Idees wat mense het
aangaande die eienskappe van die Goddelike sowel as idees oor die werklikheid
of onwerklikheid van sodanige God of Goddelike, het dikwels 'n bepalende
invloed op hul idees aangaande die lewe. Hulle gevolglike lewensbeskouinge of
paradigmas het met die verloop van tyd verander en beïnvloed o.a. hul idees oor
die lewe na die dood, alledaagse besluite wat hulle neem t.o.v. hul
werksomstandighede; asook hul woorde en optredes teenoor ander mense. Terwyl
die geldigheid van enige van die drie godsbeskouinge wat in hierdie boek
bespreek word, nog nooit met behulp van enige empiriese wetenskaplike metodes
voldoende bewys kon word nie, kan die gevolge van mense se verskillende
godsbeskouinge, wél ontleed word. Ekstremistiese Moslems se godsdienstige
opvattings motiveer hulle byvoorbeeld soms om sekere dade te pleeg in die naam
van hul geloof.
Daar is verskeie
godsbeskouinge soos o.a. teïsme, deïsme, panteïsme, panenteïsme, agnostisisme
en ateïsme, maar daar is veral drie uiteenlopende godsbeskouinge naamlik
teïsme, ateïsme en panenteïsme, waarop ek in hierdie boek fokus en waarvan die
onderskeie ondersteuners dikwels heelwat van mekaar verskil betreffende hul
idees oor ander aangeleenthede. Terwyl die ondersteuners van enigeen van die
spesifieke godsbeskouinge, nié noodwendig volledig met mekaar saamstem
betreffende hul idees oor die lewe ná die dood nie, is dit tog 'n feit dat die
mééste van hulle min of meer dieselfde idee daaroor het. So byvoorbeeld glo die
meeste teïste dat sommige mense bestem is om die ewige lewe te beërwe en dat
álle ander mense bestem is vir die ewige verdoemenis. Die woord
“lewensbeskouing” verwys in hierdie boek spesifiek na drie uiteenlopende
beskouinge oor (1) die eienskappe van die Goddelike, (2) die eienskappe van die
mens en (3) die verhouding tussen die Goddelike en die mens. Die onderskeie
kenmerke en voor- en nadele van elkeen van die drie lewensbeskouinge word
breedvoerig met mekaar vergelyk.
Ek verwys na belangrike
redes waarom 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing uiteindelik die meeste voordele
vir alle mense sal inhou - voordele gedurende hul aardse lewens én gedurende
die voortsetting van hul bewuste bestaan ná die afsterwe van hul fisiese
liggame. Ek bespreek Godsdienstige Fundamentaliste en Materialistiese Ateïste
se idees oor die wetenskap en die politiek en vergelyk dit met 'n Nuwe Spirituele
benadering. Terwyl beide Godsdienstige Fundamentaliste en sommige
Materialistiese Ateïste byvoorbeeld beweer dat “Tyd” lank gelede 'n begin gehad
het en dat die Heelal dus “vanuit niks” deur óf 'n Persoonlike God geskep is,
óf spontaan “vanself” ontstaan het, erken ondersteuners van 'n Nuwe Spirituele
lewensbeskouing die werklikheid van 'n Ongemanifesteerde Absolute waaruit alle
dinge voortgevloei het.
Kerkleiers se onvermoë
en/of onwilligheid om lewensbelangrike aspekte aan te spreek en genoegsaam te
verduidelik aan hul Afrikaanssprekende lidmate, word onder die vergrootglas
geplaas. Hul geloof in 'n letterlike verstaan van die Bybel as Woord van God en
hul aanvaarding van die drie Formuliere van Eenheid, het sommige kerkleiers in
die verlede daarvan weerhou om Apartheid te veroordeel op Bybelse gronde,
terwyl baie hedendaagse kerkleiers as ondersteuners van die Belhar Belydenis,
die teenoorgestelde gevolgtrekking maak. Die onlangse aanvaarding van die
Belhar Belydenis deur die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk en die besluite
teen Apartheid deur die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die NH Kerk - beide
in Oktober 2011, is duidelike voorbeelde van die hedendaagse afwatering en
verpolitisering van daardie Afrikaanse kerke. Die Afrikaanse driesuster kerke was vir baie jare
onlosmaaklik deel van die Afrikanerpolitiek en baie kenners is deeglik bewus
daarvan dat lede van die Afrikaner Broederbond 'n beduidende invloed gehad het
op die besluite van die Nasionale Party en dié van sinodes van die Afrikaanse
driesuster kerke. Is dit moontlik dat lede van die Afrikanerbond onlangs 'n
wesenlike invloed gehad het op die besluite van die AS van die NG Kerk en van die
AKV van die NH Kerk? Ek het al heelwat navorsing gedoen oor magtige
belangegroepe se invloed in die wêreldpolitiek en hul samewerking met beide
lede van die Afrikaner Broederbond én korrupte Afrika-leiers en daarom dink ek
dat daar 'n sterk moontlikheid is dat sekere onlangse besluite van Afrikaanse
kerkleiers, deel is van sekere magtige belangegroepe se plan om uiteindelik 'n
diktatoriale eenwêreld-regering en gepaardgaande eenwêreldgodsdiens, te vestig.
Mense wat kritiek lewer
teen gelowe afkomstig vanaf Verre-Oosterse lande, beweer dikwels dat Hindoeïsme
die hoofoorsaak is van die haglike toestande in Indië en dat Boeddhisme die
hoofoorsaak is van Thailand se probleme met politieke geweld, korrupsie,
armoede en die mishandeling van diere. Ánder faktore is egter betrokke by die
bepaling van die lewenskwaliteit van gemeenskappe. Belangrike faktore soos
gemeenskappe se kulturele waardes, omgewingsfaktore en oorgeërfde gene, moet
egter nié uit die oog verloor word nie.
Daar is dus 'n verband tussen aan die een kant iemand se
lewensomstandighede, gene en lewensbeskouing, en aan die ander kant sy/haar
lewenskwaliteit. Indien twee mense dieselfde lewensbeskouing het en een van
hulle sit lewenslank in die tronk, terwyl die ander een in 'n weelderige woning
lewe en baie geld het, sal hul onderskeie lewenskwaliteite tog wesenlik van
mekaar verskil. Nadat iemand se fisiese liggaam gesterf het is daar onsterflike
“nie-materiële” geheue wat deel word van sy/haar volgende lewe binne 'n ander
liggaam en/of dimensie. Dit het gevolglik 'n invloed op daardie persoon se
toekomstige gemoedstoestande en lewensbeskouinge. Volgens dr. Rupert Sheldrake
is daardie geheue deel van “morfogenetiese velde”. Mense se lewensbeskouinge en
lewenskwaliteite word dus beïnvloed deur beide die status (kwaliteit) van hul
onsterflike gedeeltes wat voorheen “binne” ander fisiese liggame gelewe het, én
hul latere lewenservaringe.
Waar die meeste
hedendaagse godsdienstige mense en liberale, sekulêre humaniste glo dat alle
mense “gelyk” geskape is, verwys ek na die werklikheid van oorgeërfde genetiese
verskille tussen mense - genetiese verskille wat verband hou met wesenlike
verskille tussen mense t.o.v. hul skeppings- en intelligensievermoëns. Ek
beskou demokrasie dus nié as noodwendig die “beste” regeringsvorm nie. Sommige
lesers sal miskien wonder waarom ek aan die een kant beweer dat demokrasie nié
noodwendig die beste regeringsvorm is nie, terwyl ek aan die ander kant kritiek
lewer teen die destydse onderdrukking van nie-blankes deur die blanke regering
van die ou Suid-Afrika. Die onderdrukking tydens die ou Suid-Afrika was moreel
verkeerd veral omdat daar misbruik gemaak is van die goedkoop arbeid van
nie-blankes, terwyl die welstand van blanke regeringsleiers voorrang geniet het
ten koste van dié van die nie-blanke bevolking. Baie van die regeringsleiers
van Suid-Afrika vóór 1994, was dus nié oorywerig om die lewenskwaliteit van die
meeste Suid-Afrikaners te verbeter nie - soortgelyk aan die meeste
ANC-regeringsleiers daarna. 'n Koning, diktator of keiser kan egter homself
beywer vir die verbetering van die welsyn van sy onderdane, sónder om
noodwendig aan hulle gelyke politieke regte toe te staan. Miskien was Napoleon
Bonaparte 'n goeie voorbeeld van so 'n alleenheerser? Die Boeddhistiese keiser
Asoka het honderde jare gelede as alleenheerser homself ook oënskynlik beywer
vir die verbetering van sy onderdane se welsyn. Bykans enige regeringsvorm is dus
vir my aanvaarbaar, solank regeringsleiers hulself beywer vir die verbetering
van hul onderdane se welsyn en lewenskwaliteit.
Wat is die wenslikheid
daarvan om gereeld met ondersteuners van 'n ander lewensbeskouing te debatteer?
Is sinvolle gesprekvoering met alle mense moontlik, of is dit meestal slegs
moontlik met mense wat nié beweer dat húlle “weet” dat hulle reg is nie? Ek het
vir ongeveer drie jaar (2009-2011) deelgeneem aan verskeie debatte met beide fundamentalistiese
Christene en “dogmatiese” ateïste. Ek het soms baie wys geword a.g.v. daardie
debatte en was soms gefrustreerd. Ek het uiteindelik 'n stadium bereik waarop
ek besef het dat die voortsetting van sinvolle gesprekvoering tussen
voorstanders van uiteenlopende lewensbeskouinge, dikwels baie moeilik is.
Wanneer een persoon se lewenswaardes so uitermate van 'n ander persoon s'n
verskil, kan hulle selfs 'n stadium bereik waarop een van hulle op persoonlike
vlak met beledigende aanmerkings begin en dit dan geen verdere sin maak om
hoegenaamd enigiets van waarde vir so 'n persoon te sê nie. Ek het ook besef
dat mense dikwels persoonlike beledigings maak wanneer hulle argumente begin
verloor. 'n Mislukte poging tot sinvolle gesprekvoering kan selfs 'n
gewelddadige uiteinde tot gevolg hê. Verskille tussen mense betreffende hul
godsdienstige en politieke idees, het al dikwels tot geweld gelei, waarvan daar
talle voorbeelde is vanuit die geskiedenis. Wanneer 'n fundamentalistiese
Christen byvoorbeeld daarop aandring dat dit goed en reg is dat die persoon wat
van hom verskil, eendag hel toe sál gaan indien sy nooit bereid sal wees om
haar opinie te verander nie, is daar klaarblyklik geen toegeeflikheid by hom
betreffende die moontlikheid dat die “ongelowige” vrou dalk reg kan wees nie en
lei so 'n situasie dikwels tot die beëindiging van sinvolle gesprekvoering
tussen hulle. Wanneer 'n filosofiese materialis daarop aandring dat mense wat
in dinge glo waarvan hulle die geldigheid nié kan bewys nie, óf geestelik
versteurd óf “dom” is, kan dit ook lei tot die beëindiging van sinvolle
gesprekvoering tussen daardie materialis en 'n fundamentalistiese Christen of
tussen dieselfde materialis en enige ander persoon wat in 'n Goddelike of in
die moontlikheid van lewe na die dood glo.
Gemeenskapslede se
lewensbeskouinge, oorerflike gene en lewensomstandighede, is van dié
belangrikste faktore wat 'n bepalende invloed op hul onderskeie
lewenskwaliteite het. Die geldigheid van hierdie stelling kan ontleed word deur
dit van toepassing te maak op die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Wat die
lewensomstandighede van Suid-Afrikaners betref, is daar ongelukkig 'n
voortslepende gespanne verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe as
gevolg van die geskiedenis van Apartheid, die huidige agteruitgang van veral
infrastrukture en die voortdurende rassediskriminasie, o.m. “Affirmative
Action” en “Broad Based Black Economic Empowerment”, deur die huidige
ANC-regering. Daar is ook 'n al groterwordende skeidslyn tussen die super ryk
elite en die werklose massa. Terwyl Calvinisme die lewenswaardes van baie
Suid-Afrikaners vóór 1994 heelwat beïnvloed het, het baie Suid-Afrikaners se
lewenswaardes sedertdien meer sekulêr, ateïsties en materialisties geword. Die
noodlottige kombinasie van (1) die gespanne verhoudinge tussen
bevolkingsgroepe, (2) 'n al groterwordende kloof tussen ryk en arm mense, sowel
as (3) die nadelige gevolge van die lewensbeskouinge van beide Christelike
Fundamentalisme en Materialistiese Ateïsme, kan daartoe bydra dat die meeste
Suid-Afrikaners 'n mistroostige toekoms te wagte kan wees. Dit is ironies dat
dié dinge wat die afgelope paar dekades die “heiligste” was vir veral Afrikaanssprekende
Suid-Afrikaners, naamlik hul (1) gebruikmaking van goedkoop nie-blanke arbeid,
(2) tradisionele Calvinistiese lewensbeskouing en (3) sport beheptheid, op die
ou end die grootste bydrae sal lewer tot hul eie ondergang.
Nie-menslike diere het
géén lewensbeskouing nodig om hulle te help om in harmonie met die omgewing
saam te leef nie. Die aanwas van 'n plant- of dierespesie word in toom gehou
deur ánder spesies wat daardie spesie as 'n bron van voedsel gebruik. Diere
vreet mekaar gewoonlik op omdat hulle honger is, en nié omdat dit vir hulle 'n
vorm van vermaak of hebsug is nie. Die ekologie vorm dus 'n harmonieuse geheel
“buite” die mens. Wanneer mense se verbruik van aardse hulpbronne sodanig
toeneem, veral ook as gevolg van die toename in bevolkingsgetalle, is daar 'n
groot moontlikheid dat hulle die aardse hulpbronne tot so 'n mate kan misbruik
dat hulle hul eie voortbestaan daardeur in gevaar kan stel. Mense benodig dus
'n lewensbeskouing wat aan hulle riglyne sal verskaf in verband met die regte
optredes teenoor mekaar en teenoor ander lewensvorme. Indien die
lewensbeskouinge wat die grootste invloed op die meeste mense het, sodanig van
aard is dat dit die mens as die “kroon van die skepping” beskou, of hul
tydelike en kortsigtige materiële behoeftes as van die grootste belang ag, kan
dit hulle wel vinniger lei op die pad na selfvernietiging. “Spiritueel-bewuste”
mense wat glo dat hulle langer as 'n honderd jaar van nou af wéér op aarde sal
inkarneer en dat dit daarom belangrik is dat hulle dan goeie
lewensomstandighede sal hê, behoort ook méér bereidwillig te wees om te strewe
na die bewaring van die omgewing - meer bereidwillig as byvoorbeeld filosofiese
materialiste wat glo dat alle mense slegs een enkele aardse lewe het.
Veronderstel ons besluit
om eksperimenteel vas te stel watter van die drie lewensbeskouinge waarna in
hierdie boek verwys word, die meeste voordele vir álle lewende wesens sal
inhou. Een groep bestaande uit 1000 mense, het 'n
Godsdienstig-Fundamentalistiese lewensbeskouing waarvolgens die meeste mense
bestem is vir die ewige verdoemenis. Die tweede groep van 1000 mense het 'n
Materialisties-Ateïstiese lewensbeskouing waarvolgens daar géén lewe na die
dood is nie en ook géén God wat “kwaaddoeners” uiteindelik sal straf nie. Die
derde groep van 1000 mense het 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing waarvolgens
alle mense en alle ander lewende wesens 'n gedeelde Goddelike kern het en
waarvolgens baie mense weer oor méér as 'n honderd jaar op aarde sal inkarneer
“binne” ander fisiese liggame. Hoeveel lede van die eerste en tweede groepe sal
bereid wees om die nodige opofferings te maak sodat álle lewende wesens se
lewenskwaliteite meer as 'n honderd jaar van nou af, béter sal wees as dié van
die meeste lewende wesens tans op aarde? Hierdie eksperiment sal heel
waarskynlik konsekwent aantoon dat die meeste lede van die derde groep bereid
sal wees om sulke opofferings te maak, terwyl die meeste lede van die eerste en
tweede groepe, nié bereid sal wees om dit te doen nie. Sodoende kan wetenskaplik
aangetoon word dat daar 'n groter kans is dat 'n Nuwe Spirituele
lewensbeskouing iemand sal aanmoedig om opofferings te maak wat sal lei tot die
verbetering van die welsyn van die meeste lewende wesens. Soortgelyke
eksperimente kan gebruik word om ánder voor- en nadele van die drie
lewensbeskouinge met mekaar te vergelyk.
Gestel jy is nog steeds
onseker oor watter een van die voorgaande drie lewensbeskouinge die naaste is
aan jou eie lewensbeskouing aangaande God, die mens, die hiernamaals en die
verhouding tussen God en mens. Indien jou toekomstige vreugde in die
hiernamaals vir jou belangriker is as jou lewensgeluk gedurende jou huidige
aardse bestaan en indien jy glo dat die Almagtige Skepper aan jóú kant is omdat
Hy alle mense wat nié “min of meer” met jou
saamstem nie, vir ewig hel toe sal stuur, dan is jou lewensbeskouing
nader aan Godsdienstige Fundamentalisme. Indien dit vir jou egter onbelangrik
is wat jou eie status en die status van die meeste ander lewende wesens oor
meer as 'n honderd jaar van nou af sal wees, en indien dit vir jou belangriker
is om die lewe “hier-en-nou” sover moontlik te geniet, dan is jou
lewensbeskouing nader aan dié van Materialistiese Ateïsme. Indien jy glo en
hoop dat jou eie bewussyn en dié van alle ander mense en lewende wesens oor 'n
honderd jaar of langer, “nader” aan die Goddelike sal wees, dan is jou eie
lewensbeskouing nader aan dié van 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing.
Ondersteuners van die
Nuwe Spirituele lewensbeskouing is van staanspoor af bekommerd oor die uiteindelike
lotsbestemming van elke lewende wese op aarde. Omdat hulle glo dat elke lewende
wese 'n gedeelde Goddelike essensie het en die potensiaal het om uiteindelik
verlos te word van 'n beperkte aardse bestaan en “een te word” met die Goddelike,
strewe hulle gevolglik daarna om alle lewende wesens se lewenskwaliteite
sodanig te verbeter dat hulle vinniger daardie doelwit kan bereik. Indien 'n
aansienlike aantal mense sodanig spiritueel-bewus sou word, sal hulle ook meer
bereid wees om mekaar te help om daardie doelwit te bereik. Godsdienstige
Fundamentaliste wie se hoofprioriteit bekommernisse oor die lotsbestemming van
hulle en hul medegelowiges se siele is en Materialistiese Ateïste wie se
hoofprioriteit die kwaliteit van hul lewens en dié van hul vriende en
naasbestaandes “hiér en nou” is, is van staanspoor af nié so bekommerd oor wat ook
al die uiteindelike lotsbestemming van alle lewende wesens meer as 'n honderd
jaar of langer van nou af gaan wees nie. Die belangrikste stelling wat ek in
hierdie boek by lesers wil tuisbring, is dat alle mense 'n beter kans op 'n
wonderlike toekoms sal hê indien baie van hulle se lewensbeskouinge nader sou
beweeg aan 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing en verder weg van die ander twee
lewensbeskouinge.
Die mensdom beskik oor
'n geweldige potensiaal om van die planeet aarde 'n wonderlike plek te maak
waarbinne almal in liefde en harmonie met mekaar kan saamleef. Mense se
skeppingsvermoëns, hul intellektuele vermoëns en die aarde se natuurlike
hulpbronne, kan gesamentlik 'n daadwerklike bydrae lewer tot die verwesenliking
van daardie ideaal. Indien die invloed van beide Godsdienstige Fundamentalisme
en Materialistiese Ateïsme egter sodanig oorheersend is betreffende die meeste
mense se lewenswaardes, kan dit moontlik lei tot 'n aaklige toekoms waartydens
die meeste mense óf onderdruk en verslaaf kan word deur 'n magtige
“fascistiese” elite, óf selfsugtige, kortsigtige hebsug en verbruikerisme kan
dalk lei tot toekomstige hongersnood en barbarisme. Indien 'n aansienlike
aantal mense egter sou besluit dat die welsyn en vooruitgang van die ganse
planeet aarde, dié belangrikste prioriteit behoort te wees omdat almal van ons
'n gedeelde Goddelike essensie het en indien baie “spiritueel-bewuste” mense 'n
wesenlike invloed kan hê op ander mense se lewenswaardes, sal ons en ons
nageslagte heel waarskynlik 'n wonderlike, utopiese toekoms hê.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking