheid, die huidige agteruitgang van veral
infrastrukture en die voortdurende rassediskriminasie, o.m. “Affirmative
Action” en “Broad Based Black Economic Empowerment”, deur die huidige
ANC-regering. Daar is ook 'n al groterwordende skeidslyn tussen die super ryk
elite en die werklose massa. Terwyl Calvinisme die lewenswaardes van baie
Suid-Afrikaners vóór 1994 heelwat beïnvloed het, het baie Suid-Afrikaners se
lewenswaardes sedertdien meer sekulêr, ateïsties en materialisties geword. Die
noodlottige kombinasie van (1) die gespanne verhoudinge tussen
bevolkingsgroepe, (2) 'n al groterwordende kloof tussen ryk en arm mense, sowel
as (3) die nadelige gevolge van die lewensbeskouinge van beide Christelike
Fundamentalisme en Materialistiese Ateïsme, kan daartoe bydra dat die meeste
Suid-Afrikaners 'n mistroostige toekoms te wagte kan wees. Dit is ironies dat
dié dinge wat die afgelope paar dekades die “heiligste” was vir veral Afrikaanssprekende
Suid-Afrikaners, naamlik hul (1) gebruikmaking van goedkoop nie-blanke arbeid,
(2) tradisionele Calvinistiese lewensbeskouing en (3) sport beheptheid, op die
ou end die grootste bydrae sal lewer tot hul eie ondergang.
Nie-menslike diere het
géén lewensbeskouing nodig om hulle te help om in harmonie met die omgewing
saam te leef nie. Die aanwas van 'n plant- of dierespesie word in toom gehou
deur ánder spesies wat daardie spesie as 'n bron van voedsel gebruik. Diere
vreet mekaar gewoonlik op omdat hulle honger is, en nié omdat dit vir hulle 'n
vorm van vermaak of hebsug is nie. Die ekologie vorm dus 'n harmonieuse geheel
“buite” die mens. Wanneer mense se verbruik van aardse hulpbronne sodanig
toeneem, veral ook as gevolg van die toename in bevolkingsgetalle, is daar 'n
groot moontlikheid dat hulle die aardse hulpbronne tot so 'n mate kan misbruik
dat hulle hul eie voortbestaan daardeur in gevaar kan stel. Mense benodig dus
'n lewensbeskouing wat aan hulle riglyne sal verskaf in verband met die regte
optredes teenoor mekaar en teenoor ander lewensvorme. Indien die
lewensbeskouinge wat die grootste invloed op die meeste mense het, sodanig van
aard is dat dit die mens as die “kroon van die skepping” beskou, of hul
tydelike en kortsigtige materiële behoeftes as van die grootste belang ag, kan
dit hulle wel vinniger lei op die pad na selfvernietiging. “Spiritueel-bewuste”
mense wat glo dat hulle langer as 'n honderd jaar van nou af wéér op aarde sal
inkarneer en dat dit daarom belangrik is dat hulle dan goeie
lewensomstandighede sal hê, behoort ook méér bereidwillig te wees om te strewe
na die bewaring van die omgewing - meer bereidwillig as byvoorbeeld filosofiese
materialiste wat glo dat alle mense slegs een enkele aardse lewe het.
Veronderstel ons besluit
om eksperimenteel vas te stel watter van die drie lewensbeskouinge waarna in
hierdie boek verwys word, die meeste voordele vir álle lewende wesens sal
inhou. Een groep bestaande uit 1000 mense, het 'n
Godsdienstig-Fundamentalistiese lewensbeskouing waarvolgens die meeste mense
bestem is vir die ewige verdoemenis. Die tweede groep van 1000 mense het 'n
Materialisties-Ateïstiese lewensbeskouing waarvolgens daar géén lewe na die
dood is nie en ook géén God wat “kwaaddoeners” uiteindelik sal straf nie. Die
derde groep van 1000 mense het 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing waarvolgens
alle mense en alle ander lewende wesens 'n gedeelde Goddelike kern het en
waarvolgens baie mense weer oor méér as 'n honderd jaar op aarde sal inkarneer
“binne” ander fisiese liggame. Hoeveel lede van die eerste en tweede groepe sal
bereid wees om die nodige opofferings te maak sodat álle lewende wesens se
lewenskwaliteite meer as 'n honderd jaar van nou af, béter sal wees as dié van
die meeste lewende wesens tans op aarde? Hierdie eksperiment sal heel
waarskynlik konsekwent aantoon dat die meeste lede van die derde groep bereid
sal wees om sulke opofferings te maak, terwyl die meeste lede van die eerste en
tweede groepe, nié bereid sal wees om dit te doen nie. Sodoende kan wetenskaplik
aangetoon word dat daar 'n groter kans is dat 'n Nuwe Spirituele
lewensbeskouing iemand sal aanmoedig om opofferings te maak wat sal lei tot die
verbetering van die welsyn van die meeste lewende wesens. Soortgelyke
eksperimente kan gebruik word om ánder voor- en nadele van die drie
lewensbeskouinge met mekaar te vergelyk.
Gestel jy is nog steeds
onseker oor watter een van die voorgaande drie lewensbeskouinge die naaste is
aan jou eie lewensbeskouing aangaande God, die mens, die hiernamaals en die
verhouding tussen God en mens. Indien jou toekomstige vreugde in die
hiernamaals vir jou belangriker is as jou lewensgeluk gedurende jou huidige
aardse bestaan en indien jy glo dat die Almagtige Skepper aan jóú kant is omdat
Hy alle mense wat nié “min of meer” met jou
saamstem nie, vir ewig hel toe sal stuur, dan is jou lewensbeskouing
nader aan Godsdienstige Fundamentalisme. Indien dit vir jou egter onbelangrik
is wat jou eie status en die status van die meeste ander lewende wesens oor
meer as 'n honderd jaar van nou af sal wees, en indien dit vir jou belangriker
is om die lewe “hier-en-nou” sover moontlik te geniet, dan is jou
lewensbeskouing nader aan dié van Materialistiese Ateïsme. Indien jy glo en
hoop dat jou eie bewussyn en dié van alle ander mense en lewende wesens oor 'n
honderd jaar of langer, “nader” aan die Goddelike sal wees, dan is jou eie
lewensbeskouing nader aan dié van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing.
Ondersteuners van die
Nuwe Spirituele lewensbeskouing is van staanspoor af bekommerd oor die uiteindelike
lotsbestemming van elke lewende wese op aarde. Omdat hulle glo dat elke lewende
wese 'n gedeelde Goddelike essensie het en die potensiaal het om uiteindelik
verlos te word van 'n beperkte aardse bestaan en “een te word” met die Goddelike,
strewe hulle gevolglik daarna om alle lewende wesens se lewenskwaliteite
sodanig te verbeter dat hulle vinniger daardie doelwit kan bereik. Indien 'n
aansienlike aantal mense sodanig spiritueel-bewus sou word, sal hulle ook meer
bereid wees om mekaar te help om daardie doelwit te bereik. Godsdienstige
Fundamentaliste wie se hoofprioriteit bekommernisse oor die lotsbestemming van
hulle en hul medegelowiges se siele is en Materialistiese Ateïste wie se
hoofprioriteit die kwaliteit van hul lewens en dié van hul vriende en
naasbestaandes “hiér en nou” is, is van staanspoor af nié so bekommerd oor wat ook
al die uiteindelike lotsbestemming van alle lewende wesens meer as 'n honderd
jaar of langer van nou af gaan wees nie. Die belangrikste stelling wat ek in
hierdie boek by lesers wil tuisbring, is dat alle mense 'n beter kans op 'n
wonderlike toekoms sal hê indien baie van hulle se lewensbeskouinge nader sou
beweeg aan 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing en verder weg van die ander twee
lewensbeskouinge.
Die mensdom beskik oor
'n geweldige potensiaal om van die planeet aarde 'n wonderlike plek te maak
waarbinne almal in liefde en harmonie met mekaar kan saamleef. Mense se
skeppingsvermoëns, hul intellektuele vermoëns en die aarde se natuurlike
hulpbronne, kan gesamentlik 'n daadwerklike bydrae lewer tot die verwesenliking
van daardie ideaal. Indien die invloed van beide Godsdienstige Fundamentalisme
en Materialistiese Ateïsme egter sodanig oorheersend is betreffende die meeste
mense se lewenswaardes, kan dit moontlik lei tot 'n aaklige toekoms waartydens
die meeste mense óf onderdruk en verslaaf kan word deur 'n magtige
“fascistiese” elite, óf selfsugtige, kortsigtige hebsug en verbruikerisme kan
dalk lei tot toekomstige hongersnood en barbarisme. Indien 'n aansienlike
aantal mense egter sou besluit dat die welsyn en vooruitgang van die ganse
planeet aarde, dié belangrikste prioriteit behoort te wees omdat almal van ons
'n gedeelde Goddelike essensie het en indien baie “spiritueel-bewuste” mense 'n
wesenlike invloed kan hê op ander mense se lewenswaardes, sal ons en ons
nageslagte heel waarskynlik 'n wonderlike, utopiese toekoms hê.
Saterdag 09 Februarie 2013
Mistisisme binne die Abrahamitiese geloofs-tradisie
Drie van die bekendste
godsdienste in die wêreld - die Christendom, die Islam en Judaïsme, is deel van
wat bekendstaan as die Abrahamitiese geloofs-tradisie, omdat die Abraham-figuur
'n beduidende rol speel in die geskiedenis van elkeen van hulle. Ander
belangrike gelowe soos o.a. Hindoeïsme, Boeddhisme en Jaïnisme, is deel van die
sogenaamde Oosterse geloofs-tradisie. Alhoewel al die hoofstroomgodsdienste
heelwat van mekaar verskil, is daar tog betekenisvolle ooreenkomste tussen die
esoteriese denkrigtings binne elkeen van hulle. Sommige navorsers beweer dat
baie godsdienstige en spirituele idees duisende jare gelede geïnisieer is deur
geheime groepe bestaande uit “radikale” esoteriese denkers, terwyl outoritêre
godsdienstige organisasies lateraan gestig is deur selfsugtige, magtige
belangegroepe.
Die Jode het 'n eeue-oue
mistieke tradisie waarvan die Kabbala - wat na bewering eers gedurende die 12de
eeu GE ontstaan het, die bekendste is. Kabbaliste se verwysing na Ain Sof
as die Hoogste Werklikheid, het dieselfde betekenis as die teosowe se Parabrahman.
Binne die Joodse tradisie is daar ook heelwat verskillende denkwyses wat wissel
vanaf die Ortodokse Judaïsme, met hul beklemtoning van die uitverkore status
van die Joodse volk (ras?), tot die meer esoteriese denkwyse van die
Kabbala-ondersteuners en beoefenaars.
Die kerkvaders van die
Ortodokse Christendom het een van die vroeë-Christelike groepe bekend as die
Gnostici, as ketters gebrandmerk. Soortgelyk hieraan het die latere Ortodokse
Moslems die esoteriese groepe binne die Islam-tradisie, óók as ketters
gebrandmerk. Die Moslem “Gnostici” soos o.a. die Ismaili Sjiïete en die Soefiete,
glo dat húlle die ware Moslem-tradisie van Mohammed en van die oorspronklike
Moslems, verteenwoordig. Die Soefi “Groot Meester” Ibn Arabi het, soortgelyk
aan die vroeë Libertynse Christene, geglo dat seks as 'n spirituele praktyk
benut kan word.
Soortgelyk aan die vroeë
Christelike Gnostici het die Moslem-Gnostici die “Christus” beskou as alle
mense se gedeelde Christus-bewussyn. Hulle het Jesus se sogenaamde maagdelike
geboorte allegories geïnterpreteer as verteenwoordigend van die siel, terwyl
die besoek van die engel Gabriël aan Maria, vir hulle verwys het na die
beginstadium van die inisiasieproses van die siel. Die bekende Soefi-digter Rumi
het byvoorbeeld geleer dat indien ons onsself kan bevry van identifisering met
die fisiese liggaam, ons “Christusse” sal wees.
Daar word beweer dat
Boeddhiste al in die jaar 200 VGE bedrywig was in die Midde-Ooste. Hulle idees
het veral die Grieke beïnvloed. Jesus se beweerde Bergpredikasie toon ook baie
ooreenkomste met die idees van Hindoes en Boeddhiste. In die jare net voor die
Rooms-Katolieke Kerk magtig geword het, was daar verskeie vroeë-Christelike
groepe wat verskillende opvattings oor Jesus se leringe gehad het. Daardie
groepe en hul idees is deur die latere magtige Rooms-Katolieke onderdruk en hul
geskrifte was vir baie jare moeilik bekombaar. Kerkvaders soos Irenaeus se
eensydige idees aangaande die geloofsoortuigings van daardie “ketters”, was vir
Westerlinge vir baie jare die enigste beskikbare bron van inligting oor die
denke van Christelike Gnostici. Die Nag Hammadi-geskrifte wat in 1945
ontdek is, is deur vroeë-Christene geskryf en bevat egter heelwat alternatiewe,
“nie-Rooms Katolieke” idees oor Jesus.
Sekere feeverhale en
stories was deur die oorspronklike skrywers daarvan, bedoel om allegories verstaan
te word. Hoewel die Rooikappie-verhaal nie eintlik sin maak indien dit
letterlik “verstaan” word nie, was daar tog alreeds derduisende mense wat
daardie verhaal aan hul dankbare kinders oorvertel het. Hoe kan 'n wolf praat
en homself vermom sodat hy amper soos die ouma gelyk het, en hoe kon hy die
ouma heel ingesluk het? Die teosoof Lyman Frank Baum was die skrywer van die Wizard
of Oz verhaal. Hy het drie van die belangrikste karakters in die verhaal
gebruik om op allegoriese wyse na drie belangrike eienskappe van die siel te
verwys. Die lafhartige leeu het na “Wil”
(Atma) verwys, die dom strooiman na “Intelligensie” (Manas) en
die hartelose man van blik, na “Liefde” (Buddhi).
Jesus se beweerde woorde
in Johannes 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na
die Vader behalwe deur My nie”, is deur Ortodokse Christene letterlik
geïnterpreteer asof dit sou beteken dat alleenlik gelowige Christene eendag “Hemel
toe sal gaan”. Protestante verstaan dit byvoorbeeld as volg: “Die Christelike
geloof in Jesus as volledig beide God én Mens, is die enigste Ware Geloof wat
mense na God toe kan lei”. Die
esoteriese verstaan van hierdie Bybel-vers is egter heelwat anders - slegs
mense in wie die Christus-bewussyn volledig manifesteer, is op pad na die
“Vader” (die Ware Goddelike - nié die Joodse stamgod Jahwe van die Ou Testament
nie).
Vrydag 25 Januarie 2013
Wees gedurig bewus van die werklikheid van die Goddelike
Die
lewensbeskouing waarvolgens die lewe basies 'n sinnelose stryd om mag en
oorlewing is, 'n stryd wat gepaardgaan met die sterkere, meer aanpasbare of
meer intelligente wesens wat gedurig die botoon voer, kan beskou word as die
teenoorgestelde van 'n ander lewensbeskouing waarvolgens Liefde die
belangrikste is omdat alle dinge 'n gedeelde essensie het wat hulle in 'n diepere
sin aan mekaar verbind. Mense se geloof in die werklikheid van 'n gedeelde
essensie, motiveer hulle om simpatiek te wees en empatie te hê met swakkere en
onderdrukte mense en diere. Een van die basiese lewenswaardes wat Jesus (indien
hy 'n werklike historiese persoon was) na bewering verkondig het, en wat deel
was van sy Bergpredikasie, was deernis met veral diegene wat deur die
samelewing uitgeskuif is. Hy was besorgd oor prostitute en melaatses en die
Samaritane teen wie sommige rassistiese Israeliete/Jode gediskrimineer het. Sy
lewenswaardes was heelwat anders as dié van die samelewing waarbinne hy gelewe
het en is nog steeds heelwat anders as dié van die meeste hedendaagse
postmoderne samelewings.
Mense word dikwels
gekondisioneer om die idee te aanvaar dat die ou lewe maar basies 'n stryd om
oorlewing is en dat hul hoogste prioriteit behoort te wees om na hul eie
belange om te sien - wees wantrouig teenoor andere en verwag altyd van
staanspoor af, die slegste van ander mense. Mense wat so 'n lewensbeskouing
aanvaar, se lewens word dikwels in 'n toenemende mate sinneloos a.g.v. die
invloed wat daardie beskouing het op hul alledaagse houdings en optredes
teenoor andere. Hoe meer jy dus so 'n beskouing aanvaar as die “regte”
lewensbeskouing, hoe meer sinneloos en “leeg” kan jou lewe raak. So 'n
lewenshouding lei tot die verdere vervreemding tussen mense met die
gepaardgaande toenemende eensaamheid wat kenmerkend is van baie mense se lewens
in die postmoderne wêreld. Na my mening is lg. lewensbeskouing een van die
hoofoorsake van selfmoord en selfs van die gesinsmoorde onder blanke
Afrikaners. 'n Man verloor sy werk en voel dat hy nie meer in staat is om vir
sy huisgesin te sorg nie, juis omdat 'n “sterker” mag - sy werkgewer, besluit
het om hom af te dank. Die man is dan verbitterd teenoor die werkgewer en hy
raak dikwels ook verbitterd teenoor die res van die samelewing. Sy gevoel van
magteloosheid en minderwaardigheid ontaard uiteindelik in die grusame moord op
sy onskuldige familielede.
Die
“Wil-tot-Mag” wat die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche beskou het as dié
belangrikste dryfveer in die lewe, lei soms tot 'n voortdurende soeke na méér
mag, rykdomme en aardse plesier ten koste van die ander swakker en “dommer”
mense wat in die pad staan van verterende parasiete - mense wat dikwels voorgee
dat hulle vir andere omgee alleenlik ten einde hul eie selfsugtige doelwitte te
bereik. Die logiese uiteinde van so 'n houding is die vernietiging van selfs
die mense wat alles verteer het wat in hul pad gestaan het, omdat daar
naderhand niks meer oor sal wees om op te teer nie. Ek dink dikwels aan daardie
selfsugtige lewenshouding as die lewensfilosofie van “Ewige Haat”, omdat
daarvolgens nóóit voldoende versoening sal wees tussen lewende wesens nie. Daar
sal dus altyd 'n groter, sterker en/of slimmer lewensvorm wees wat 'n minder
gegoede lewensvorm vertrap en verteer. Dit ontaard in 'n wegbeweeg vanaf die
Goddelike en kan as die teenoorgestelde beskou word van 'n Liefdevolle
lewenshouding wat altyd die welsyn, vooruitgang en lewenskwaliteit van andere
in ag neem.
Ons kan die invloed
van 'n selfsugtige lewe beter weerstaan indien ons sou glo dat versoening
tussen lewende wesens wél moontlik is omdat daar 'n gedeelde Goddelike “kern”
tussen hulle is. Dit sal daarom ook méér sin maak om vir andere om te gee,
omdat alle lewende wesens dan sodoende saam nader kan “beweeg” aan eenwording
met die Goddelike. Korttermyn opofferings ter wille van 'n beter toekoms, die
skepping van kunswerke wat deur ander mense waardeer kan word, barmhartige dade
en aktiewe deelname aan die verbetering van mense se lewensomstandighede, maak
daarom op die ou end méér sin as 'n koue, leë en basies sinnelose lewe wat
hoofsaaklik gewy word aan die bevrediging van die begeertes van die ego.
Wysgere het vir
baie jare verwys na die tweestryd tussen die Ware Self en die ego-gedeelte van
elke mens. Die Boeddha (indien selfs hy óók 'n historiese persoon was!) het verwys
na elke mens se verknogtheid (Engels: attachment) aan beide verganklike
materiële dinge én aan emosionele bande met ander mense. Verknogtheid weerhou
mense van die nastreef na die hoër dinge in die lewe. Hoër dinge soos o.a. die verwesenliking
van bevryding en bewuswording van die Goddelike. Die Switserse psigoanalis en
wysgeer, Carl Gustav Jung, het verwys na elke mens se “masker” of persona
wat gedurig op die voorgrond tree en sodoende elke mens se Ware Self onderdruk.
Mense behoort te aanvaar dat die ego nié jou Ware Self is nie, maar wel 'n
produk van elke individu se kulturele agtergrond, oorgeërfde gene en
lewensomstandighede. Sodoende kan hulle die eerste stap neem na die uiterlike
manifestering van die Goddelike essensie “binne-in” hulle. Verskeie denkers het
alreeds heelwat oor laasgenoemde proses gepraat en geskryf en dit is daarom nie
my doel met hierdie skrywe om weereens as't ware die wiel te “herontdek” nie.
Lees en kyk gerus in verband daarmee die boeke en DVD’s van o.a. Eckhart Tolle,
Wayne Dyer, Ken Wilber, Deepak Chopra, Karen Armstrong en Louise Hay.
In plaas
daarvan om verknog te raak aan beide tydelike materiële dinge en emosionele
bande met ander mense, behoort ons in toenemende mate “verknog” te raak aan die
Goddelike. Daardie “edele” verknogtheid sal ons motiveer om nie slegs onsself
nie, maar ook die res van die wêreld as't ware nader te “beweeg” na die
Goddelike. Deur ons gedagtes en optredes te suiwer, sal ons deur die voorbeelde
wat ons stel, ánder mense meer bewus maak van die werklikheid van die Goddelike
en die gevolglike nastreef van 'n beter wêreld vir ons almal. 'n Wêreld
gekenmerk deur beide onvoorwaardelike naasteliefde én lewensomstandighede wat
aan almal genoeg geleenthede bied om te kan mediteer en rustig te fokus op en
te filosofeer oor die werklikheid en bewuswording van die Goddelike, is beslis
méér wenslik as 'n wêreld waarbinne haat, naywer, afguns en vrees, oorheersend
is. Baie denkers het alreeds die verband tussen 'n beter wêreld én elkeen se
reis op pad na die Goddelike, baie beter as ek verduidelik. Onlangse voorbeelde
was o.a. Mahatma Gandhi, Jiddu Krishnamurti en die huidige Dalai Lama. Die Amerikaanse
sielkundige Abraham Maslow het met sy “hiërargie van behoeftes” aangetoon dat
mense se basiese behoeftes éérs bevredig moet word alvorens hulle meer tyd kan
spandeer aan selfverwesenliking. Spiritualiteit, oftewel elkeen se unieke reis
na die Goddelike, is egter ook deel van elke mens se selfverwesenliking.
Baie mense
bestee soveel tyd aan óf die najaag van geldelike rykdomme, óf sport en
ontspanning, óf vermaak en die lees en kyk van oppervlakkige nuusberigte, dat
hulle min tyd “maak” vir die bestudering van godsdiens, spiritualiteit of selfs
vir die bestudering van internasionale politiek. Dit is nié so eenvoudig dat
jou gedagtes en lewenshouding op die ou end 100% sal bepaal wat in jou lewe
gaan plaasvind nie, maar dit is wel belangrik dat dit waarop jy fokus en waaroor
jy dikwels dink, tog 'n belangrike invloed het op die verloop van jou lewe.
Iemand wat byvoorbeeld gedurig wraakgierige gedagtes koester teenoor 'n ander
persoon, sal meer geneig wees om daardie ander persoon leed aan te doen.
Soortgelyk daaraan het iemand wat gereeld fokus op die werklikheid van die
Goddelike, 'n groter kans om vroeër eenwording met die Goddelike te bereik as
iemand anders wat heeldag sit en wonder op watter maniere hy andere kan
misbruik en hoe makliker en vinniger hy kan geldmaak.
Mense se denke
het 'n bepalende invloed op die besluite wat hulle neem t.o.v. hul toekomstige
dade en woorde. Elke persoon se goeie of slegte Karma word beïnvloed
deur alle goeie en slegte woorde of dade van daardie persoon. Elke mens se Karma
tydens hiérdie lewe, bepaal vervolgens die status en kwaliteit van hul siele in
'n volgende lewe. Mens hoor dikwels dat iemand daarna verwys dat ryk mense nié
hul rykdomme met hulle kan saamneem wanneer hulle die dag sterf nie. Mense se
onsterflike dele (siele) wat voortbestaan na die afsterwe van hul ou fisiese
liggame, word egter beïnvloed deur ál hulle denke en dade. Sodoende evolueer die
onsterflike siel van elke mens vanaf een inkarnasie in 'n fisiese liggaam na 'n
volgende inkarnasie, totdat dit uiteindelik die hoogste Ideaal verwesenlik.
Teken in op:
Plasings (Atom)