Drie van die bekendste
godsdienste in die wêreld - die Christendom, die Islam en Judaïsme, is deel van
wat bekendstaan as die Abrahamitiese geloofs-tradisie, omdat die Abraham-figuur
'n beduidende rol speel in die geskiedenis van elkeen van hulle. Ander
belangrike gelowe soos o.a. Hindoeïsme, Boeddhisme en Jaïnisme, is deel van die
sogenaamde Oosterse geloofs-tradisie. Alhoewel al die hoofstroomgodsdienste
heelwat van mekaar verskil, is daar tog betekenisvolle ooreenkomste tussen die
esoteriese denkrigtings binne elkeen van hulle. Sommige navorsers beweer dat
baie godsdienstige en spirituele idees duisende jare gelede geïnisieer is deur
geheime groepe bestaande uit “radikale” esoteriese denkers, terwyl outoritêre
godsdienstige organisasies lateraan gestig is deur selfsugtige, magtige
belangegroepe.
Die Jode het 'n eeue-oue
mistieke tradisie waarvan die Kabbala - wat na bewering eers gedurende die 12de
eeu GE ontstaan het, die bekendste is. Kabbaliste se verwysing na Ain Sof
as die Hoogste Werklikheid, het dieselfde betekenis as die teosowe se Parabrahman.
Binne die Joodse tradisie is daar ook heelwat verskillende denkwyses wat wissel
vanaf die Ortodokse Judaïsme, met hul beklemtoning van die uitverkore status
van die Joodse volk (ras?), tot die meer esoteriese denkwyse van die
Kabbala-ondersteuners en beoefenaars.
Die kerkvaders van die
Ortodokse Christendom het een van die vroeë-Christelike groepe bekend as die
Gnostici, as ketters gebrandmerk. Soortgelyk hieraan het die latere Ortodokse
Moslems die esoteriese groepe binne die Islam-tradisie, óók as ketters
gebrandmerk. Die Moslem “Gnostici” soos o.a. die Ismaili Sjiïete en die Soefiete,
glo dat húlle die ware Moslem-tradisie van Mohammed en van die oorspronklike
Moslems, verteenwoordig. Die Soefi “Groot Meester” Ibn Arabi het, soortgelyk
aan die vroeë Libertynse Christene, geglo dat seks as 'n spirituele praktyk
benut kan word.
Soortgelyk aan die vroeë
Christelike Gnostici het die Moslem-Gnostici die “Christus” beskou as alle
mense se gedeelde Christus-bewussyn. Hulle het Jesus se sogenaamde maagdelike
geboorte allegories geïnterpreteer as verteenwoordigend van die siel, terwyl
die besoek van die engel Gabriël aan Maria, vir hulle verwys het na die
beginstadium van die inisiasieproses van die siel. Die bekende Soefi-digter Rumi
het byvoorbeeld geleer dat indien ons onsself kan bevry van identifisering met
die fisiese liggaam, ons “Christusse” sal wees.
Daar word beweer dat
Boeddhiste al in die jaar 200 VGE bedrywig was in die Midde-Ooste. Hulle idees
het veral die Grieke beïnvloed. Jesus se beweerde Bergpredikasie toon ook baie
ooreenkomste met die idees van Hindoes en Boeddhiste. In die jare net voor die
Rooms-Katolieke Kerk magtig geword het, was daar verskeie vroeë-Christelike
groepe wat verskillende opvattings oor Jesus se leringe gehad het. Daardie
groepe en hul idees is deur die latere magtige Rooms-Katolieke onderdruk en hul
geskrifte was vir baie jare moeilik bekombaar. Kerkvaders soos Irenaeus se
eensydige idees aangaande die geloofsoortuigings van daardie “ketters”, was vir
Westerlinge vir baie jare die enigste beskikbare bron van inligting oor die
denke van Christelike Gnostici. Die Nag Hammadi-geskrifte wat in 1945
ontdek is, is deur vroeë-Christene geskryf en bevat egter heelwat alternatiewe,
“nie-Rooms Katolieke” idees oor Jesus.
Sekere feeverhale en
stories was deur die oorspronklike skrywers daarvan, bedoel om allegories verstaan
te word. Hoewel die Rooikappie-verhaal nie eintlik sin maak indien dit
letterlik “verstaan” word nie, was daar tog alreeds derduisende mense wat
daardie verhaal aan hul dankbare kinders oorvertel het. Hoe kan 'n wolf praat
en homself vermom sodat hy amper soos die ouma gelyk het, en hoe kon hy die
ouma heel ingesluk het? Die teosoof Lyman Frank Baum was die skrywer van die Wizard
of Oz verhaal. Hy het drie van die belangrikste karakters in die verhaal
gebruik om op allegoriese wyse na drie belangrike eienskappe van die siel te
verwys. Die lafhartige leeu het na “Wil”
(Atma) verwys, die dom strooiman na “Intelligensie” (Manas) en
die hartelose man van blik, na “Liefde” (Buddhi).
Jesus se beweerde woorde
in Johannes 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na
die Vader behalwe deur My nie”, is deur Ortodokse Christene letterlik
geïnterpreteer asof dit sou beteken dat alleenlik gelowige Christene eendag “Hemel
toe sal gaan”. Protestante verstaan dit byvoorbeeld as volg: “Die Christelike
geloof in Jesus as volledig beide God én Mens, is die enigste Ware Geloof wat
mense na God toe kan lei”. Die
esoteriese verstaan van hierdie Bybel-vers is egter heelwat anders - slegs
mense in wie die Christus-bewussyn volledig manifesteer, is op pad na die
“Vader” (die Ware Goddelike - nié die Joodse stamgod Jahwe van die Ou Testament
nie).